Lukas 20:27-38 – 6 November

Koninkrykstyd 22

Tydens hierdie eerste Sondag van die Seisoen van Voleinding kan ‘n moment geskep word om die kinders te vra om te vertel wat hulle die afgelope jaar in die kategese geleer het. Een of twee volwasse lidmate kan ook genooi word om van ‘n bediening te vertel waarby hulle betrokke is en wat dit vir hulle beteken. Of vra die kinders hoe hulle dink dit op die nuwe aarde gaan wees.  Kry verskillende antwoorde.  Na alles weet ons nie regtig hoe dit gaan wees nie.  Wat ons wel weet, is dat ons by Jesus gaan wees en dat dit wonderlik gaan wees. Dit gaan heel anders wees as wat ons nou beleef.  Noem ’n paar slegte dinge op.  Op die nuwe aarde gaan daar net goeie dinge wees en om daaraan deel te hê, vra die Here dat ons in Jesus sal glo. Uit dankbaarheid dien sy kinders Hom in gehoorsaamheid.

Ons teks kom uit ‘n besondere hoofstuk in die Lukasevangelie. Die gebeure speel af in die laaste week van Jesus se lewe voor sy kruisiging. ‘n Bekende teoloog sê dit is soos ‘n saamgestelde skildery waar al die tonele die evangelie in ‘n kompakte vorm saamvat. Die volgende gebeur:

  • Die leierpriester en skrifkenners vra Jesus uit oor die gesag waarmee Hy optree (na aan leiding van sy dramatiese intog in Jerusalem en sy reiniging van die tempel)
  • Jesus vertel die gelykenis van die huurders wat die seun van die wingerd se eienaar dood (as profesie van sy eie dood)
  • . Dan volg die vraag oor die betaal van belasting aan die keiser, wat aanleiding sou gee dat Jesus aan die Romeine oorgegee word
  • Dan volg ons teks, wat vertel van die vraag oor die opstanding uit die dood
  • Daarna vra Jesus ‘n vraag oor die seun van Dawid, en hoe die Christus die seun van Dawid en die Here van Dawid kan wees.

Ons teks speel in gelade tyd af. Die spanning loop hoog. Dit is die laaste week voor Jesus se kruisiging. Daar is ‘n sterk bevraagtekening van die gesag van Jesus, die betekenis van sy bediening, en die hoop wat dit inhou vir mense wat Jesus as Here ken en volg.

Wat is die boodskap van hierdie teks vir ons tyd? Ons dink eerstens aan die einde van die tye wat in God se hand is. Ons dink tweedens hoe Jesus se opstanding uit die dood sy volgelinge se opstandingsgeloof versterk het. Derdens help hierdie gedeelte ons om altyd verder te kyk as die materiële. Die wêreld het ook ‘n geestelike kant, ‘n onsigbare kant. Dit stel ons voor die vraag of ons genoegsaam aandag gee aan die geestelike aspekte van die lewe? Hierdie denke vul ons met ‘n dieper verwondering oor God se heerlike toekoms en God se geregtigheid en lewenskrag wat ook ons lewe, hoop en toekoms is.

Laai af: Word – PowerPoint

Lukas 19:1-10 – 30 Oktober

Koninkrykstyd 21

Kinders sal goed kan identifiseer daarmee om te kort te wees, om nie te kan sien verby ‘n klomp grootmense nie. Gesels oor geleenthede waar dit gebeur het en hoe dit hulle laat voel. Doen dan die Skriflesing op ‘n dramatiese manier, of laat die kinders dit opvoer terwyl jy dit lees. Jy kan ook ‘n video gebruik, soos hierdie een. Hier is ‘n Engelse weergawe wat jy sou kon gebruik as jy self die storie vertel – en vooraf jou tydsberekening oefen. Sing ‘n Saggeus-liedjie soos die een. Hier en hier is inkleurprente.

