1 Korintiërs 12:1-11 – 16 Januarie

Tweede Sondag na Epifanie

Aangesien vandag die eerste Sondag in 2022 se nuwe skooljaar is, oorweeg dit om voor die tyd die graad 1-kinders en hulle ouers te nooi en te betrek by ‘n spesiale roetemerker wat op hulle oorgang na die laerskool fokus. Sien Roetemerkers (Greyling & Van Niekerk, Bybel-Media, 2019) vir ‘n liturgiese voorstel. Jy kan ook oorweeg om ‘n “blessing of the backpacks” te doen. Lees Carolyn Brown se baie kreatiewe idees oor die eerste Sondag nadat die skool begin het – en haar gedagtes oor skool as roeping. (Hier is ‘n 2020 Kerbode artikel oor so ‘n seën-stuur diens.) Laat kinders kaartjies van ‘n gunsteling Bybelvers maak (of kies ‘n bybelvers). As jy dit kan laat lamineer, nog beter! Maak “tags” van die kaartjies deur sleutelringe daaraan vas te maak. Dié kan hulle dan aan hul skooltasse vasmaak. Die preekriglyn sluit aan by die belydenis “Ek glo aan die gemeenskap van die heiliges” in die Apostoliese Geloofsbelydenis. Wat word bedoel met die woord “heiliges”? Die Latynse word vir “heiliges” (sanctorum) het ‘n dubbele betekenis.  Dit kan in die eerste plek na mense verwys. In die sin is dit ‘n uitbreiding op die belydenis aangaande die kerk. Die kerk is ‘n gemeenskap van gelowiges, en die gelowiges word ook heiliges genoem. Daar is egter ook ‘n ander moontlikheid. Die woordvorm in Latyn kan ook op “dinge” in plaas van mense dui. Dit sou daarop neerkom dat die kerk ‘n geloofsgemeenskap is wat gevorm word, en in stand gehou word deur heilige dinge. Wat is die heilige dinge? Die eerste ding waaraan gedink word, is die sakramente. Die doop en die nagmaal is heilige dinge waardeur ons in ons verhouding met die drie-enige God verenig word. Die heilige dinge kan egter meer insluit, naamlik die oorvloed gawes van die Gees. Hieroor skryf die bekende Nederlandse teoloog AA Van Ruler in sy uitleg van die Apostoliese geloofsbelydenis: “Is die heilige dinge dan nie ook (en dalk veral) die tallose gawes van die Heilige Gees wat aan gelowiges en aan die kerk geskenk word nie? Die gemeenskap van die heiliges beteken dan dat niemand iets vir hulself ontvang nie. Elkeen moet alles gewilliglik en met blydskap in diens van die andere stel, en in diens van die opbou van die hele gemeente en die hele kerk.” Veral in hierdie opsig raak ons aan die teksgedeelte in 1 Korintiërs 12. In die belydenis aangaande die gemeenskap van die heiliges, asook in die teksgedeelte gaan dit oor die Gees wat gawes aan elke gelowige gee met die oog op die opbou van almal. Die Gees gee nie vir elke gelowige in sy of haar persoonlike hoedanigheid alles nie. Elkeen kry wel deel aan die oorvloed van die Gees deur deelname aan die geloofsgemeenskap; deur deelname aan mekaar se lewe.

Laai af: Word – PowerPoint

Lukas 3:15-17, 21-22 – 9 Januarie

Eerste Sondag na Epifanie

Gebruik met Familietyd ‘n spieëltjie onder in die doopvont om kinders te laat nadink oor die betekenis van die doop deur in die doopvont te kyk en te sê: “Ek is ‘n geliefde kind van God.” Of laat die gemeente die Skriflesing op kreatiewe wyse doen deur hulle in die “mense”, die tollenaars, die soldate, Johannes en die verteller op te deel. Carolyn Brown stel ook voor dat die gemeente hull eie Johannes-antwoorde bedink.  Die preekriglyn sluit aan by die oogmerke wat Lukas met sy evangelie gehad het, en ontgin die betekenis van die nuwe identiteit wat Jesus en die Heilige Gees aan ons gegee het. Dit skep ook nuwe assosiasies.

Laai af: Word – PowerPoint

Psalm 72:1-7, 10-14 – 2 Januarie

Epifanie Feesdiens

Die familie-oomblik sluit aan by Epifanie-fees, eerder as Psalm 72. Vertel die verhaal van die “Besoek uit die ooste” dramaties of laat dit opvoer (Matt 2:1-12). John Stevens stel voor dat jy ‘n ster-“puppet” gebruik – of dalk ‘n groot ster wat jy op ‘n stok vasmaak, of enige groot ster. Laat die kinders saam met jou stap (die ster volg!) na al die plekke in die kerkgebou waar Jesus is. Begin by die preekstoel. Gaan daarvandaan na die Nagmaalstafel. Die doopvont. Dan gaan staan julle tussen die mense, want Jesus is by elkeen van ons. Bring goue sterretjies en plak ‘n sterretjie op elke kind se hand – want Jesus is ook by hulle. Die preekriglyn begin met die skryfsel van iemand: “Die gebed vir die koning in Psalm 72 is ten diepste gebed vir die mense. Wie werklik oor mense besorg is, bid vir die koning deur vir hom by God in te tree.” Die heil van die burgers van die samelewing en die koning is ten nouste verbind. As dit met die een goed gaan, en reg en geregtigheid geskied, gaan dit met die ander goed. Saam staan koning en onderdaan voor die groot Koning wat oor alles heers. Daarom verlang almal – regeerder en onderdaan – eintlik saam na dieselfde saak en smeek saam daarvoor. Kom ons verken ons teksgedeelte en hoor wat die Here daardeur vir ons sê.

Laai af: Word – PowerPoint