Jeremia 32:1-3a, 6-15 – 25 September

Koninkrykstyd 16

Vertel vir die kinders van die uitgestrektheid en hoë ouderdom van die heelal. Lê klem daarop dat dit vir ons wys hoe God is en dat dit ‘n geskenk van God is wat as verantwoordelikheid aan ons toevertrou word. Daar is ook ‘n opvoering ingesluit wat met die kinders gedoen kan word. Die preekriglyn sluit aan by die baie pogings wat daar is om mense positief te maak oor Suid-Afrika. Soos die #ImStaying – ek gaan bly – beweging wat op die oomblik sterk aan die gang is. Maar wanneer mense begin gesels, dan hoor jy die hoop is maar min. Ons praat oor staatskaping, korrupsie, misdaad, droogte. Die skim wat vir ons almal loer, is grondhervorming – en spesifiek grondonteiening sonder vergoeding. Sal jy grond koop wat beset is? Of erger nog: besette grond wat spesifiek geoormerk is vir onteiening sonder vergoeding? Dit is presies wat Jeremia doen.

Laai af: Word – PowerPoint

Jeremia 8:18-9:2 – 18 September

Koninkrykstyd 15

Vandag se teks verwoord swaar emosies van rou – emosies waarmee kinders ook bekend is. As jy dit nog nie het nie, is dit nóú die tyd om Die Klip in Lisa se Borskas deur Siegfried Louw aan te skaf – R99 by Bybel-Media. Hierdie briljante storie praat op ‘n kinder-vriendelike manier oor verlies en rou (en die hantering daarvan), sonder om dit te probeer minimaliseer of wegpraat. Daar is ook gratis inkleurprente en patrone om poppe van die karakters te maak. Jy kan ook die pragtige storie Whimsy’s Heavy Things  deur Julie Kraulis vertel. (Anders as Lisa se verhaal, minimaliseer hierdie storie wel kinders se swaar emosies.)  Hier is ‘n video daarvan – die storie is vanaf 1:30 tot 4:30. Dit is ook beskikbaar op Google Play en Kobo. Die profesieë van Jeremia, ook in ons teks, getuig van die diepe ellende waarin die volk van God verkeer. Oor hierdie diepe ellende hang hoofstuk 9:1 en 2 se “Ag!” Aan die een kant is die ellende weens die politieke en militêre situasie. Maar, aan die ander kant sit Jeremia ‘n dieper oorsaak op die tafel, die volk se sonde. Israel het gesondig en God straf haar deur die hand van die Babiloniërs. Israel se lojaliteit aan God het in die gedrang gekom as gevolg van haar sonde. Die godverlatenheid wat Israel ervaar, is juis die gevolg van haar sonde – so ook die verwoesting van Jerusalem. Dit is belangrik om egter daarop te let dat God, wat hier in gesprek met Israel is, sélf deur en saam met die profeet die “ag” uiter wat Israel nie in staat is om te uiter nie. Hierin roep God vir Israel tot empatie juis omdat Hy Homself in sy vryheid in Israel se lyding inleef. Die woord van die Here kom tot Israel in die sug. Die “ag” is vertroosting én vermaning. Dit bring ons by Jesus Christus. In Christus word die menslikheid van God juis in volheid geopenbaar. In Christus word ons bewus van God se verwondheid en lyding – namens ons en in ons midde. In die aanhoor en aanskouing van God as lydende God, word die mense van God geroep tot ‘n lewe waarin die sug van “ag” weerklink en ons dring tot ernstige verdieping in ons verhouding met God en met mekaar.

Laai af: Word – PowerPoint

 

Jeremia 4:11-12, 22-28 – 11 September

Koninkrykstyd 14

Met Familietyd kan jy aansluit by wat ons in Jeremia 4 lees dat God se volk hom teleurgestel het deur sonde te doen. Daarom waarsku die Here die volk Israel dat Hy sy straf oor hulle sal laat kom. Die prentjie wat God gebruik om sy straf te beskryf vind ons onder andere in Jeremia 4, ‘n wind wat van die woestyn kom. Gebruik nou verskillende tekste in die Bybel om die ingeslote blokkiesraaisel op te los. Die preekriglyn sluit aan by die historiese omstandighede waarbinne Jeremia optree. Dit was ‘n tyd waarin Juda se geloof het al meer om die tempel gedraai en al minder om God. Die Judeërs het hulle egter misgis met God. Hulle het hulleself as slagoffers van die ryk en groot magte beskou, maar nooit na hulleself en hulle eie gedrag gekyk nie. Selfs in hulle donkerste tyd het hulle nie verantwoordelikheid vir hulle lewe, stad en gedrag geneem nie, want God sal voorsien, het hulle gedink. Nooit het hulle gedink God sal toelaat dat hulle oorval en verwoes word nie, selfs ten spyte van al Jeremia se waarskuwings. Dit lei tot hulle ondergang. Hierdie profesie van Jeremia laat ons ongemaklik voel omdat ons moet erken dit klink baie soos ons eie konteks. Ons leef ook in ‘n onseker tyd. Ons sukkel steeds om te erken dat ons geloof al meer oor ons dinge gaan eerder as oor vertroue in God. Dit moet ons tot selfondersoek lei.

Laai af: Word – PowerPoint