Lukas 10:38-42 – 17 Julie

Koninkrykstyd 6

Gesels in Familietyd oor die feit dat ons soms moet keuses maak. Wat is dit wat die skaal na die een of die ander kant laat swaai? Wat is ons prioriteite, en wat bepaal ons prioriteite? Om by Jesus se voete te sit en by Hom te leer is belangrik. Dan weet ons beter wat om te doen en wat om te los. In ons besige lewe versuim ons dikwels om die belangrike dinge te doen, en ons mors tyd met onbelangrike dinge. Gesels met die kinders oor die verskil. Moedig hulle aan om elke dag tyd te maak om stil by die Here se voete te gaan sit – en na Hom te luister. Daar is ook ‘n bruikbare bydrae oor die tema “Die belangrikste ding” wat presies die kern van die fokusteks is. Dit is beskikbaar by http://www.sermons4kids.com/mostimportantthing.html en vir u gerief word dit hier voorsien. (Primêre bron is www.textweek.com). Die preekriglyn sluit aan by die feit dat die gebeure afspeel binne die reis wat Jesus vanaf Lukas 9:51 na Jerusalem onderneem. Tydens hierdie reis na Jerusalem praat Jesus telkens dringend met sy dissipels oor wat dit beteken om Hom te volg. In Jesus se onderrig daag Hy die grense wat ons so graag trek uit. In ons teksgedeelte bly nog ‘n grens in die slag. Deur by Jesus se voete te gaan sit, neem Maria die posisie van ‘n dissipel in en luister na sy onderrig (10:39). Sy is gefokus en gretig om van Jesus te leer. Martha, daarenteen, is “baie besig”, “baie bedrywig”, 1983-vertaling) – met wat letterlik “baie bedieninge” beteken. Martha wou óók graag na Jesus luister, maar haar aandag word afgelei deur die druk wat sy op haarself plaas om eerder ‘n goeie gasvrou te wees. Sy kies dus een ding bo ‘n ander. In terme van die kulturele verwagtings van haar tyd, doen Martha presies wat sy behoort te doen: Sy bied gasvryheid aan Jesus. Maria tree teen die kulturele norm op deur die rol van student in te neem – dit is nié wat ‘n vrou behoort te doen nie. Maria betree hier die ruimte van die mans. Deur haar dit toe te laat, tree Jesus eweneens nie volgens die kulturele verwagting op nie. Met die vertelling oor Maria wat die plek van ‘n man inneem, word ‘n tradisionele grens binne Israel (die grens tussen mans en vroue) óók uitgedaag, selfs uitgevee: “… to sit at the feet of a teacher was a decidedly male role … Mary has quietly taken her place as a would-be teacher and preacher of the kingdom of God. Jesus affirms her right to do so.” (NT Wright) Inderdaad, dit is soos die koninkryk van God werk. Wanneer Jesus ons lewe betree, herskryf Jesus ons agenda. Die grens tussen vriend en vyand word oorgeskryf, die grens tussen tradisionele rolle vir man en vrou word uitgevee, die grens tussen die dringende aansprake van die wêreld en die belangrike prioriteite van Jesus kry nuwe inhoud.

Laai af: WordPowerPoint

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui