Efesiërs 4:25-5:2 – 8 Augustus
11de Sondag van Koninkrykstyd
John Stevens stel voor dat jy vir Familietyd fokus op Ef 5:1 – Volg dan die voorbeeld van God as geliefde kinders. Sommige Engels vertalings praat van “immitate”. Daar is allerhande lekker maniere waarop jy kan gesels oor iemand se voorbeeld volg. Jy kan “Simon Says” speel, waar almal jou voorbeeld moet volg – maar nét wanneer jy sê “Simon says”. Of julle kan op sekere maniere aantrek en mense namaak: jy kan ‘n plastiek tiara opsit en ‘n prinses namaak; ‘n kind met ‘n toga op ‘n preekstoel; iemand in ‘n Superman mantel, ens. Dan kan julle gesels oor hoe ons God se voorbeeld volg – deur lief te hê soos God liefhet. Probeer aan praktiese kind-vriendelike voorbeelde dink, soos tafel dek, vir iemand waai, ens. Jy kan ook gesels oor al die reëls waarvolgens ‘n mens moet leef. Jy kan bv lekker gesels oor die reëls by die skool of die Covid-veiligheidsreëls. Dan kan jy verwys na die “reëls” van die fokusteks wat in eenvoudige kindertaal in hierdie bydrae vertaal is. Die preekriglyn werk met die lied van C. Austin Miles as invalshoek: I come to the garden alone. Die lied is ‘n ongelooflike raak beskrywing van die ervaring wat ‘n mens het as jy in ‘n noue gemeenskap met die Here wandel. En dít is die roeping van elke kind van God. Dít is die deel van elke kind van God. Om in ‘n ononderbroke gemeenskap met God te lewe. Maar, dié lied van Miles roep twee ander verhale oor tuine in die Bybel in herinnering. Die tuin van Eden waar dié gemeenskap met God verlore geraak het. En die tuin van Josef op Golgota waar Jesus die gemeenskap met God deur sy opstanding herstel het. Die een tuin is ‘n verhaal van verlies. Die ander tuin ‘n verhaal van vreugde. Hierdie twee tuine help ons om ons teks verstaan. Paulus gee vir ons ‘n prentjie van God se droom vir ons. Hy wil die vrees vir Hom weens ons sonde wegneem en ons in die vreugde van sy teenwoordigheid laat wandel. Hy wil met ons ononderbroke gemeenskap hê. Hy wil die skuld en skande van ons ou mens verander sodat ons in die nuwe lewe kan wandel in alle waarheid en heiligheid. Hy wil die beeld van God wat in ons beskadig is deur die sonde herstel en ons maak soos Hyself is, sonder sonde, heilig, onbesproke. Daarom moedig Paulus ons aan: “Ja, trek die nuwe mens aan wat in geregtigheid en ware heiligheid na God se beeld geskep is.” (4:24). Ons prentjie van Christenwees moet wees om “soos God” te wees, om God se navolgers te wees, om soos Hy lief te hê, om soos Hy alles wat sleg is te haat en te leef vir die goeie, die opbouende, die verheffende. Dít wat ons in Eden verloor het, en op die opstandingsmôre terug gekry het, dít moet ons doelwit wees, om herskep te word na die beeld van God, in ware geregtigheid, in ware heiligheid, trouens, in die waarheid, soos Paulus dit hier uitspel.