Spreuke 22:1-2, 8-9, 22-23 – 5 September

15de Sondag van Koninkrykstyd

Alexander, Who used to be Rich Last Sunday deur Judith Viorst is ‘n heerlike storie. Dit gaan nie oor die omsien na armes nie, maar help mense om na te dink oor hoe ons met geld werk. ‘n Mens kan die storie maklik verkort en ook aanpas vir ons konteks. Hier is die storie lekker hoorbaar, terwyl die prente op hierdie video oulik lyk. Carolyn Brown stel voor dat ‘n mens net op een of twee van die gesegdes fokus. Sy stel vers 2 voor. Sy stel voor dat jy foto’s van ‘n ryk en arm kind wys en gesels oor die verskille tussen hulle. Sluit dan af met die gedagte dat hulle albei God se kinders is, dat God hul albei liefhet. Die preekriglyn begin met ‘n inleiding oor Spreuke as deel van die wysheidsliteratuur in die Bybel, saam met Job en Prediker. Die boek bevat poësie wat soos ander poëtiese boeke (Job en Hooglied) gelees kan word. Die wysheid van Spreuke gaan oor hoe om ‘n goeie lewe te lei. Dit is wysheid wat van geslag tot geslag oorgelewer is. Hierdie wysheid, wat deur Israel se leermeesters versamel is, is gebaseer op ervaring en waarneming, eerder as op direkte openbaring. Dit wys ‘n mens hoe om voor God reg te lewe. Die wysheid dat elkeen – ryk en arm – voor God gelyk is, was waarskynlik toe net so in konflik met die bestaande kultuur van die tyd as vandag. Vir die lesers was dit nodig om aan die wysheid herinner te word dat rykdom nie ‘n teken van die Here se seën of spesiale sorg is nie. Elkeen se status is voor God gelyk. In ‘n wêreld waar daar ‘n magsbalans ten gunste van die rykes was, moes hierdie gelykstelling voor God radikaal gewees het.  Die verse waarop vandeesweek se teks fokus, laat die klem val op die tema van armoede en rykdom en sosiale en ekonomiese geregtigheid. Daar is vir God ‘n verband tussen rykdom en armoede en wysheid as eerbied vir God te ondersoek. Daarom is deernis met arm en hulpelose mense ‘n teken van wysheid, nie net omdat dit vir hulle iets beteken nie, maar omdat jy daarmee aan die kant van die Here gaan staan. God is op ‘n besondere manier die God van die armes en hulpeloses.

Laai af: WordPowerPoint

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

%d