Gebruik kinders om die verhaal uit te beeld terwyl dit voorgelees word. Carolyn C Brown het ook ‘n hele paar goeie voorstelle in haar blog. Sy suggereer oa dat die storie van Rut kortliks aan die kinders dramaties oorvertel word. Ons sluit ‘n weergawe van só ‘n vertelling in. Die preekriglyn sluit by die verhaal in hoofstuk 1-2 aan. Waar in hoofstuk 2 Rut die inisiatief geneem het om kos op die lande te gaan optel, is dit nou in hoofstuk 3 Naomi wat verantwoordelikheid neem vir haar skoondogter. Sy werk ‘n fyn strategie uit om Rut se behoefte aan ‘n losser onder die aandag van Boas te bring. Die spanning neem toe met die vermelding van ‘n familielid wat die eerste verantwoordelikheid het om as losser op te tree. Maar Naomi lei die volgende hoofstuk in met haar fyn waarneming dat Boas ‘n man met ‘n plan is en nie sal rus voor die saak afgehandel is nie. Treffend is hoe hierdie fyn uitgewerkte strategie van Naomi, die uitvoering daarvan deur Rut en die reaksie van Boas alles meewerk om God se werk tot uitvoering te bring.
Gebruik kinders om die verhaal uit te beeld terwyl dit voorgelees word. Of wys ‘n YouTube-videosnit waar die verhaal op ‘n kindervriendelike manier vertel word. Indien jy ‘n gesprek met die tieners wil voer, gebruik die film He called me Malala. Dit vertel die verhaal van Malala, die Pakistanse tiener wat geskiet is omdat sy opgestaan het vir die reg van meisies om onderrig te ontvang. Sy het herstel van haar skietwond en doen steeds voorspraak vir hierdie saak. Sy het die Nobelprys vir Vrede daarvoor ontvang. Daar is baie skakels tussen haar storie en die storie van Rut, die Moabitiese vrou. Die uitdagings van vroue toe en nou kom in albei se verhale na vore. Watter ander uitdagings moet vroue vandag hanteer? Jy sou die verhaal ook as inleiding kon gebruik vir die preekriglyn. Ons lees in die boek oor dié tyd van Rut, die boek Rigters, dat dit ‘n slegte tyd in die volk se geskiedenis was. Rigters is vol oorloë, geweld, ongehoorsaamheid. Dis eintlik aaklig, die goed wat in daardie tyd aangevang word. Die boek Rigters eindig met ‘n probleem – ‘n stam wat nie meer vrouens het nie. Maar dis okay, daar word ‘n plan gemaak – hulle kan meisies ontvoer. So eindig die boek Rigters met die woorde (21:25): “In daardie tyd was daar nog nie ‘n koning in Israel nie, en elkeen het gedoen wat reg is in sy eie oë.” En dit is in dié tyd, toe Israel soos die Wilde Weste was, dat ons ‘n vrou ontmoet. Sy noem haarself “Mara” – bitter. Maar haar naam is eintlik “Naomi” – “soet”, “aangenaam”. Maar sy herdoop haarself van soet na bitter. Gelukkig het sy darem nog twee seuns gehad. Totdat die ook doodgaan. Met haar terugkeer na Israel stap haar skoondogters – Moabitiese vroue albei – so ‘n entjie saam met haar. Maar wat help dit tog? Hulle kan nie die seer wegneem nie. So natuurlik stuur Naomi haar skoondogters terug. En na so ‘n bietjie teësit, doen Orpa wat ‘n goeie, gehoorsame dogter van haar tyd doen – sy gaan terug na haar familie. Maar Rut is hardkoppig. Sy weier. Sy gaan by Naomi bly, sê vers 14. Nie dat Naomi regtig daarop reageer nie. Maar wat van God? Waar is God in hierdie hele besigheid? Het God regtig teen Naomi gedraai? Soos die verhaal ontvou kom ‘n mens agter dat Hy op die agtergrond werk. Wat die hoop in ons ontketen dat Hy dieselfde in ons lewe kan doen.
Gebruik die ingeslote vertaling van die Boodskap met die besprekingsvrae. Daar is ook ‘n inkleurprent. Die preekriglyn begin met die vlug van Dawid vir Saul as konteks vir hierdie Psalm. Alhoewel Dawid in die Filistynse stad veilig van Saul was, was hy weerloos teen koning Akis (Abimelek). Dawid se plan het nie gewerk nie. Hy is in doodsgevaar en roep na die Here. Dan kom die onverwagse uitkoms. In ‘n laaste desperate poging om oorlewing, hou Dawid homself kranksinnig. Hy laat die spoeg teen sy baard afloop en krap teen die deure. Wonder bo wonder oortuig sy toneelspel die koning. Hy kon nie glo dat hierdie kranksinnige man Dawid is nie. Die koning beveel sy wagte om die mal man uit te smyt. God het uitkoms gegee toe dit gelyk het of daar nie meer uitkoms is nie. Dawid kon nie oor hierdie wonder stilbly nie. Die gevolg is hierdie Psalm se lofsang: “Ek sal die Here altyd weer prys, sy lof sal altyd op my lippe wees.” (vers 2) Hy wil vir ander wat swaar kry, moed gee en hulle van hierdie wonder vertel: … “dié wat swaar kry, sal dit hoor en daaroor bly wees.” (vers 3) Dankbaarheid is dus iets wat gedeel moet word. Sy dankbaarheid ken geen perke nie: “Sing saam met my oor die grootheid van die Here en laat ons saam sy Naam prys.” (vers 4). Hierdie verhaal van groot nood, groot uitkoms en groot dankbaarheid is egter nie net Dawid se verhaal nie. Dit is ons almal s’n. Ons almal ken hierdie verhale van groot nood, groot uitkoms en groot dankbaarheid. Ons het dit al almal beleef. Miskien beleef jy nou groot nood, groot uitkoms of groot dankbaarheid. Maar, doen ons dit nog vandag? En hoe kyk die wêreld daarna? Die Psalm lei ons dus om te kies om anders te kyk as die wêreld en die wysheid van God aan die werk te sien in ons lewens.