1 Korintiërs 15:19-26 – 17 April

Paassondag

Johannes se opstandingverhaal in die Nuwe Testament vir kinders sal vandag goed werk vir Familietyd (teks ingesluit). Daar is ook ’n blokraaisel wat sal help om die Hebreeuse woord (regaf) vir Jesus te verstaan… Die preekriglyn oor 1 Korintiërs 15 fokus op die feit dat baie gemeentelede in die kerk in Korinte gekies het om nie in die opstanding te glo nie. Die gemeente was verdeel en daar het baie vrae en onsekerheid ontstaan veral rakende die opstanding. Wat tot hierdie onsekerheid bygedra het, is die feit dat Korinte ‘n kosmopolitiese stad in die middel van Griekeland was. Dit was ook ‘n groot hawestad met baie besoekers wat elkeen hulle eie idees en filosofieë verkondig het. Paulus se uitdaging was om die evangelie wat die vervulling van Israel se hoop op God is te vertaal na die Griekse konteks, en om gelowiges uit die Griekse denkwêreld te help om sin te maak van die lewegewende dade van God in die geskiedenis. Die opwekking van Jesus uit die dood, is die mees verrassende gebeure ooit. Geen Jood het verwag dat die Messias sou ly en sterf nie – en dan nog op die skandelike weg van ‘n kruis. Dat God dan sy Messias op die derde lewend maak en toon dat Jesus werklik die Seun van God en die hoop van die wêreld is – dit slaan mens se asem weg. Hierdie kragtige ingrype van God om die mag van dood en die magte van verwoesting te oorwin, sonde te vergewe, en vir die skepping ‘n nuwe toekoms te gee, moet wêreldwyd verkondig word. Wat God aan Jesus gedoen het (Hom lewend gemaak het) beplan God vir elke volgeling van Jesus en vir God se hele skepping. Maar, vertel dit nou vir mense wat hierdie God nie ken nie…

Laai af: Word – PowerPoint

Hebreërs 10:16-25 – 15 April

Goeie Vrydag

Vertel die verhaal van Jesus se kruisiging met Familietyd. Gebruik ‘n goeie Kinderbybel of ‘n video soos hierdie. Kinders kan ook kruise maak deur papiertjies te plak, wol om karton te draai (by hierdie skakel is ook ‘n paar ander kruis-idees), of gewoon net inkleur. Die preekriglyn begin met die onskatbare waarde van die werk van Jesus Christus in elkeen van ons se lewe. Dit omvat ons hele lewe. Daar is niks waarvoor Jesus nie verantwoordelikheid vat in ons lewe nie. So spel die skrywer van Hebreërs dit in hoofstuk 8-10 uit:

  • Jesus het afgehandel met ons verlede deur ons met God te versoen (Hebr. 8). Ons kan daarop staatmaak!
  • Jesus stel ons in staat om God te dien vandag, omdat ons gewete gereinig is en ons sonder skroom voor God kan staan (Hebr. 9). Al wat nodig is om die waarde hiervan te geniet, is om ons skuld voor Hom te bely en sy belofte om ons gewete te reinig, vir onsself toe te eien en God dan met alles in ons te dien (vgl. ook 1 Joh. 1:9: “As ons ons sondes erken – Hy is getrou en regverdig en daarom sal Hy ons ons sondes vergewe en ons van alle kwaad reinig.“).
  • Jesus neem verantwoordelikheid vir ons toekoms deurdat Hy 1) vir altyd voor God verskyn ter wille van ons en 2) ons heilig maak eens en vir altyd (Hebr. 10). En daarmee sal Hy nooit ophou nie, totdat Hy weer kom ons te verlos en Hy ons aan God bekend sal stel met die woorde: “Kyk, hier is Ek en die kinders wat God My gegee het!” (Hebr. 2:13).

Dít is natuurlik ook waarom ons niks anders as Hy nodig het nie. Jesus is genoeg. Hy handel met verlede, hede en toekoms. Jesus is meer as genoeg. Hy sal ons nooit in die steek laat nie. Hy sal ons verlos. Die skrywer rond daarom die tema af wat hy in hfst. 5 begin het deur die geloofsgemeenskap op te roep om nie vas te val by die basiese prediking oor Christus nie – die “melk” van “die bekering van dooie werke, van geloof in God, van dooponderrig, oplegging van hande, opstanding uit die dood en van ewige oordeel” (6:1-2) – en eerder te fokus op die “vaste kos” van onder andere “die boodskap van regverdiging“, “die aanvoeling, deur gewoonte geoefen, om te kan onderskei tussen goed en kwaad” (5:13-14) en “die volle sekerheid van die hoop” op God se beloftes (6:11).

In Hebreërs 10 verse 18-25 praat die skrywer oor die feit dat ons vrymoedigheid het om met God gemeenskap te hou: “ons het dus vrymoedigheid deur die bloed van Jesus om in te gaan na die heiligdom langs ‘n nuwe en lewende weg wat Hy vir ons geopen het.” Soos Paulus op soortgelyke wyse aan die Efesiërs skryf, het ons dus in Jesus Christus “deur ons geloof sekere en vrymoedige toegang tot God” (Ef. 3:12).

Ons moet egter nie net persoonlik op vrymoedigheid fokus nie, maar ons moet ons ook “daarop toelê om mekaar aan te spoor tot liefde en goeie dade“, boonop sonder dat ons in die proses ons eie samekomste verwaarloos, soos sommige ongelukkig die gewoonte gehad het in sy tyd (10:24-25). Dít is die dinge wat ons vrymoedigheid in die teenwoordigheid van die Here bevorder en ons in staat stel om die beloftes wat Hy vir ons in vervulling wil laat gaan, in ontvangs te neem.

Laai af: Word – PowerPoint

 

 

Lukas 19:28-41 – 10 April

Palmsondag-Feesdiens (6de Sondag in Lydenstyd)

Carolyn Brown wys daarop dat gemeentes baie keer die lyding van Jesus ignoreer in gesprek met kinders.  Daarmee ontsê hulle egter ook vir kinders die kontras wat kom met die vreugde van die opstanding.  As hulle iets verstaan van die diepte van Jesus se lyding, sal hulle ook beter verstaan watter vreugde die opstanding vir ons bring. Een lyn wat gevolg kan word om die boodskap van lyding oor te dra, is om oor Jesus se Koningskap te praat.  ‘n goue kroon sowel as ‘n kroon van dorings kan gebruik word.  In gesprek met die kinders kan die betekenis van die twee krone ontgin word.  Die goue kroon staan vir ‘n sterk koning na wie almal moet luister (moenie die koning teken as boos nie, net as outoritêr).  Die doringkroon staan vir iemand wat bereid is om vir mense te sorg en vir hulle lief te wees. Toe Jesus in Jerusalem inry, het die mense Hom as koning geprys.  Watter tipe koning dink julle was Hy?  Het Hy ‘n goue kroon gedra, of ‘n doringkroon?  ‘n Doringkroon natuurlik.  So wat sê dit vir ons van Jesus as Koning?  Hy sorg vir ons en is vir ons lief. Wat leer dit ons?  Om soos Jesus eerder ‘n doringkroon te dra as ‘n goue kroon: om eerder om te gee vir mense en vir hulle lief te wees, as om vir hulle te hiet en gebied. Die preekriglyn werk met verskeie perspektiewe waaruit die prediker sal moet kies. Nadat die teks ontleed is kan ‘n mens fokus op een van die volgende: die wenende God, die reddende God, die nederige, dienende God, en die gesagvolle God.

Laai af: Word – PowerPoint