2 Korintiërs 3:12 – 4:2 – 27 Februarie

Verheerlikingssondag

Daar is ‘n oulike voorstel oor verskillende soorte spieëls (kyk by missio.org.za) sowel as ‘n gesprek oor die lig wat ons harte “verlig met die kennis van die heerlikheid van God, wat van Jesus Christus uitstraal”. Jy kan ‘n gesprek oor Valentynsdagkaartjies gebruik om ons eie rol te verduidelik om die lig van God in die wêreld te versprei. Daar is ook die verhaal van “The Pied Piper’s Magic” deur Steven Kellogg. Paulus praat van die sluier wat verhoed dat ons vir God sien – en hoe ons self verander wanneer die sluier verander word. Kellogg se verwerking van die klassieke “rottevanger” verhaal, vertel van twee bitter karakters wat hervorm word wanneer die fluitspeler hulle help om te sien dat hulle waarde het. In die proses word die hele gemeenskap verander. Die preekriglyn fokus op vers 18: “En terwyl ons almal met onbedekte gesig soos in ‘n spieël die heerlikheid van die Here aanskou, word ons van gedaante verander na dieselfde beeld …” (OAV). Vandag gesels ons oor die feit dat die Here deur sy Woord ons lewens verander. Dit is soos ‘n spieël wat nie net vir ons wys wie ons is, en wat ons nodig het nie, maar die krag het om ons te verander. Die Bybel is ‘n SPIEËL wat ons verander.

Laai af: Word – PowerPoint

1 Korintiërs 15:35-38, 42-50 – 20 Februarie

Sewende Sondag na Epifanie

Gee met Familietyd vir elke kind ‘n saadjie. Vra vir hulle of hulle weet wat alles nodig is vir hierdie saadjie om te groei en ‘n mooi plant te word. Vra hulle dan of hulle dink dit sal goed wees as die saadjie doodgaan. Hoekom, of hoekom nie? Vertel hulle dan hoe sade doodgaan om te kan groei en verduidelik hoe dit ‘n beeld is van God wat iets wat vir ons sleg lyk juis kan gebruik om iets nuuts te maak. Nooi hulle om die saadjies te gaan plant en elke dag, wanneer hulle vir die saadjies water gee, vir God dankie te sê dat God die dood gebruik om iets moois te skep wat ons nie kan verstaan nie. Die preekriglyn fokus op die uiteenlopende sienings, selfs onenigheid en onderlinge struwelings in die gemeente van Korinte. In vers 35 vra ‘n denkbeeldige “iemand” die vraag oor die opstanding van die dooies: “Met watter soort liggaam verskyn hulle?” Met hierdie vraag verduidelik Paulus die heerlike werklikheid en feite van die liggaamlike opstanding. Hy gebruik die analogie van saad wat gesaai word, sterf, begrawe word en uiteindelik in ‘n nuwe vorm lewend word. Paulus gee ons egter nie ‘n presiese beskrywing van hoe die opgestane liggaam sal lyk en wees nie. Tog is daar ‘n paar dinge wat ons kan weet van daardie liggaam:

  1. Kontinuïteit (dit is steeds jy wat opgewek word).
  2. Transformasie (jy word in ‘n nuwe vorm opgewek).
  3. Geskik (om in God se wêreld in te pas).
  4. Geestelik (onsterflik, heerlik en kragtig).
  5. Soos Christus (Christus het reeds hierdie vorm van ‘n getransformeerde liggaam aangeneem. Ons liggame sal wees in die vorm wat Christus reeds is).

Laai af: Word – PowerPoint

1 Korintiërs 15:12-20 – 13 Februarie

Sesde Sondag na Epifanie

Bybel-Media se Woord en Fees by www.missio.org.za het ‘n baie oulike voorstel wat kinders ‘n geloofsbelydenis leer wat hulle met hulle liggame kan opsê. Of gebruik ‘n gunsteling storieboek (of fliek) – dalk een wat lekker scary is. Lees of wys eers die einde van die verhaal. Wanneer ons die einde ken, is die scary dele glad nie meer so scary nie! Dieselfde is waar vir ons lewens as Christene. Ons ken die einde van die storie. Daarom is selfs die scary dele vir ons minder scary, want ons weet hoe dit gaan eindig. Die einde is eintlik die begin! Of gesels oor dinge wat eindig. Wanneer ons klaar ‘n storie gelees het, sê ons soms “Fluit fluit, my storie is uit!”.  Of aan die einde van ou flieks, waar daar altyd gestaan het: “The End”. Maar daar is nie so ‘n einde aan ons lewe nie. Ons fliek eindig met “Die Begin”, want die einde is eintlik die begin. Terwyl ons nou so lekker abstrak is, hier is ‘n inkleurprent van ‘n infinity driehoek – wat nie ‘n einde het nie. Die preekriglyn fokus op die werklikheid vandag dat ons meestal leef asof Christus nie uit die dood opgestaan het nie. Daar is mense in die samelewing wat hulleself Christene noem, maar wat Jesus se opstanding uit die dood ontken. Vir die moderne mens sou dit dan aanstoot gee om in iets te glo wat nie wetenskaplik moontlik is nie. Christus se opstanding figureer dan wel soms, maar net as ‘n geestelike verskynsel waardeur Jesus dan as ‘t ware in die lewe van sy dissipels “opstaan”. Hiervolgens kan mens sê Jesus het figuurlik in sy dissipels se harte opgestaan, of in hulle gedagtes, maar niks meer nie. Dit is natuurlik nie waar nie, die Nuwe Testament getuig van die feitelike opstanding van Jesus uit die dood. Paulus het ‘n ander probleem gehad. Die skynbaar invloedryke faksie van die gelowiges in Korinte wat Paulus aanspreek, het wel geglo in Jesus se opstanding, maar gesê dat hulle nie die opstanding van die dooies aanvaar nie. Jesus het wel opgestaan, maar dit het geen betekenis vir ons nie. Paulus wys dan in hierdie gedeelte uit hoe hulle die betekenis van die opstanding van Christus nog nie goed genoeg oordink het nie. As ons dit op ons vandag moet toepas, sou ‘n mens kon sê dat ons wel in Jesus se opstanding glo, maar ons leef nie uit die betekenis van sy opstanding nie. Daarom leef ons meestal asof Christus nie uit die dood opgestaan het nie. En dit raak ons gedagtes oor ons eie lewe na die dood.

Laai af: Word – PowerPoint