Lukas 11:1-13 – 24 Julie

Koninkrykstyd 7

DinkJeug het baie oulike idees vir die Onse Vader gebed, van gebedsblokkies wat almal kan maak tot gebare waarmee mens die gebed kan bid. Daar is baie oulike voorstelle en aktiwiteite. https://dinkjeug.co.za/erediens-wenk-onse-vader-gebed/ Ons preekteks bestaan uit vier aspekte wat almal oor gebed gaan:

  • Op versoek van die dissipels leer Jesus hulle om te bid (11:1-4)
  • Die gelykenis van die onbeskaamde vriend wat hulp om middernag soek (11:5-8)
  • ‘n Oproep of aanmoediging om te bid (11:9-10)
  • Die gelykenis van die pa wat weet om goeie dinge te gee (11:11-13).

Nadat ons vir ‘n oomblik by hierdie elemente van ons teks stilgestaan het, word dit as ‘n paar ongelooflik ryk aspekte van gebed uitgelê.

Eerstens leer ons in die modelgebed of dissipelgebed wie die God is wat ons aanbid, en hoe heilsaam en genesend dit is om hierdie God as Vader te ken en in gemeenskap met Hom te leef. Die Naam van ons Vader wat geheilig word, as God erken en gevolg word, is waar daar vir ons hoop en vrede te vind is. Die koms van hierdie Vader se koninkryk bring die genesing en herstel waarop ons hoop.

Tweedens is dit die voorbeeld van Jesus wat hulle laat vra: “Here, leer ons bid.” Hier is nie langer twyfelvrae oor die waarde van gebed of oor God se getrouheid om ons te hoor nie. Hier is gretige leerlinge wat reeds iets van die waarde van gebed in Jesus se lewe eerstehands beleef het. Hulle is begerig om soos Hy te leer bid. Hulle het reeds die gereg geniet, nóú wil hulle die geheime resep leer.

Derdens: Wat leer Jesus ons hier oor die Vader? Nie dat ons sy arm kan draai deur volhardende gebed, deur knaend te wees en aan te hou vra nie, maar bloot dat ons met vrymoedigheid ons nood na Hom kan bring.

Ons kan hierdie prentjie van God ter harte neem. God is meer vrygewig as wat ons ooit kan dink. Hy is meer gereed om aan ons te gee wat ons vra, soek of voor klop. In elk geval baie meer as wat ons dit van aardse pa’s kan verwag. Die gawe van die Heilige Gees – God self – bewys dat Hy niks terughou wat goed is vir ons nie. Daarop kan ons vertrou.

Daarom moedig Jesus ons aan om te bid:

Vra, en vir julle sal gegee word;

soek, en julle sal vind;

klop, en vir julle

sal oopgemaak word.

10Want elkeen wat vra, ontvang;

en wie soek, vind;

en vir wie klop, sal oopgemaak word.

Wie só bid, ontvang die Heilige Gees as die allerbeste gawe van God. Dit bevestig dat gebed oor veel meer gaan as versoeklysies wat ons na God toe bring. Gebed is ‘n dringende soeke na en dankbare ontvangs van God self!

Laai af: WordPowerPoint

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui