1 Samuel 2:18-20, 26 – 26 Desember

Sondag na Kersfees

Gebruik op hierdie eerste Sondag na Kersfees die addisionele teks oor die vlug na Egipte. Vertel die storie dramaties… Die preekriglyn begin met die vraag na ‘n goeie lewe. Almal van ons worstel met dié vraag. Dit is in ons natuur om ‘n goeie lewe na te jaag. Ons wil graag suksesvol wees. Ons wil die vrugte van sukses pluk. En selfs wanneer ons dit nie maak in ons eie of ander se oë nie, bly dit vir ons ‘n droom. En reageer ons op ons mislukkings met óf rebellie – ons raak teenstanders van sukses of die establishment – óf depressie – ons gooi tou op en raak moedeloos met ons lewe. Die verhaal van Samuel gee vir ons ‘n goeie idee van hierdie geheim. Dit is een van die verhale in die twee boeke wat na hom vernoem is, wat inspireer. Dit is ook ‘n verhaal wat waarsku. Want, die deel wat ons gaan lees, kontrasteer sy lewe met dié van Eli se kinders, Hofni en Pinehas, wat die geheim van ‘n goeie lewe gemis het.

Laai af: Word – PowerPoint

Psalm 96 – 25 Desember

Kersfees

Met Familietyd kan jy Sally Lloyd-Jones se “Song of the Stars” lees (vertaal dit self in Afrikaans). Jy kan dat die hele gemeente – of minstens die kinders – telkens saam met jou sê “Dis tyd! Dis tyd!” Die Psalm wat vandag wêreldwyd gelees word, is Psalm 96. Daar is twee redes daarvoor.  Aan die een kant roep Psalm 96 ons op om te sing. Om te sing van die verlossing wat die Here bring. Iets wat natuurlik onlosmaaklik met die eerste Kersfees verbind is. Met Jesus se geboorte het die hemele gebewe van die sang van engele oor die Verlosser wat in ‘n krip in Betlehem gebore is. Aan die ander kant verkondig Psalm 96 aan ons dat ons die Here moet aanbid. Want, daar kom ‘n dag waarop God finaal sal oordeel. Billik en regverdig. Oor alle mense. ‘n Oordeel wat ons natuurlik onlosmaaklik aan die laaste Kersfees verbind. Aan Jesus se wederkoms. Wanneer die hemele weer sal bewe van die lofsang van die ganse heelal oor die nuwe hemel en nuwe aarde wat God skep. Psalm 96 help ons dus om aan die een kant terug te kyk na die geboorte van Jesus en te sing van die verlossing wat Hy gebring het. Psalm 96 help ons ook om aan die ander kant vorentoe te kyk na die wederkoms van Jesus en uit te sien na die finale verlossing wat Hy gaan bring. Psalm 96 help ons om tussen die eerste Kersfees en die laaste Kersfees – by wyse van spreke – te leef. In lofsang en aanbidding.

Laai af: Word – PowerPoint

Miga 5:2-5 – 19 Desember

Vierde Sondag van Advent

Jy kan vir Familietyd fokus op die keuse van Bethlehem as tema vir die oordenking met die kinders. Voorbeeld ingesluit. Dit is vandag die vierde Sondag in Advent. Hierdie Sondag word gekenmerk deur liefde. Ons teks getuig van God se liefde en trou teenoor God se volk. Dit is dáárdie Liefde wat deur al die eeue en aan die ganse skepping – maar veral en eerste aan die geringstes – liefde en trou betoon. Die verhaal van God se liefde is ‘n láng verhaal. Dit strek van die Here se beloftes in Miga tot by opgewondenheid oor Christus se koms in die Evangelies – ‘n liefdesmanifes. Dit getuig van God se aktiewe liefde wat vír God se skepping kies. Miga 5:2-6 is van belang vir Christene omdat dié teks in Matteus 2:6, aan die begin van die evangelievertelling, aangehaal word. Hier in Miga 5:2-5 is die boodskap dat die Here iemand sal stuur wat tot die volk se redding sal verskyn en vrede sal bring (v 4).

Laai af: Word – PowerPoint