Markus 10:35-45 – 17 Oktober

21ste Sondag van Koninkrykstyd

Gesels in Familietyd oor diensbaarheid en wat dit beteken om mekaar te dien, soos Jesus vir ons ‘n voorbeeld is. Jy kan ‘n voorskoot gebruik om te gesels oor maniere waarop ons mekaar kan dien. Jy kan Rebecca St James se lied Here’s the way gebruik, wat gaan oor mense wat almal graag die eerste beurt wil hê. Diensbaarheid is om te sê dis eerste jou beurt (gebaseer op die teks dat die eerste laaste sal wees en die laaste eerste). Daar is ook ander opsies – soos ‘n spaghetti lepel wat die regte “tool” vir die regte taak is, of ‘n gesprek ook belangrikheid, of die belangrikheid om te “pass” in rugby. Dit sal ‘n goeie inleiding verskaf vir die preekriglyn wat werk met ‘n perspektief op die verwoestende gevolge van leierskap wat fokus op die voordele, eer en status van die leiers, eerder as die versorging van God se mense en God se aarde. In die era van staatskaping sien ons dit al te helder geïllustreer. In hierdie teksgedeelte leer Jesus ons God se bedoeling met leierskap. Ons leer verstaan watter soort leierskap God se goedkeuring wegdra. Jesus is ‘n voorbeeld hiervan.

Laai af: Word – PowerPoint

Markus 10:17-31 – 10 Oktober

20ste Sondag van Koninkrykstyd

Jy kan in Familietyd uitbrei oor die “oog van die naald”. Daar is ook inligting oor kamele. Die preekriglyn plaas Markus eers binne konteks. Volgens die beste getuienis wat ons het, het Markus hierdie evangelie in Rome geskryf na die martelaarsdood van Paulus en Petrus. Dan brei ons uit oor een van die sentrale temas in die Markusevangelie, dié van Dissipelskap. Markus beklemtoon dat dissipels van Jesus drie dinge doen: hulself verloën, hulle kruis opneem, en Jesus navolg of selfs naboots. In hierdie gedeelte word die kenmerke uitgebeeld in Jesus se opdrag dat die jongman eerstens homself moet verloën deur van sy besittings ontslae te raak, tweedens sy kruis moet opneem, en laastens Christus moet volg. Uiteindelik vra Jesus van die ryk jongman méér as afstanddoening van sy besittings. Jesus gee aan hom die opdrag om sy rykdom onder die armes te verdeel. Jesus vra vir meer as net ‘n tydelike goeie daad. Hy vra ‘n totale en permanente hartsverandering. Jesus sê sy verhouding met die armes moet verander – om hulle te help, ook om met hulle te identifiseer. Dit kon moontlik bydra tot die man se smart, bedroefdheid en oënskynlike onvermoë om te doen wat Jesus vra. Wat Jesus vra, is ‘n keuse téén rykdom, status en mag as basis vir sy identiteit. Jesus daag die jongman uit tot ekonomiese geregtigheid. Die finansiële, sosiale en politieke koste daarvan, is egter vir hom té groot. Die koninkryk van God konfronteer ons dus deur hierdie verhaal met ‘n visie van ‘n lewe en identiteit wat heeltemal onversoenbaar is met soveel van ons voorveronderstellings oor rykdom, voorregte en selfbelang.

Laai af: Word – PowerPoint

Markus 10:2-16 – 3 Oktober

19de Sondag van Koninkrykstyd

Kinders sal natuurlik baie daarvan hou om te hoor dat Jesus spesiaal lief is vir hulle! Jy kan hulle gewoon daaraan herinner deur die tweede deel van die Skriflesing vir hulle uit te lig. Vandag se teks handel oor die huwelik en oor kinders. Dit is twee temas wat ons almal na aan die hart lê. In die tyd waarin ons leef is beide die huwelik en die posisie van kinders dikwels in die gedrang. Dit is asof ons nie meer weet hoe om langtermyn verbintenisse te sluit nie – veral nie in die huwelik wat bedoel is as ‘n durende verbintenis nie. Die slagoffers hiervan is dikwels kinders en vroue. Deur die “hardheid van julle harte” is dit dikwels brose mense wat aan die kortste end trek. Naas die Covid-pandemie is geslagsgeweld en geweld teen kinders ‘n ewe erge pes in Suid-Afrika. Dit is dus ‘n tydige teks uit die Here se Woord om te hoor, te oordink en te doen.

Laai af: Word – PowerPoint