1 Korintiërs 15:1-11 – 6 Februarie

Vyfde Sondag na Epifanie

Vir Familietyd Google die woorde “Sight before glasses” en kies ‘n prent. Wys dit vir die kinders en gesels dan verder. Wat sien julle op die skerm? Is dit regtig hoe ‘n mens of ‘n boom lyk? Dit is soort van, maar dit is nie so duidelik soos dit moet wees nie. Wat sal gebeur as mense wat die wêreld só sien ‘n bril sou opsit? Hulle sal alles sien soos dit regtig lyk. As mense kyk ons na die wêreld op ons manier en dan lyk dinge soms vir ons vaag en onduidelik. Maar om te glo dat Jesus uit die dood opgestaan het, is soos om ‘n bril op te sit sodat ons alles beter sien. Wanneer ons in Jesus se opstanding uit die dood glo, kyk ons nuut na die dinge rondom ons. Ons word genooi om nie te kyk soos mense kyk nie, maar om, wanneer iets vir ons onduidelik is, altyd te vra: Hoe maak dit sin as ek onthou dat Jesus uit die dood opgestaan het? Gee vir elke kind ‘n kartonbril of laat hulle hulle eie maak. Die preekriglyn sluit aan by die  uitgebreide briefwisseling tussen Paulus en hierdie gemeente van Korinte. In hierdie hoofstuk gee Paulus die kern van sy hele Godsverstaan en wêreldbeeld. Nie alleen bereik Paulus se getuienis oor God se genade as ‘n geskenk daarin sy hoogtepunt nie, maar maak die lewenstyl wat hy in die vorige hoofstukke verkondig het net sin in die lig van die opstanding.  Dit sentreer om die ongeëwenaarde verskyning van die opgestane Jesus anderkant die dood. Dit is feite. Historiese feite. Ons teks nooi ons daarom uit om oor die wêreld in die lig van die feit van die opstanding te dink.

Laai af: Word – PowerPoint

Jeremia 1:4-10 – 30 Januarie

Vierde Sondag na Epifanie

Daar is verskillende opsies vir Familietyd, onder andere die lieflike “Jeremia en die Amandelboom” deur Wendy Maartens: “Gebaseer op die Bybelse verhaal van Jeremia se roeping, vertel hierdie pragtige prenteboek die storie van ’n jong Jeremia wat met spraak gesukkel het totdat die Here hom aangeraak en ’n amandeltak as belofte gewys het. Nie net is hierdie storie pragtig en toeganklik geskryf soos net Wendy Maartens kan nie, maar die boek bevat ook inligting en hulpbronne vir ouers en onderwysers om te help met spraakontwikkeling in kleuters. Hierdie bemoedigende verhaal sal alle kinders wys dat hulle spesiaal is vir die Here en dat Hy hulle sal help en gebruik. Die preekriglyn sluit aan by die profeet Jeremia se worsteling in sy boek met sy roeping om vernietiging en oordeel oor die volk Juda en hulle leiers aan te kondig. Dit is ‘n boek gevul met diep emosies, hoofsaaklik hartseer en rou, maar ook met hoop vir die toekoms. Sy boodskap is dat die volk God vergeet het en geweier het om Hom te erken. Hulle is so nutteloos in die verhouding met God soos ‘n verslete gordel om Sy lyf. Dit kom oor ‘n lang tyd, waarin hulle ook nie na die profete se waarskuwings geluister het nie. Daarom is die Here hulle nie meer goedgesind nie en het Hy geen medelye meer met hulle nie. En al breek dit Jeremia se hart, verkondig hy dat soos ‘n kleipot gebreek word, sal die Here hierdie volk en hierdie stad breek. Die ballingskap in Babel is hulle straf. Die Here gaan hulle nie spaar nie en hulle deur hulle vyande laat wegvoer. Ironies genoeg is die ballingskap egter ook hulle redding. As deel van Jeremia se roeping om ook op te bou en te vestig, beskryf hy daarom die weggevoerde ballinge as ‘n mandjie goeie vye en in ‘n brief verkondig hy die Here se goeie guns aan hulle: Ek weet wat Ek vir julle beplan, sê die Here: voorspoed en nie teenspoed nie; Ek wil vir julle ‘n toekoms gee, ‘n verwagting. Dan sal julle My aanroep, tot My kom bid, en Ek sal julle gebede verhoor. (29:11-12). Dit is in ‘n neutedop wat Jeremia se roeping behels het. Hieraan was hy getrou en gehoorsaam. Vandat hy ‘n jong tienerseun was tot met sy dood as ou man in Egipte. Dit gee ‘n goeie basis om oor roeping na te dink. Ons kyk na ses aspekte van die roeping van Jeremia.

Laai af: Word – PowerPoint

Nehemia 8:1-3, 5-6, 8-10 – 23 Januarie

Derde Sondag na Epifanie

Die nagmaal kan gerus in die tyd ná Epifanie gevier word. Gebruik ‘n kindervriendelike Nagmaalsformulier (voorbeeld ingesluit – jy kan ook hierdie een wat die NGK in 2002 goedgekeur het aflaai) en oorweeg dit om kinders wat vir die eerste keer die nagmaal gaan vier aan die tafel of rondom die tafel op die mat of grond te laat sit. Die ideaal is om vooraf met die ouers te praat en die datum vir hulle te gee sodat hulle ook by die huis met hulle kinders oor die nagmaal kan gesels. Die preekriglyn sluit met die inleiding aan by Epifanie as die tydperk waarin die verskyning van God aan die mensdom gevier word. Dit is ‘n tyd waarin nagedink word oor hoe God by ons teenwoordig is. Christene beantwoord hierdie vraag deur na Jesus van Nasaret, die Seun van God, se menswording en na die werking van die Heilige Gees te verwys. Jesus is die Woord van God. Hierdie gedagtes, wat die Christendom se oortuigings tot vandag toe skep en hulle viering van Epifanie bepaal, het egter nie uit die lug geval nie. Dit is gebou op die oortuigings wat reeds in die vroeë (en latere) Jodedom bestaan het, naamlik dat God nie aan tempels of rituele gebonde is vir sy openbaring aan sy volk nie, maar dat Hy sy wil deur die Woord bekend maak. Ons teks van vandag help ons om presies hierdie punt te verstaan. Die fokusteks uit Nehemia wil daarom juis die lig laat val op hoe die Here deur die Woord by mense, die kerk en die wêreld teenwoordig is. Dit wil ons aanmoedig om meer moeite met die lees en die nadink oor die Woord van God te doen. Ons is nie met teorie besig nie. Die Woord raak ons houdings, gesindhede, gewoontes en skerp ons geloofsvaardighede op. Dit leer ons lees, bid, ons bekeer, ons harte oopstel, ons lewens inrig volgens die Woord. Dit spreek ons aan: ons hou op om sekere dinge te doen omdat ons die Woord uitleef, en ons hou op om ander dinge te doen omdat ons die Woord uitleef. Ons doen die woord, want ons hoor die stem van die lewende God in die Woord.

Laai af: Word – PowerPoint