Lukas 13:1-9 – 20 Maart

Derde Sondag in Lydenstyd

Daar is twee opsies vir simbole vir Familietyd hierdie Sondag: ‘n hart as simbool van God se ewigdurende liefde, of ‘n musiekinstrument om lofprysing voor te stel (Ps. 63). Albei simbole sal op ‘n kindervriendelike manier verduidelik moet word. Daar is ook ‘n opsie van Carolyn Brown wat fokus op die vyeboom. Die preekriglyne sluit aan by die kerk wat regoor die aarde nou in Lydenstyd is. In so ‘n tyd smag mens na die beëindiging van die swaarkry, na ‘n nuwe begin. Daar is verwagtings van uitkoms en redding. Ons moet ‘n nuwe manier van verwag aanleer. Ons moet ervaar dat die wintertye, stilwordtye is; tye wat gelaai word met rus en besinning en met nuwe insig en drome. Ons het spesifiek gekies om Lukas 12:50 as die invalshoek tot die preek oor die teksgedeelte te neem. In die lig van Jesus se vuurdoop is die tema vir vandag se prediking: “Deur vuurdoop tot vrug.”

Laai af: Word – PowerPoint

Psalm 27 – 13 Maart

Tweede Sondag in Lydenstyd

Die kern van vandag se teksgedeeltes is God se getrouheid, soos dit ook uitdrukking kry in die verbond en die doop. Sit ‘n bakkie water as simbool vir die doop op julle Lydenstydpad neer. Nooi die kinders na die doopvont toe en doen ‘n kindervriendelike doopherinnering met hulle. Woorde wat vandag verduidelik kan word: verbond, getrouheid. Of gesels oor die mense wat ons vertrou. Laat die kinders vertel wie die mense is wat hulle kan vertrou – ouers, dominee, polisie, brandweer, ens. Om dit prettig te maak, kan jy ‘n brandweer-helm, polisiehoed, toga, ens saambring en kinders dit laat opsit/aantrek soos wat ons gesels oor die mense wat ons vertrou. Julle kan ook bietjie uitpak wat “vertrou” beteken – na wie toe kan jy hardloop as jy bang is, wie weet jy sal jou help? Wat Psalm 27 vir ons sê, is dat God sommer nog baie meer betroubaar is! Dit gee ‘n goeie inleiding vir die preekriglyn. Dit sluit aan by die baie onseker tye waarin ons leef wat groot vrees op verskillende vlakke van ons lewe veroorsaak. Ons kan maar net die nuusberigte, televisie en sosiale media volg of rondom ons kyk om te sien watter uitdagings en probleme mense daagliks in die gesig staar. Almal soek oplossings vir hulle probleme, antwoorde om hulle vrese te besweer. Sommige mense soek versekering in hulle bankbalanse, ander soek dit in verhoudings, en party plaas hulle vertroue in die regering. Psalm 27 bied ‘n basiese grondslag vir geloof om ons vrese te oorkom. In Lydenstyd word gelowiges opgeroep om vertroue in God te stel te midde van aanvegtings, teenspoed en gevaar. Om geloof te hê wat nie afhanklik is van die verdwyning van alle gevaar, die oplossing van alle probleme en helder antwoorde op elke gebed voordat ons God vertrou nie.

Laai af: Word – PowerPoint

Romeine 10:8b-13 – 6 Maart

Eerste Sondag in Lydenstyd

Die hooffokus van vandag se teksgedeelte is Christus. Sit ‘n kruis, as simbool van Christus se teenwoordigheid, op die pad in die liturgiese ruimte neer, en gesels oor Jesus se lydensweg. Vir die preekriglyn kan jy aansluit by die konteks waarbinne Paulus sy brief aan die gemeente in Rome skryf. Veral by die moeite wat hy klaarblyklik doen om die spanning tussen gelowiges uit die Jodedom en uit die heidendom te versoen. Paulus wys daarop dat alle nasies ingesluit is in die genadige voorsiening van God en Christus. Stap deur die teks vandag en wys op die band met die OT (Deut 30:6, 14; Jer 31:31-34) en beklemtoon die nabyheid en dus die toeganklikheid van God se woord. Fokus op die ooreenkoms met die “Shema” belydenis van Deuteronomium 6:4. Soos diegene wat die “Shema” geresiteer het, aan Israel behoort het, so behoort diegene wat Jesus as Here aanroep aan Jesus. Dan beweeg die teks na God se beweging in Jesus Christus na die wêreld. Dat Jesus die verlossing tot by ons almal gebring het. Dit maak van die gemeente ook ‘n draer van hierdie belydenis. Selfs te midde van moeilike omstandighede werk die gemeente mee aan die verkondiging van God se verlossingswoord. Ons is daarom mense van die Woord. Die kwaliteit van ons geloof in Jesus en van ons verbondenheid aan die Woord blyk uit ons uitleef daarvan. Om ‘n mens van die Woord te wees, moet jy die Naam van die Here aanroep, met jou mond bely dat Hy Here is en glo dat God hom as Messias bevestig het deur Hom uit die dood op te wek. Dit is nie ‘n rympie wat mens opsê en alles is afgehandel nie. Die belydenis dat Jesus Here is, is ‘n reis wat mens met die Woord van God onderneem, in groeiende toewyding en gehoorsaamheid. Elkeen wat die Naam van die Here aanroep, sal verlos word. En leef toenemend as ‘n verloste.

Laai af: Word – PowerPoint