Jeremia 18:1-11 – 04 September

Koninkrykstyd 13

Die uitdaging van die beeld van die pottebakker en die klei met Familietyd is om kinders te help verstaan dat God ons nie seermaak nie, maar heelmaak. Verduidelik die konsep terwyl jy met ‘n lekker groot stuk klei speel. Maak vooraf genoeg klei om vir elke kind ‘n stukkie te gee. Laat hulle tydens die preek – terwyl hulle luister – met die klei speel. Aan die einde van die diens kan jy weer kans gee, sodat kinders kan kom wys wat hulle gemaak het. Die preekriglyn fokus op Jeremia wat as profeet onder mense wat deur omstandighede platgeslaan en getraumatiseerd was, optree. Hulle was figuurlik in die smeltkroes, of – in terme van hierdie gedeelte – op die pottebakker se tafel. Tog het hulle ‘n blindekol gehad: hulle kon nie hulle eie aandeel in hulle ondergang en trauma herken of erken nie. Hulle kon ook moeilik vir God raaksien, en hoe God met hulle aan die werk is in hulle omstandighede.

Laai af: Word – PowerPoint

Jeremia 2:4-13 – 28 Augustus

Koninkrykstyd 12

Om die ondenkbare te illustreer dat Israel haar God prysgegee het vir gode wat nie gode is nie, kan die storie van Daantjie met Familietyd dramaties vertel word. Hy was sy lewe lank nog passievol oor rekenaars. Vir sy ouers is dit maklik- as jy Daantjie wil dissiplineer moet jy gewoon sy rekenaar van hom wegneem vir n dag of twee. Maar die grootste ding van die rekenaar wat Daantjie geniet is die speletjies. Hy moes lank spaar om die R400 bymekaar te kry vir die speletjie “Company of Heroes”. Maar uiteindelik kon hy dit koop en nou is daar niks wat hom terughou nie. Ongelukkig was hy met ’n slenter uitgevang. Die nuwe “Company of Heroes 2” program werk nie op sy rekenaar nie. Klink omtrent soos die verhaal van Jeremia se God wat sy hande saamslaan as Hy sê… Het so iets al ooit gebeur? Het ’n volk ooit hulle gode vir ander gode verruil al is hulle nie regtig gode nie? Tog het my mense My verruil vir gode wat niks werd is nie! Met dié inset vir kinders kan ‘n mens dan oorgaan na die prediking wat wegskop met die feit dat die teks gegiet is in die vorm van ‘n antieke amptelike klagstaat of regsgeding; die regsgeding van die Here teenoor sy volk. Hulle word aangekla van die ergste graad van afvalligheid. Die Here waarsku, pleit, dreig, roep getuies in, herinner aan die verlede en verwerp moontlike verontskuldigings. Die punt wat Jeremia 2 dan maak, is dat om God te vergeet erger is as bloot vergeet. Vergeet is om God te verruil. Dit gaan nie oor algemeen-menslike vergeetagtigheid nie. Dit gaan ten diepste oor sonde. Dit is ‘n morele kwessie. Dit gaan oor die hart en wil van die volk wat nie meer by God was nie. Die ergste van vergeet is dat dit so ongemerk gebeur. Die volk vergeet die Here, verruil die Here, vernietig hulleself … en hulle weet dit nie. Die verskriklikste is dat dit ook van ons waar mag wees, maar dat ons dit dalk nie weet nie. Juis omdat dit so ongemerk gebeur, roep die Here profete en priesters om die kerk te herinner. Die Woord van die Here kom tot hulle, spoor hulle aan om te sê: “Hoor die Woord!” Dit is die Here se bedoeling dat ons moet onthou. God spoor ons aan om ons voortdurend te bekeer. Hy bedoel dat ons lewe omdat ons onthou.

Laai af: Word – PowerPoint

Jeremia 1:4-10 – 21 Augustus

Koninkrykstyd 11

As jy dit nog nie gedoen het nie, skaf beslis die lieflike “Jeremia en die Amandelboom” deur Wendy Maartens aan vir Familietyd. “Gebaseer op die Bybelse verhaal van Jeremia se roeping, vertel hierdie pragtige prenteboek die storie van ’n jong Jeremia wat met spraak gesukkel het totdat die Here hom aangeraak en ’n amandeltak as belofte gewys het. Nie net is hierdie storie pragtig en toeganklik geskryf soos net Wendy Maartens kan nie, maar die boek bevat ook inligting en hulpbronne vir ouers en onderwysers om te help met spraakontwikkeling in kleuters. Hierdie bemoedigende verhaal sal alle kinders wys dat hulle spesiaal is vir die Here en dat Hy hulle sal help en gebruik.” Dit is vir R102 beskikbaar by Lapa of kry die kindle weergawe vir $6.97. Ons gaan vir die volgende 4 weke uit Jeremia lees – jy kan hierdie verhaal Sondag na Sondag stuk-stuk soos ‘n vervolgverhaal lees, wat ook vir almal iets gee om na uit te sien. Die profeet Jeremia worstel in sy boek met sy roeping om vernietiging en oordeel oor die volk Juda en hulle leiers aan te kondig. Sy boodskap is dat die volk God vergeet het en geweier het om Hom te erken. Hulle is so nutteloos in die verhouding met God soos ‘n verslete gordel om sy lyf. Daarom is die Here hulle nie meer goedgesind nie en het Hy geen medelye meer met hulle nie. En al breek dit Jeremia se hart, verkondig hy dat soos ‘n kleipot gebreek word, sal die Here hierdie volk en hierdie stad breek. Die ballingskap in Babel is hulle straf. Die Here gaan hulle nie spaar nie en hulle deur hulle vyande laat wegvoer. Ironies genoeg is die ballingskap egter ook hulle redding. As deel van Jeremia se roeping om ook op te bou en te vestig, beskryf hy daarom die weggevoerde ballinge as ‘n mandjie goeie vye en in ‘n brief verkondig hy die Here se goeie guns aan hulle: “Ek weet wat Ek vir julle beplan, sê die Here: voorspoed en nie teenspoed nie; Ek wil vir julle ‘n toekoms gee, ‘n verwagting. Dan sal julle My aanroep, tot My kom bid, en Ek sal julle gebede verhoor.” (Jer. 29:11-12). Dié hoop kry nog groter betekenis in ‘n grondkooptransaksie wat Jeremia aangaan in Anatot waarmee die Here ‘n belofte aan die volk maak dat ná sewentig jaar van ballingskap daar weer huise, grond en wingerde in Juda gekoop sal word. Die Here belowe om ‘n nuwe verbond met hulle te sluit waarin sy woord op hulle harte geskryf en in hulle gedagtes vasgelê sal wees. Almal sal Hom ken, klein en groot. En dit is presies wat uiteindelik gebeur. Ná sewentig jaar bid Daniël dat die Here die belofte aan die volk sal vervul. En die volk word die geleentheid gegun om terug te gaan na hulle eie land. Waar het dit alles begin? Dit is ons teks vir vandag: Jeremia 1:4-10:

Laai af: Word – PowerPoint