Psalm 8 – 12 Junie

Koninkrykstyd 1 – Drie-eenheidsondag

Gebruik ‘n video soos hierdie vanaf die Hubble Teleskoop en gesels oor sterre. Dalk kan julle deel hoe klein julle voel as julle gaan kamp of ver van die dorp/stad buite slaap en al die sterre sien. Tog maak ons vir God saak. Hierdie video gaan van die aarde af uit en hierdie video begin by ‘n mens, zoom uit en zoom dan weer terug tot by die kleinste boublokkies van die skepping. John Stevens sluit aan by Drie-eenheidsondag en gebruik ‘n familiefoto – kyk gerus na sy idee. Sy fokus is dat ons deel is van God se familie. Die preekriglyn begin met die opmerking dat God ons in Psalm 8 na ons asem laat snak! Dawid is heeltemal oorweldig deur God se luister, maar is terselfdertyd aangegryp deur God se deernisvolle omgee vir die geringe mens. Psalm 8 nooi ons uit om saam met Dawid in verwondering te staan oor die omvang van die hemelruim en die ontsagwekkende heerlikheid van God.

Laai af: Word – PowerPoint

 

Psalm 104:24-34, 35b – 5 Junie

Pinkster Feesdiens

Vertel kortliks die verhaal van Pinkster aan die kinders of lees dit uit ‘n Kinderbybel. Verduidelik dat daar tekens was dat die dissipels die Gees ontvang het, soos vuurtonge bo hulle koppe en dat hulle mekaar se tale kon verstaan. (Vra sommer vir die kinders watter tale hulle kan praat en verstaan óf graag sou wou praat en verstaan.) Gebruik ‘n ballon om te verduidelik dat wanneer God se lewensasem (die Gees) ons vul, ons vir ander vreugde kan bring, ons “roeping” kan vervul, en so meer. ‘n Ballon wat nie God se asem in het nie, beteken nie veel vir ander nie. Die preekriglyn sluit uiteraard op soortgelyke wyse aan by Pinksterfees. Ons gedenk die uitstorting van die Heilige Gees. ‘n Klein, bang dissipelkring, word bemagtig om die kerk van die Here in die wêreld te wees. Daarom noem mense dit die geboortedag van die kerk. Vandag lees ons ‘n Psalm wat God as Skepper eer. Die Bybel stel ons aan God die Vader voor, die Vader van ons Here Jesus Christus. Dit is die Vader en die Seun wat die Heilige Gees op Pinkstersondag oor die wêreld uitgiet en ‘n Christusgemeenskap, die kerk tot stand bring. Ons belydenis van God as Skepper, Jesus Christus as Verlosser, en die Heilige Gees as Lewegewer is ten nouste met mekaar verweef. Op Pinksterdag beleef ons God se trou aan God se skepping. God het sy skepping nie versaak of aan sy eie lot oorgelaat nie. God het sy Seun gegee. God het sy lewegewende Gees oor die skepping uitgegiet. Wanneer ons vandag se teks lees en oordink, hoor ons God se sorg en trou in Jesus Christus en in die lewegewende Heilige Gees op ‘n helder manier.

Laai af: Word – PowerPoint

Openbaring 22:12-14, 16-17, 20-21 – 29 Mei

7de Sondag van Pase

John Stevens stel voor dat jy die advertensie gebruik van iets wat op pad is – ‘n restourant wat oopmaak, ‘n fliek waarna almal uitsien. Soos die ou fliek advertensies “coming soon”. Verbind dit aan die belofte dat Jesus belowe om vinnig terug te keer. Die preekriglyn veronderstel ‘n wyer teksseleksie as die Leesrooster se teksindeling. Openbaring 21-22 is bedoel om jou opgewonde te maak oor wat vir ons as kinders van die Here wag. Johannes beskryf die koms van die nuwe hemel en nuwe aarde, en die vestiging van die Nuwe Jerusalem uit die hemel om ons te inspireer dat dit ons einddoel is. Dat alles nuut gemaak sal word. Dat ons in God se heerlikheid vir ewig sal bly. Openbaring 22 rond dié prentjie af met ‘n beskrywing van die water van die lewe wat uit die troon van God en die Lam uit die stad vloei. Die boek sluit af met ‘n versekering van die spoedige en besliste wederkoms belofte van die Here Jesus om ons aan te moedig om aan te hou om vas te hou aan die woorde van God. Dit beklemtoon dus weer eens dat God in beheer is: Hy rig die mensegeskiedenis en inisieer die verloop van gebeure. Dit gee gelowiges gemoedsrus, maar besiel ons ook met hoop omdat ons weet God is die Oorwinnaar. Dit gee moed vir die hede en hoop vir die toekoms.

Laai af: Word – PowerPoint