Hooglied 2:8-13 – 29 Augustus

14de Sondag van Koninkrykstyd

Met behulp van ‘n plakkaat of ‘n foto, wys vir die kinders in Familietyd ‘n mens se liggaam (anatomie, skelet, spiere). Vertel vir hulle dat die Here elke deel van ons lyf gemaak het. Die Here het mooi beplan toe Hy ons geskep het. Elke spier, elke orgaan, elke been en elke ander liggaamsdeel het ‘n doel. Ons kan ons lywe gebruik om te oefen, dan word ons sterker en vinniger. Ons kan ons verstand gebruik om te leer. Die Here wil hê ons moet ons lywe gebruik om Hom te eer. Maar ons kan ons lywe ook verkeerd gebruik. Soos wanneer ons ons lywe gebruik om ander mense seer te maak of te na te kom, of wanneer ons ons eie lywe met slegte gewoontes seermaak. Ons respekteer ons lywe; daarom dra ons klere. Ons maak sekere dele van ons lywe toe uit respek. Ons hoef nie skaam te wees vir ons lywe nie. God het elke deeltjie van ons gemaak. Ons moet onthou dat ons lywe aan ons behoort, en as iemand iets aan ons lywe doen wat ons ongemaklik laat voel, mag ons sê: “Nee!” Ons liggame is tempels; daarom moet ons ons lywe mooi beskerm. Dit is ‘n goeie inleiding vir die preekriglyn oor ons teks, Hooglied 2:8-17, wat handel oor die bedwelming van die liefde en beskerming in die liefde. Dit handel oor die liefde tussen ‘n man en vrou. Die liefde is sterker as enige teenkanting of omstandigheid. In Hooglied sien ons hoe die vrou dagdroom oor haar minnaar en hoe die liefde hulle hele lewe in beslag neem. Hulle droom oor mekaar, fantaseer oor mekaar en is seksueel aangetrokke tot mekaar. Dit is nie wellus nie, nee, dit is opregte liefde waar fisiese aantrekking ‘n wesenlike rol speel. Die vrou se gedigte sluit nie net haar eie gedagtes in nie, maar ook die woorde van die man in haar lewe. En dit is ‘n pragtige beskrywing aan die een kant van die bedwelmende impak van die liefde, sowel as aan die ander kant die behoefte aan beskerming in die liefde.

Laai af: WordPowerPoint

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui