Psalm 31:9-16 (Passie) – 10 April

Palm-/Passiesondag (6de Sondag in Lydenstyd)

Met die fokus op Passiesondag kan jy mense van alle ouderdomme deurlopend deur die liturgie betrek. Kinders geniet veral ‘n prosessie aan die begin, of om palmtakke of lappe (wat veiliger is as takke) te swaai. Laat verskillende mense verskillende van die voorlesings doen. Daar is nog vyf ander voorstelle. Die preekriglyn fokus op die feit dat hierdie Psalm ons leer om aan God vas te hou ten spyte van omstandighede. Ons leer vashou weens alles wat ons van God weet. Saam met die Psalmdigter vertrou ons dat God alles vir ons in vervulling sal bring, soos belowe. Uit ‘n Nuwe Testamentiese hoek word die Psalm se boodskap egter verruim, deurdat Jesus aan die kruis die woorde in vers 6: “In u hande gee ek my lewe oor” aan die kruis gebruik het: “Vader, in u hande gee Ek my gees oor” (Luk 23:46). Waar Dawid gevra het vir redding uit die dood, het Jesus gevra vir redding in die dood (Craigie)! Daarmee wys Jesus dat die uitkoms (tye/toekoms) van ‘n mens se lewe regtig in God se hande lê, (vers 16) en dat dit selfs die dood kan insluit. Dit is baie keer ons probleem in ons geloofslewe. Ons fikseer op die uitkoms, die redding self, boonop soos onsself dit definieer, en verbind dan ons geloof aan die regte uitkoms, in plaas daarvan om ons geloof aan God te verbind, op Hom te vertrou. En dit stuur net op rampspoed af in terme van ons geloofslewe. Jesus wys vir ons dat ons ernstig en volhardend vir uitkoms kan bid, soos ‘n Dawid van ouds, maar altyd die spesifieke uitkoms in die Here se hande moet laat. Dit sal voorkom dat ons geloof wankel of ten minste ongeloofwaardig voorkom, as die uitkoms nie is wat ons verklaar het dat dit sal wees nie. En kan ons die uitkoms, hoe dit ook al is, met blydskap uit die hand van die Here ontvang.

Laai af: Word – PowerPoint

Johannes 12:1-8 – 3 April 2022

Vyfde Sondag in Lydenstyd

Hierdie Sondag fokus op die afwagting van iets nuuts. Dit wys reeds hier, diep in Lydenstyd, vooruit na Christus se opstanding. Afhangend van die ouderdom van die gemeente se kinders, kan jy verskillende simbole kies. ‘n Skoon vel papier is die maklikste manier om vir klein kinders ‘n nuwe begin te verduidelik. Vir ouer kinders kan eiers of paaseiers simbolies goed aanpas by die afwagting van Paasfees. Of jy kan die kostelike verhaal van Nina se grootste persent… Die preekriglyn fokus op die sterk simboliese karakter van die salwing van Jesus se voete in die teks. Dit is reeds verbind aand die opwekking van Lasarus in die vorige hoofstuk. Maria se salwing is ‘n simbool of teken van dankbaarheid vir die feit dat Jesus haar broer uit die dood opgewek het. Maar, verder gebeur die salwing reg voor Jesus se intog in Jerusalem waar Hy as “Koning van Israel” vereer word. Jesus word moontlik ook hier simbolies as Koning gesalf, alhoewel dit op sy voete was. Wat hier gebeur dui dus op die houding wat dissipels teenoor Jesus behoort te hê, maar ook op die spanning en worsteling in die dissipelkring vanweë die uiteenlopende houdings wat ter sprake kom. Judas en Maria staan reg teenoor mekaar. In Maria se optrede vind ons ‘n voorbeeld van die volheid van ‘n lewe van dissipelskap. Haar optrede wys vir ons die liefde wat ‘n kenmerk van dissipelskap in die Johannesevangelie is, asook die erkenning van Jesus se identiteit wat die Christelike lewe stempel. Dit is in sterk kontras met dié van Judas, wat ‘n onbetroubare reaksie op die gebeure rondom die aanbreek van Jesus se laaste ure verteenwoordig. Judas reageer nie met ‘n handeling van liefde nie, maar met selfsugtige motiewe. Sy optrede lei tot die verwildering van die kudde, terwyl Maria se optrede die model van liefde voorstel wat ook die karakter van die kudde behoort te wees.

Laai af: Word – PowerPoint

 

Josua 5:9-12 – 27 Maart

Vierde Sondag in Lydenstyd

Hierdie is dalk ‘n goeie tyd om ‘n oorsig oor die uittog/intog verhaal te gee, om vandag se Skrifgedeelte binne die groter narratief te posisioneer. Sermons4Kids steel voor dat jy ‘n bababottel, “sippy cup” en plastiek glasie bring en dan gesels oor die pad wat God met ons stap. Die bottel en bekers dien as voorbeeld van hoe God op verskillende maniere vir ons sorg. Nog ‘n opsie, is om met kinders te gesels oor oorgange. Selfs wanneer ‘n mens opgewonde is oor wat voorlê, is mens steeds effens op jou senuwees, omdat ‘n mens nie weet wat wag nie. Soos om te trek, of na ‘n nuwe skool te gaan. Jy kan vertel van sulke gebeure in jou eie lewe. Laat kinders ook deel van sulke oorgange wat hulle al beleef het. Soms neem ons goed met ons saam, om ons beter te laat voel tydens die oorgang. Jy hou ‘n gunsteling sagte speelding vas en slaap daarmee. Jou maatjies by jou vorige skool skryf boodskappies op jou potloodblikkie en jy vat dit saam na jou nuwe skool, ens. Verduidelik dan van die oorgang waarby Israel in vandag se Skriflesing staan. Sluit aan by die Pasga, as simbool uit die verlede dat God vir hulle sorg en dat God ook in die toekoms vir hulle sal sorg – soos die potloodblikkie. Gesels oor die tekens wat God vir ons gegee het (Nagmaal, maar ook die doop), wat dieselfde vir ons sê. Vir die preekriglyn word in die boodskap met verse 1 tot 15 gewerk. Dit fokus op sekere definiërende oomblikke in ‘n mens se lewe wat jy nooit sal vergeet nie. Dink maar aan voorbeelde soos ‘n troudag, ‘n kind se geboorte, ‘n ernstige siekte, ‘n onverwagte ontmoeting. Dit maak die lewe opwindend en onvoorspelbaar. Enige tyd, enige oomblik kan iets beslissend gebeur wat jou lewe skielik verander en in ‘n nuwe rigting stuur. Dit is wat hier in Josua 5 gebeur. Die skrywer vertel van drie gebeurtenisse wat Israel se lewe ingrypend verander het. Ná die swaarkry in Egipte en die woestyn, is hulle uiteindelik in die mooi land wat die Here met ‘n eed aan hulle vaders beloof het. Hulle maak gereed om die land in te neem. Dan gebeur drie dinge – niks groot of opspraakwekkend nie, maar hulle lewe sou nooit weer dieselfde wees nie.

Laai af: Word – PowerPoint