1 Korintiërs 15:12-20 – 13 Februarie
Sesde Sondag na Epifanie
Bybel-Media se Woord en Fees by www.missio.org.za het ‘n baie oulike voorstel wat kinders ‘n geloofsbelydenis leer wat hulle met hulle liggame kan opsê. Of gebruik ‘n gunsteling storieboek (of fliek) – dalk een wat lekker scary is. Lees of wys eers die einde van die verhaal. Wanneer ons die einde ken, is die scary dele glad nie meer so scary nie! Dieselfde is waar vir ons lewens as Christene. Ons ken die einde van die storie. Daarom is selfs die scary dele vir ons minder scary, want ons weet hoe dit gaan eindig. Die einde is eintlik die begin! Of gesels oor dinge wat eindig. Wanneer ons klaar ‘n storie gelees het, sê ons soms “Fluit fluit, my storie is uit!”. Of aan die einde van ou flieks, waar daar altyd gestaan het: “The End”. Maar daar is nie so ‘n einde aan ons lewe nie. Ons fliek eindig met “Die Begin”, want die einde is eintlik die begin. Terwyl ons nou so lekker abstrak is, hier is ‘n inkleurprent van ‘n infinity driehoek – wat nie ‘n einde het nie. Die preekriglyn fokus op die werklikheid vandag dat ons meestal leef asof Christus nie uit die dood opgestaan het nie. Daar is mense in die samelewing wat hulleself Christene noem, maar wat Jesus se opstanding uit die dood ontken. Vir die moderne mens sou dit dan aanstoot gee om in iets te glo wat nie wetenskaplik moontlik is nie. Christus se opstanding figureer dan wel soms, maar net as ‘n geestelike verskynsel waardeur Jesus dan as ‘t ware in die lewe van sy dissipels “opstaan”. Hiervolgens kan mens sê Jesus het figuurlik in sy dissipels se harte opgestaan, of in hulle gedagtes, maar niks meer nie. Dit is natuurlik nie waar nie, die Nuwe Testament getuig van die feitelike opstanding van Jesus uit die dood. Paulus het ‘n ander probleem gehad. Die skynbaar invloedryke faksie van die gelowiges in Korinte wat Paulus aanspreek, het wel geglo in Jesus se opstanding, maar gesê dat hulle nie die opstanding van die dooies aanvaar nie. Jesus het wel opgestaan, maar dit het geen betekenis vir ons nie. Paulus wys dan in hierdie gedeelte uit hoe hulle die betekenis van die opstanding van Christus nog nie goed genoeg oordink het nie. As ons dit op ons vandag moet toepas, sou ‘n mens kon sê dat ons wel in Jesus se opstanding glo, maar ons leef nie uit die betekenis van sy opstanding nie. Daarom leef ons meestal asof Christus nie uit die dood opgestaan het nie. En dit raak ons gedagtes oor ons eie lewe na die dood.