Efesiërs 3:14-21 – 25 Julie

9de Sondag van Koninkrykstyd

Sing die liedjie “The Love of Jesus is so wonderful” met bewegings. Akkoorde en lirieke ingesluit. Jy kan ook vooraf reël met twee of drie kinders om hulle eie kort gebede te lees of te bid vir die gemeente. Verduidelik dat die dag se teks ’n gebed is wat Paulus vir die gemeente in Efese geskryf het en dat ons ook gereeld vir ons gemeente moet bid. Vra die kinders met wie jy gereël het om voor te gaan in gebed vir die gemeente. Vandag staan ons stil by Efesiërs 3:14-21, wat volg op die eerste deel van hoofstuk 3 waarin Paulus verduidelik die evangelie maak dit moontlik dat almal (Jood en nie-Jood) aan God se volk kan behoort. Almal het deur geloof in Jesus Christus vrye toegang tot God. Die gevolgtrekking dat alle mense deel kan wees van die Godsvolk, dring Paulus op sy knieë. Hy vra in gebed van God self dat dié rykdom van hierdie boodskap in sy volheid nie net deur hulle nie, maar deur alle gelowiges en nog wyer besef sal word. Paulus sal in hoofstuk 4 weer terugkeer om die gelowiges aan te spoor om self ernstig daaraan te werk om die eenheid wat die Gees tussen hulle gesmee het, te handhaaf. Hier is sy fokus egter om dit van God te vra.

Laai af: Word – PowerPoint

Efesiërs 2:11-22 – 18 Julie

8ste Sondag van Koninkrykstyd

Die simbool vir hierdie week is ‘n groot hart. Maak seker dat jy ‘n groot hart iewers in die liturgiese ruimte neersit of op die skerm vertoon. Fokus die kinders se aandag daarop. Die kinders kan elkeen ‘n hartjie ontvang om hulle aan die boodskap te herinner. ‘n Armband van rek met ‘n kraletjiehart aan is iets wat hulle kan dra, maar ‘n papierhartjie sal ook goed werk. Die preekriglyn begin met die teks wat die gordyne oor die eeue, die ewigheid, van God se werk ooptrek. Wat vroeër bedek was, word nou sigbaar en kenbaar in twee kernmomente: die genade wat vir ons bewerk is (verse 1-10) , en ons insluiting in die kerk, die gemeenskap van verlostes (verse 11-22, ons teks). Hierdie boodskap van genade is dat Christus een nuwe mensheid geskep, een nuwe liggaam tot stand gebring het deur sy versoening aan die kruis. Só het Hy die onderlinge vyandskap vernietig. Hy het vrede tussen voormalige vyande gebring – deur Hom het ons almal toegang tot die Vader deur die een Gees. Hierdie boodskap is vandag só belangrik. Dikwels het ons ander sieninge van die kerk se identiteit en roeping. Die kerk is vir ons meer ‘n gevestigde kulturele instelling wat aan ons voorkeure moet voldoen. Ons begin dan vanuit ons voorkeure en ons begrensde begrip oor die kerk te dink. Nee, die Nuwe Testamentiese kerk van Christus is ‘n radikale verskynsel. Hier is voormalige vyande en vreemdelinge saamgevoeg tot een gesin en geestelike gebou. Wanneer ons dit uitleef, beleef ons én ander die krag en verlossing van God.

Laai af: Word – PowerPoint

Efesiërs 1:3-14 – 11 Julie

7de Sondag van Koninkrykstyd

Vir Familietyd, sit ‘n kroon, hierdie week se simbool, neer op ‘n leë stoel by die nagmaalstafel wat lyk asof dit die gasheer se stoel is. Verduidelik dat die kroon se boodskap is dat God, ons Koning wat vir ons sorg, ons nooi om by die tafel te kom aansit. Die preekriglyn begin met ‘n verwysing na ons teks wat in die oorspronklike Grieks een baie lang sin van 202 woorde is! Hierdie lang sin is ‘n skouspel: dit bied panoramiese uitsigte op die landskap van God se groot genade en beskryf omvattend hoe ongelooflik wonderlik dit is om “in Christus” te wees. Die sin is weliswaar ‘n mondvol, tog gaan dit net om God. Ons is van God, deur God, voor God en vir God. Wie oor God wil praat, veral lofprysend met God wil praat, kan eintlik net so praat. Hierdie teks beskryf dus ons identiteit in Christus op grond van die werk van Vader, Seun en Heilige Gees. God het ons geseën met alles wat ons nodig het vir hierdie lewe. Die kern daarvan is dat ons God kan ken en met Hom in verhouding kan lewe. Hy het ons uitgekies om heilig en onberispelik voor Hom te wees. Ons oë moet net al hoe meer daarvoor oopgaan. Daarom eindig die gedeelte in gebed. Om insig in God se genade te ontvang, loop oor in gebede van lof en dank. Hierdie insig is iets waarvoor ons self kan en moet bid. En dit is iets wat ons van God kan verwag – ook vandag.

Laai af: Word – PowerPoint