Spreuke 22:1-2, 8-9, 22-23 – 5 September

15de Sondag van Koninkrykstyd

Alexander, Who used to be Rich Last Sunday deur Judith Viorst is ‘n heerlike storie. Dit gaan nie oor die omsien na armes nie, maar help mense om na te dink oor hoe ons met geld werk. ‘n Mens kan die storie maklik verkort en ook aanpas vir ons konteks. Hier is die storie lekker hoorbaar, terwyl die prente op hierdie video oulik lyk. Carolyn Brown stel voor dat ‘n mens net op een of twee van die gesegdes fokus. Sy stel vers 2 voor. Sy stel voor dat jy foto’s van ‘n ryk en arm kind wys en gesels oor die verskille tussen hulle. Sluit dan af met die gedagte dat hulle albei God se kinders is, dat God hul albei liefhet. Die preekriglyn begin met ‘n inleiding oor Spreuke as deel van die wysheidsliteratuur in die Bybel, saam met Job en Prediker. Die boek bevat poësie wat soos ander poëtiese boeke (Job en Hooglied) gelees kan word. Die wysheid van Spreuke gaan oor hoe om ‘n goeie lewe te lei. Dit is wysheid wat van geslag tot geslag oorgelewer is. Hierdie wysheid, wat deur Israel se leermeesters versamel is, is gebaseer op ervaring en waarneming, eerder as op direkte openbaring. Dit wys ‘n mens hoe om voor God reg te lewe. Die wysheid dat elkeen – ryk en arm – voor God gelyk is, was waarskynlik toe net so in konflik met die bestaande kultuur van die tyd as vandag. Vir die lesers was dit nodig om aan die wysheid herinner te word dat rykdom nie ‘n teken van die Here se seën of spesiale sorg is nie. Elkeen se status is voor God gelyk. In ‘n wêreld waar daar ‘n magsbalans ten gunste van die rykes was, moes hierdie gelykstelling voor God radikaal gewees het.  Die verse waarop vandeesweek se teks fokus, laat die klem val op die tema van armoede en rykdom en sosiale en ekonomiese geregtigheid. Daar is vir God ‘n verband tussen rykdom en armoede en wysheid as eerbied vir God te ondersoek. Daarom is deernis met arm en hulpelose mense ‘n teken van wysheid, nie net omdat dit vir hulle iets beteken nie, maar omdat jy daarmee aan die kant van die Here gaan staan. God is op ‘n besondere manier die God van die armes en hulpeloses.

Laai af: Word – PowerPoint

Hooglied 2:8-13 – 29 Augustus

14de Sondag van Koninkrykstyd

Met behulp van ‘n plakkaat of ‘n foto, wys vir die kinders in Familietyd ‘n mens se liggaam (anatomie, skelet, spiere). Vertel vir hulle dat die Here elke deel van ons lyf gemaak het. Die Here het mooi beplan toe Hy ons geskep het. Elke spier, elke orgaan, elke been en elke ander liggaamsdeel het ‘n doel. Ons kan ons lywe gebruik om te oefen, dan word ons sterker en vinniger. Ons kan ons verstand gebruik om te leer. Die Here wil hê ons moet ons lywe gebruik om Hom te eer. Maar ons kan ons lywe ook verkeerd gebruik. Soos wanneer ons ons lywe gebruik om ander mense seer te maak of te na te kom, of wanneer ons ons eie lywe met slegte gewoontes seermaak. Ons respekteer ons lywe; daarom dra ons klere. Ons maak sekere dele van ons lywe toe uit respek. Ons hoef nie skaam te wees vir ons lywe nie. God het elke deeltjie van ons gemaak. Ons moet onthou dat ons lywe aan ons behoort, en as iemand iets aan ons lywe doen wat ons ongemaklik laat voel, mag ons sê: “Nee!” Ons liggame is tempels; daarom moet ons ons lywe mooi beskerm. Dit is ‘n goeie inleiding vir die preekriglyn oor ons teks, Hooglied 2:8-17, wat handel oor die bedwelming van die liefde en beskerming in die liefde. Dit handel oor die liefde tussen ‘n man en vrou. Die liefde is sterker as enige teenkanting of omstandigheid. In Hooglied sien ons hoe die vrou dagdroom oor haar minnaar en hoe die liefde hulle hele lewe in beslag neem. Hulle droom oor mekaar, fantaseer oor mekaar en is seksueel aangetrokke tot mekaar. Dit is nie wellus nie, nee, dit is opregte liefde waar fisiese aantrekking ‘n wesenlike rol speel. Die vrou se gedigte sluit nie net haar eie gedagtes in nie, maar ook die woorde van die man in haar lewe. En dit is ‘n pragtige beskrywing aan die een kant van die bedwelmende impak van die liefde, sowel as aan die ander kant die behoefte aan beskerming in die liefde.

Laai af: Word – PowerPoint

Efesiërs 6:10-20 – 22 Augustus

13de Sondag van Koninkrykstyd

Daar is verskillende bydraes oor die wapenrusting wat jou sal help om die Familietyd te beplan. Die verskillende voorbeelde beklemtoon die Bron van krag wat met die wapenrusting geïllustreer word. Dit is God wat vir ons ‘n uitrusting gee wat ons help om God se liefde uit te leef in die wêreld, al is die wêreld nie aan ons kant nie. Ons hoef nie bang te wees vir enigiets wanneer ons hierdie uitrusting wat God vir ons gegee het, aantrek nie. Die preekriglyn verdiep die gedagtes oor die stryd waarin ons verkeer. In ‘n preek van prof. Flip Theron skryf hy: “Wie kies vir Christus, moet onder geen illusie verkeer nie: Hy is ‘n spesiale skyf vir ‘die vurige pyle van die Bose’ (v 16); hy meld hom aan vir oorlog ‘teen die wêreldheersers van die duisternis van hierdie eeu teen die bose geeste in die lug’ (v 12).” Daar is egter ‘n groter werklikheid wat ons moed gee vir die stryd. Dit is dat Christus aan die kruis die Bose oorwin het. Ons staan dus vas in die oorwinning wat reeds behaal is.

Laai af: Word – PowerPoint