2 Konings 5:1-14 – 03 Julie

Koninkrykstyd 4

Die inleiding tot die preekriglyn kan netso gebruik word as familie-oomblik. Addisioneel, ‘n resep vir sjokoladepoeding agter op ‘n boksie as illustrasie van God wie se planne eenvoudig is… Vandag se teks leer ons om met verwagting te lewe in ‘n wêreld waar God nog wonders doen! Eerstens leer ons in hierdie teks dat die heldin ‘n klein dogtertjie is wat vir ons wys wat dit beteken om God te ken en die goeie nuus te vertel wat ander mense se lewens kan verander. Tweedens leer ons teks ons dat gewone goed belangrik is, nie net die buitengewone nie. Derdens leer die teks ons dat God wonders doen deur die gewone goed wat ons doen. Vierdens leer ons dat dankbaarheid die draad is wat ons lewens se lappieskombers aan mekaar weef.

Laai af: Word – PowerPoint

2 Konings 2:1-2, 6-14 – 26 Junie

Koninkrykstyd 3

Gaan kyk gerus na vorige preekriglyne vir hierdie teks se voorstelle vir familie-oomblik – daar is heelwat praktiese en bruikbare idees. In aansluiting by die preek kan jy ‘n oorsig gee van Elisa se bediening. Hier is ‘n oulike video-oorsig. Jy kan die klank afsit en die vertelling in Afrikaans doen – jy sal net vooraf die tydsberekening moet oefen. Hier is ‘n voorbeeld van iemand wat Elisa se verhaal in onder 4 minute vertel.  Die preekriglyn fokus oorsigtelik op die bediening van Elisa. Dit toon aan waartoe die oordrag van Elia se mantel op Elisa alles gelei het. Daar is ‘n paar dinge wat uitstaan in hierdie verhaal van Elia en Elisa wat ons leer hoe die bediening werk, en ek lig ‘n paar daarvan uit. 1. Die Here is in beheer van sy profete. Die mantel van Elia wat oorgaan op Elisa wys na die Here se gesag wat deur sy werk aan die orde kom. 2. Elisa se bediening was aan gewone mense sowel as aan vernames. Mag dit van ons ook waar wees. Dat ons bediening gewone mense sowel as magtiges sal aanspreek. Dat ons onbevreesd, maar ook met deernis met mense sal werk in opdrag van die Here. 3. God kan met alles vertrou word. Hy is nie net besorgd oor die groot dinge wat almal se lewens raak nie. Hy is ook besorgd oor die kleiner dinge wat in die alledaagse lewe verkeerd loop. Soos die bylkop wat wegraak. Maar, dan is God ook in die groot dinge betrokke, hoewel ons dit soms moeilik raak sien, omdat dit slegs vir die geloofsoog sigbaar is. Elisa ontvang egter die vermoë van God om die onsigbare nie net raak te kan sien nie, maar dit ook vir ander sigbaar te maak. Soos die keer wat Elisa vir Gehasi help om God raak te sien in die konflik met die Arameërs. Elisa het gebid: “Here, maak tog sy oë oop, dat hy kan sien!” En die Here het geantwoord en Gehasi se oë oopgemaak vir die berg rondom Elisa wat vol perde was, en strydwaens van vuur! Dit is ook ons rol. Om mense se oë oop te maak dat hulle kan sien. 4. God soek volledige gehoorsaamheid, en niks minder nie, al het Elisa ook sy kwota moeilike opdragte gehad. Mag dit ook ons nalatenskap wees. Omdat ons gehoorsaam was, en ons die oë van mense oopgemaak het om God te sien.

Laai af: Word – PowerPoint

1 Konings 19:1-4, (5-7) 8-15a – 19 Junie

Koninkrykstyd 2

Carolyn Brown het die skopus van die teks vir kinders besonder raakgevat… “Elijah wished there had been something spectacular.  He would have preferred that God speak to him in the earthquake or maybe some fireworks.  But God was there in sheer silence in a desert cave.  The point for the children is that often God does not come in flashy or dramatic ways, but in the silence that surrounds us.” Gebruik ’n paar items wat van ’n hoogte op ’n tafel val- ’n bout en ’n swaar spyker, kleiner items (spykers ens), tot by ‘n speld of ’n naald wat val. Die geluid waarmee dit items val word al hoe sagter… Iewers gaan ’n item so sag val dat ten spyte van stilte in die kerk dit nie gehoor word nie. Iets hiervan was Elia se ervaring- hy het God verwag in fanfare/ trompette/ optog (vergelyk die stormwind/ aardbewing/ vuur… Elia verwag God se verskyning in duidelik herkenbare natuurtekens, en God kies die stilte van ’n windstilte… Ons teksgedeelte bestaan uit vyf gesprekke. Kom ons volg die gesprekke, want op hierdie manier kom die boodskap van die teks helder na vore. Dit help ons om dan oor ons gemeente se roeping na te dink.

Laai af: Word – PowerPoint