Lukas 11:1-13 – 24 Julie

Koninkrykstyd 7

DinkJeug het baie oulike idees vir die Onse Vader gebed, van gebedsblokkies wat almal kan maak tot gebare waarmee mens die gebed kan bid. Daar is baie oulike voorstelle en aktiwiteite. https://dinkjeug.co.za/erediens-wenk-onse-vader-gebed/ Ons preekteks bestaan uit vier aspekte wat almal oor gebed gaan:

  • Op versoek van die dissipels leer Jesus hulle om te bid (11:1-4)
  • Die gelykenis van die onbeskaamde vriend wat hulp om middernag soek (11:5-8)
  • ‘n Oproep of aanmoediging om te bid (11:9-10)
  • Die gelykenis van die pa wat weet om goeie dinge te gee (11:11-13).

Nadat ons vir ‘n oomblik by hierdie elemente van ons teks stilgestaan het, word dit as ‘n paar ongelooflik ryk aspekte van gebed uitgelê.

Eerstens leer ons in die modelgebed of dissipelgebed wie die God is wat ons aanbid, en hoe heilsaam en genesend dit is om hierdie God as Vader te ken en in gemeenskap met Hom te leef. Die Naam van ons Vader wat geheilig word, as God erken en gevolg word, is waar daar vir ons hoop en vrede te vind is. Die koms van hierdie Vader se koninkryk bring die genesing en herstel waarop ons hoop.

Tweedens is dit die voorbeeld van Jesus wat hulle laat vra: “Here, leer ons bid.” Hier is nie langer twyfelvrae oor die waarde van gebed of oor God se getrouheid om ons te hoor nie. Hier is gretige leerlinge wat reeds iets van die waarde van gebed in Jesus se lewe eerstehands beleef het. Hulle is begerig om soos Hy te leer bid. Hulle het reeds die gereg geniet, nóú wil hulle die geheime resep leer.

Derdens: Wat leer Jesus ons hier oor die Vader? Nie dat ons sy arm kan draai deur volhardende gebed, deur knaend te wees en aan te hou vra nie, maar bloot dat ons met vrymoedigheid ons nood na Hom kan bring.

Ons kan hierdie prentjie van God ter harte neem. God is meer vrygewig as wat ons ooit kan dink. Hy is meer gereed om aan ons te gee wat ons vra, soek of voor klop. In elk geval baie meer as wat ons dit van aardse pa’s kan verwag. Die gawe van die Heilige Gees – God self – bewys dat Hy niks terughou wat goed is vir ons nie. Daarop kan ons vertrou.

Daarom moedig Jesus ons aan om te bid:

Vra, en vir julle sal gegee word;

soek, en julle sal vind;

klop, en vir julle

sal oopgemaak word.

10Want elkeen wat vra, ontvang;

en wie soek, vind;

en vir wie klop, sal oopgemaak word.

Wie só bid, ontvang die Heilige Gees as die allerbeste gawe van God. Dit bevestig dat gebed oor veel meer gaan as versoeklysies wat ons na God toe bring. Gebed is ‘n dringende soeke na en dankbare ontvangs van God self!

