Lukas 10:25-37 – 10 Julie
Koninkrykstyd 5
Vertel die storie van Emily Hobhouse in Familietyd. Sy was ‘n Brit – van Engeland af, wat geleef het in ‘n tyd toe die Engelse hier in Suid-Afrika kom oorlog maak het. Oorlog is altyd baie erg, baie wreed. Terwyl die boere gaan veg het in die oorlog, het die Engelse die boere vroue en kinders gevat en toegesluit in wat mense “konsentrasiekampe” genoem het. Konsentrasiekampe is soos tronke, maar dis eintlik maar net tente waar duisende mense, ook kinders en babatjies, woon. In die kampe is mense baie, baie sleg behandel. Hulle het nie kos gehad nie, nie seep nie. Dit was baie warm, of baie koud. Party mense sê dat daar in sommige van die kampe tot 50 kinders per dag dood is. Emily was van Engeland. Sy kom in Suid-Afrika. Sy is Engels. Die Engelse en die boere maak oorlog. Emily sien hoe lyk dit in die kampe, hoe die mense – haar vyande – daar behandel word. Nou sal ‘n mens dink sy sal lekker kry. Dis mos haar vyande! Maar Emily het gesê, “Nee! Dit kan nie so werk nie. Ons kan mense nie so behandel nie. Dit is nie reg volgens die Bybel nie.” En sy het begin werk om die omstandighede te verbeter. Sy het verslae geskryf, het vir die mense in Engeland gesê wat aangaan. Toe die oorlog oor is, het sy vir lank in SA gebly om die mense wat deur die oorlog seergemaak is – die mense wat eintlik haar vyande moes wees – te help. Sy het vir jong meisies geleer weef en handwerk doen, sodat mense weer kon geld verdien. So Emily het die mense gehelp wat eintlik haar vyande moes wees. Die preekriglyn begin by ‘n wetgeleerde in Lukas wat Jesus vra hoe om die ewige lewe te verkry, Jesus se gesprek met hom, waarna die gelykenis van die barmhartige Samaritaan Jesus se bedoeling toelig. Dit sluit dan af met Jesus se aanmoediging: “Gaan doen jy ook so”.