In Lukas 19 is Jesus teen die einde van sy reis van Galilea na Jerusalem, waar Hy sou sterf.  Saggeus, die kort, skatryk mannetjie, tollenaar en hoofskurk van Jerigo, word die laaste dissipel wat Jesus op sy reis na Jerusalem werf. Tollenaars was onder andere die loan sharks van die tyd.  Sodra jy finansieel in die moeilikheid beland het, kon jy by die tollenaar gaan geld leen, teen geweldige hoë rente. Deur die toedoen van Saggeus se beroep het mense verarm, was daar nie kos op die tafel nie, en was ‘n behoorlike, menswaardige, ekonomies volhoubare lewe vir baie mense nie moontlik nie.  Terselfdertyd het Saggeus die soustrein gery, en waarskynlik nie die einde van sy skatte geken nie. Saggeus het dus sy eie belang vooropgestel. En daarmee nie net van God afvallig geraak nie, maar is met reg uit die gemeenskap van Jerigo uitgestoot. Wat doen Jesus?  Sê Hy, dit is jou verdiende loon, jy wil nie my taal praat nie, jy wil nie saam met My wees nie?  Krepeer in jou ellende? Nee, Jesus stap verby die vyeboom en sien vir Saggeus raak in die boom en praat met hom, begin weer die gesprek, en gaan nog verder, dring daarop aan dat Hy by hom wil gaan eet.  God reik dus uit en dring Saggeus se ruimte binne om die gemeenskap tussen hulle te herstel. Dit is wie God is. En uiteraard vra Hy van ons om op dieselfde manier te leef.

Laai af: Word – PowerPoint

Psalm 65 – 23 Oktober

Koninkrykstyd 20

Gebruik die beeld van die beskerming wat Dawid onder die vlerke van die Almagtige geniet (Ps 63:7). Vra die kinders of hulle al ’n hoender met kuikens gesien het. Brei uit oor hoe sy kloek-kloek na hulle soek en saam met hulle beweeg. In die aand sprei sy haar vlerke wyd uit sodat hulle styf onder haar kan inkruip, waar hulle veilig kan wees. Jy kan ook dramatiseer wat gebeur as daar gevaar sou dreig. Die hen sprei haar vlerke uit om haar groter en bedreigender te laat lyk en sy hou haar kuikens agter haar. Só sorg God vir ons en só beskerm Hy ons in gevaar. Onder ekstra stof word ook genoem dat Psalm 65 ’n lofsang is aan God vir al sy oorvloedige gawes. Dit sluit sy gebedsverhoring en vryspraak van skuld vir alle mense in (vers 2-3), ook die oorvloed van die goeie dinge wat Hy gee vir die geloofsgemeenskap. Gebruik ‘n oase in die woestyn – heelwat ekstra inligting is ingesluit oor oases – as metafoor vir God se voorsienigheid. Vertel die storie van ‘n oase en gebruik die deel van die fokusteks.

Psalm 65 handel ten diepste oor God se absolute toewyding aan en besorgdheid oor die skepping, mense (en Israel) ingesluit. God neem die inisiatief om mense uit te nooi na saamwees, en Hy seën dié wat die uitnodiging aanvaar om in sy teenwoordigheid te kom leef. Geseënde mense is dié wat by God wil wees soos wat God by mense wil wees: “God gee die oorwinnaarskroon vir dié wat met verlange uitsien na sy koms” (2 Tim 4:6-8). Die verhouding waarna God verlang, is nie oppervlakkig en eensydig nie. Dit is nie net ‘n verhouding waarin God die Een is wat gebede aanhoor en die skepping sommer vanselfsprekend onderhou nie. God reageer (lewendig) op mense se gebede en geloftes. God hoor nie net gebede nie, maar verhoor dit volgens sy wil en bestemming. Dit is juis dáárop wat mense in diepe vertroue, stil moet wag. Die wêreld waarin ons leef (veral ná 2020/2021) is een van geraas, ongeduld, oorweldiging en onsekerheid. In hierdie omstandighede moet ons Psalm 65 ontvang. Die psalm is ‘n getuienis van God se troue sorg in die onstuimigste en vreesaanjaendste tye. Soms mag dit voel of die uitdagings in ons lewe (dikwels ons eie sondes) soos ‘n rowwe see voor ons is. Dit is juis dan dat ons vir God daarin moet soek en vertrou. Om dit oor te dra, gebruik die digter vier beelde van water waarmee God in aanraking kom waarop in die preekriglyn uitgebrei word.

Laai af: Word – PowerPoint