Laai af: Word – PowerPoint

Lukas 10:38-42 – 17 Julie

Koninkrykstyd 6

Gesels in Familietyd oor die feit dat ons soms moet keuses maak. Wat is dit wat die skaal na die een of die ander kant laat swaai? Wat is ons prioriteite, en wat bepaal ons prioriteite? Om by Jesus se voete te sit en by Hom te leer is belangrik. Dan weet ons beter wat om te doen en wat om te los. In ons besige lewe versuim ons dikwels om die belangrike dinge te doen, en ons mors tyd met onbelangrike dinge. Gesels met die kinders oor die verskil. Moedig hulle aan om elke dag tyd te maak om stil by die Here se voete te gaan sit – en na Hom te luister. Daar is ook ‘n bruikbare bydrae oor die tema “Die belangrikste ding” wat presies die kern van die fokusteks is. Dit is beskikbaar by http://www.sermons4kids.com/mostimportantthing.html en vir u gerief word dit hier voorsien. (Primêre bron is www.textweek.com). Die preekriglyn sluit aan by die feit dat die gebeure afspeel binne die reis wat Jesus vanaf Lukas 9:51 na Jerusalem onderneem. Tydens hierdie reis na Jerusalem praat Jesus telkens dringend met sy dissipels oor wat dit beteken om Hom te volg. In Jesus se onderrig daag Hy die grense wat ons so graag trek uit. In ons teksgedeelte bly nog ‘n grens in die slag. Deur by Jesus se voete te gaan sit, neem Maria die posisie van ‘n dissipel in en luister na sy onderrig (10:39). Sy is gefokus en gretig om van Jesus te leer. Martha, daarenteen, is “baie besig”, “baie bedrywig”, 1983-vertaling) – met wat letterlik “baie bedieninge” beteken. Martha wou óók graag na Jesus luister, maar haar aandag word afgelei deur die druk wat sy op haarself plaas om eerder ‘n goeie gasvrou te wees. Sy kies dus een ding bo ‘n ander. In terme van die kulturele verwagtings van haar tyd, doen Martha presies wat sy behoort te doen: Sy bied gasvryheid aan Jesus. Maria tree teen die kulturele norm op deur die rol van student in te neem – dit is nié wat ‘n vrou behoort te doen nie. Maria betree hier die ruimte van die mans. Deur haar dit toe te laat, tree Jesus eweneens nie volgens die kulturele verwagting op nie. Met die vertelling oor Maria wat die plek van ‘n man inneem, word ‘n tradisionele grens binne Israel (die grens tussen mans en vroue) óók uitgedaag, selfs uitgevee: “… to sit at the feet of a teacher was a decidedly male role … Mary has quietly taken her place as a would-be teacher and preacher of the kingdom of God. Jesus affirms her right to do so.” (NT Wright) Inderdaad, dit is soos die koninkryk van God werk. Wanneer Jesus ons lewe betree, herskryf Jesus ons agenda. Die grens tussen vriend en vyand word oorgeskryf, die grens tussen tradisionele rolle vir man en vrou word uitgevee, die grens tussen die dringende aansprake van die wêreld en die belangrike prioriteite van Jesus kry nuwe inhoud.

Laai af: Word – PowerPoint

Lukas 10:25-37 – 10 Julie

Koninkrykstyd 5

Vertel die storie van Emily Hobhouse in Familietyd. Sy was ‘n Brit – van Engeland af, wat geleef het in ‘n tyd toe die Engelse hier in Suid-Afrika kom oorlog maak het.  Oorlog is altyd baie erg, baie wreed.  Terwyl die boere gaan veg het in die oorlog, het die Engelse die boere vroue en kinders gevat en toegesluit in wat mense “konsentrasiekampe” genoem het.  Konsentrasiekampe is soos tronke, maar dis eintlik maar net tente waar duisende mense, ook kinders en babatjies, woon.  In die kampe is mense baie, baie sleg behandel.  Hulle het nie kos gehad nie, nie seep nie.  Dit was baie warm, of baie koud.  Party mense sê dat daar in sommige van die kampe tot 50 kinders per dag dood is. Emily was van Engeland.  Sy kom in Suid-Afrika.  Sy is Engels.  Die Engelse en die boere maak oorlog.  Emily sien hoe lyk dit in die kampe, hoe die mense – haar vyande – daar behandel word. Nou sal ‘n mens dink sy sal lekker kry.  Dis mos haar vyande!  Maar Emily het gesê, “Nee!  Dit kan nie so werk nie.  Ons kan mense nie so behandel nie.  Dit is nie reg volgens die Bybel nie.” En sy het begin werk om die omstandighede te verbeter.  Sy het verslae geskryf, het vir die mense in Engeland gesê wat aangaan. Toe die oorlog oor is, het sy vir lank in SA gebly om die mense wat deur die oorlog seergemaak is – die mense wat eintlik haar vyande moes wees – te help.  Sy het vir jong meisies geleer weef en handwerk doen, sodat mense weer kon geld verdien. So Emily het die mense gehelp wat eintlik haar vyande moes wees. Die preekriglyn begin by ‘n wetgeleerde in Lukas wat Jesus vra hoe om die ewige lewe te verkry, Jesus se gesprek met hom, waarna die gelykenis van die barmhartige Samaritaan Jesus se bedoeling toelig. Dit sluit dan af met Jesus se aanmoediging: “Gaan doen jy ook so”.

Laai af: Word – PowerPoint