1 Korintiërs 15:35-38, 42-50 – 20 Februarie
Sewende Sondag na Epifanie
Gee met Familietyd vir elke kind ‘n saadjie. Vra vir hulle of hulle weet wat alles nodig is vir hierdie saadjie om te groei en ‘n mooi plant te word. Vra hulle dan of hulle dink dit sal goed wees as die saadjie doodgaan. Hoekom, of hoekom nie? Vertel hulle dan hoe sade doodgaan om te kan groei en verduidelik hoe dit ‘n beeld is van God wat iets wat vir ons sleg lyk juis kan gebruik om iets nuuts te maak. Nooi hulle om die saadjies te gaan plant en elke dag, wanneer hulle vir die saadjies water gee, vir God dankie te sê dat God die dood gebruik om iets moois te skep wat ons nie kan verstaan nie. Die preekriglyn fokus op die uiteenlopende sienings, selfs onenigheid en onderlinge struwelings in die gemeente van Korinte. In vers 35 vra ‘n denkbeeldige “iemand” die vraag oor die opstanding van die dooies: “Met watter soort liggaam verskyn hulle?” Met hierdie vraag verduidelik Paulus die heerlike werklikheid en feite van die liggaamlike opstanding. Hy gebruik die analogie van saad wat gesaai word, sterf, begrawe word en uiteindelik in ‘n nuwe vorm lewend word. Paulus gee ons egter nie ‘n presiese beskrywing van hoe die opgestane liggaam sal lyk en wees nie. Tog is daar ‘n paar dinge wat ons kan weet van daardie liggaam:
- Kontinuïteit (dit is steeds jy wat opgewek word).
- Transformasie (jy word in ‘n nuwe vorm opgewek).
- Geskik (om in God se wêreld in te pas).
- Geestelik (onsterflik, heerlik en kragtig).
- Soos Christus (Christus het reeds hierdie vorm van ‘n getransformeerde liggaam aangeneem. Ons liggame sal wees in die vorm wat Christus reeds is).