Efesiërs 1:15-23 – 26 Mei

Hemelvaart Feesdiens

Gebruik die “Godly Play”-metode om die kinders aan die geheimenis van Hemelvaart bekend te stel. Met Hemelvaart beleef ons die wonder dat die Lam vir wat vir ons geslag is, en vir ons uit die dood opgewek is, nou die Een is wat aan God die Vader se regterhand sit. Dit beteken hierdie Jesus regeer oor die ganse kosmos. Dit beteken ook Hy is verhef bo elke owerheid en gesag en mag en heerser. Alles is onder sy voete gestel. Hy is die Hoof oor alles, ook oor die kerk, oor ons, sy liggaam. Só sê ons teks. Jesus se menswording, sterwe, opwekking en hemelvaart is afgehandelde gebeure. Dit is feite. Dit is vir ons. Ons taak is om in hierdie werklikhede in te groei, dit ons eie te maak, toenemend te leer om die wêreld te bekyk vanuit hierdie stel feite. Ons aandag word so maklik afgetrek. Ons is so geneig om ander brille op te sit as die bril wat God gee. Dan sien ons ellende, wanhoop en mislukking raak. Die wêreld is inderdaad stukkend. Ons moet dit egter leer sien en leer interpreteer vanuit die wat God gedoen het. Daarom is Paulus in ons teks, waarin die wonder van Jesus se hemelvaart beskryf word, besig om vir die Efesiërs, en eintlik ook vir ons te bid.

Laai af: Word – PowerPoint

Openbaring 21:10, 22-22:5 – 22 Mei

Sesde Sondag van Paastyd

As julle hierdie hele reeks lank Openbaring se “kodes” ontsyfer het (kyk 8 Mei se Preekriglyne), dan kom daar vandag nuwe kodes by, wat volgens Carolyn Brown nogal moeilik is om uit te pak, soos die boom wat vrugte dra en die rivier met kristalhelder water. Brown stel voor dat jy gewoon vra of dit na ‘n goeie of slegte plek klink om te woon. Wat laat dit goed of sleg klink? Wie is in beheer? Hoe help dit Christene wat nou swaarkry? ‘n Ander lekker opsie, wat die volwasssenes ook sal geniet, is dat jy prente van al die stene wat in die teks genoem word, wys. Hierdie prente kom ook van Carolyn Brown af. John Stevens praat oor die lig wat van die sentrum van die stad, van die Lam af kom, dat daar nie meer lig van die son af nodig is nie. Hy praat oor mense wat lyk asof hulle “gloei” (wat ‘n “glow” het) en hoe Jesus ons lig is, asook hoe ons Jesus se lig kan laat skyn. Die simbool van die glowsticks wat hy gebruik, sal die kinders baie geniet. Grootmense sal die gedagte dat glowsticks eers gloei wanneer dit gebreek word, waardeer. Vind meer by Stevens se blog.  Die preekriglyn sluit aan by die waarneming dat dit lyk of vloed en droogte deel van ‘n nuwe weerpatroon in ons land is. Ons leef in ‘n waterskaars land met uiterste temperature en wisselvallige reënval. Afrika suid van die Sahara is in gevaar. Droogtes is algemeen. Ons sien die nuusopskrifte: “Diere kry swaar op die plase”; “Boere spuit bloeisels af om bome te red”; “Werksgeleenthede is verlore”. Opeenvolgende droë jare breek mense se moed. In die droë seisoen ontstaan veldbrande wanneer weerlig slaan of rotse val. Ons ekosisteem is goed aangepas by vuur, maar vanweë mense se onverskilligheid en soms ook moedswilligheid, brand dit te veel en lei mens en natuur groot verliese. Dan sien ons weer die skade wat vloedwater kan aanrig. In KwaZulu-Natal en voormalige Transkei het water enorme lewensverlies en beskadigde infrastruktuur veroorsaak. Terwyl alles op een kol wegspoel, is daar steeds dele van ons land waar daar nie drinkwater is nie. Damme is leeg, terwyl ander verdrink. Teenoor die beelde van ‘n oorspoelde of verskroeide aarde, ontvang Johannes die Ou-Testamentiese beelde van Esegiël 47 op ‘n nuwe, wonderlike manier. Hy sien hoe die nuwe Jerusalem van God af kom uit die hemel (Op 21:10). ‘n Rivier met water so helder soos kristal stroom uit die troon van God. Tussen die hoofstraat van die stad en die waterstroom staan die boom van die lewe, ‘n boom wat elke maand vrugte dra. Die boom se blare bring genesing. Dit is ‘n geneesmiddel nie net vir Israel nie, maar vir ál die nasies. Niks wat vervloek was, is nou meer vervloek nie. Die troon van God en die Lam is gevestig in die stad. Die mense dien God. Hulle sien God. Sou die mooi prentjie van die kristalhelder water en die rustige boom met sy genesende blare ons dan passief maak? Nee, want ons weet die Christelike geloof is nie ‘n “eendag”-geloof nie. Dit is nie ‘n eensydige “hemel”-geloof nie. Ons verwagting en hoop op Christus vir eendag, stuur ons terug na vandag. Dit stuur ons moedig terug na vandag. Christus het immers reeds gekom. Die “Lam” se liggaam is reeds gebreek. Terwyl ons nou in die laaste dae leef, wag ons aktief op die nuwe stad en die helder rivier. Deur die Gees neem ons reeds deel aan wat Christus kom doen het. Die Naam van God is reeds op ons voorkoppe geskryf. Ons deel reeds in die oorwinning oor die sonde en die dood. Daarom kan ons stry, onsself verset teen dit wat verkeerd en swaar en sleg is, en ons bes doen om saam tekens op te rig van die nuwe skepping met vrugbare grond, wonderlike lig, helder water, en harmonie tussen mense en tussen mens en natuur.

Laai af: Word – PowerPoint

Openbaring 21:1-6 – 15 Mei

Vyfde Sondag van Paastyd

Gesels met Familietyd oor ’n bangmaak fliek wat hulle al gekyk het (Harry Potter, of selfs Peter Pan, Finding Nemo se begin, Kung Fu Panda, Brave, ens).  Baie keer is dit moeilik om die “scary” dele te kyk – mens wil jou oë toemaak of uit die vertrek uitgaan.  Maar as mens eers een keer die fliek gesien het, dan weet jy hoe dit gaan eindig.  En wanneer jy die einde gesien het, kan jy dapper wees deur die scary dele.  Johannes vertel vir Christene van die einde wat kom – dat God die hemel en die aarde nuut gaan maak.  Dit help ons om dapper te wees. Openbaring 21:1-6 handel oor die nuwe hemel en die nuwe aarde, en die koms van die nuwe Jerusalem na die aarde as die woonplek van God. Dit volg op ‘n beskrywing van die oorwinning oor Satan en die laaste oordeel. Die kernboodskap is dat die skepping van die nuwe hemel en die nuwe aarde ‘n daad van God is. Mense kan nie die koninkryk tot stand bring nie. Die boodskap aan die kerk in ‘n moeilike tyd van haar bestaan help ons, net soos daardie vroeë gelowiges, om ons broosheid en kwesbaarheid in die oë te kyk. Terselfdertyd laat Openbaring ons sien hoe gemeentes met die genade van die Here ‘n betekenisvolle rol in ‘n misleidende en verwarrende wêreld kan speel.

Laai af: Word – PowerPoint