Efesiërs 3:1-12 – 1 Januarie

Epifanie Feesdiens

Gebruik Matteus 2:1-12 as teks vir die familie-oomblik. Carolyn Brown suggereer ’n gedramatiseerde vertelling met ’n voorbeeld ingesluit. In die kerklike jaar staan ons nou aan die begin van die periode wat as Epifanie bekendstaan. Die woord epifanie is oorspronklik in die Grieks-Romeinse wêreld gebruik as aanduiding van ‘n amptelike staatsbesoek van ‘n koning of heerser aan ‘n stad van ‘n provinsie, veral in gevalle waar die koning homself aan die burgers wou bekendstel. Ons sou kon sê dat Jesus met sy geboorte, met sy koms as koning na die aarde, Homself op ‘n persoonlike manier aan ons kom bekendstel het, vir ons kom wys het wie Hy is en wat vir Hom belangrik is. Wat die skrywer van Efesiërs kommunikeer rondom die geheimenis van God, is juis die bogenoemde. Deur die Heilige Gees openbaar God sy oorspronklike heilsplan aan die apostels. Dit was skynbaar volgens die openbaring wat die apostels en profete ontvang het nog altyd God se plan om die verbondsfamilie uit te brei sodat nie-Jode en heidene ook ingesluit moes word. Met Epifanie word God aan ons voorgestel, deur die openbaring aan Paulus, as die Een wat diep omgee vir die wêreld. In ons teks verbind Paulus God se besorgdheid oor die wêreld in persoonlike, sosiale en kosmiese (wêreld-omvattende) betekenisse “ooreenkomstig sy ewige voorneme, wat Hy gemaak het in Christus Jesus, ons Here” (11). Paulus neem die geheimenisse wat deur God aan hom bekendgemaak is (3) en deel dit aan die heidene mee (dit is nie-Jode soos ons). Paulus doen dit omdat God die bediening van hierdie openbaring aan die heidene (nie-Jode) aan hom toevertrou het (1-2, 8), sodat “die ryklik geskakeerde wysheid van God nou deur die kerk aan die owerhede en die magte in die hemel bekend gemaak kan word” (10). Paulus roep die kerk (Jode en nie-Jode) op om die geheimenis van Christus (4) te ontdek en te begryp, “en om almal in te lig wat die uitvoering van die geheimenis is wat vir eeue lank verborge was in God, wat alle dinge geskep het”(9). Wanneer ons as gelowiges hierdie teksgedeelte oordink, word ons gehelp om te verstaan hoe belangrik dit is dat ons die evangelie van Jesus Christus deel, sodat almal kan deel in ons seker en vrymoedige toegang tot God (12). Ons doen dit omdat ons deel in God se omgee vir die wêreld. Dit is so belangrik dat almal hoor en deel in die bekendmaking van die geheimenis van die verlossing in Jesus Christus.

Laai af: Word – PowerPoint

Hebreërs 1:1-4, (5-12) – 25 Desember

Kersfeesdiens

Vat vir Familietyd ‘n Kersgeskenk wat jy gekry het, saam en wys dit vir almal. Vra wat almal gekry het en laat hulle antwoord. Baie kinders sal hulle geskenke saamgebring het kerk toe. Laat hulle vorentoe kom een vir almal wys. Wees saam bly oor die lekker bederf van Kersfees. Vra dan watter geskenk almal van ons ontvang het? Dit is natuurlik dat God mens geword het. Gee ‘n kort oorsig van die betekenis van Kersfees vir ons.

Die preekriglyn fokus op die vreugde van Kersfees wat ons in die ewige Seun van God gevind het, Hy wat mens geword het, ter wille van ons, en ter wille van God se skepping. Dit beteken dat God onder ons kom woon het. Dit beteken dat God nie swyg nie, maar spreek, kommunikeer, meedeel, in gemeenskap met ons kom leef. Dit beteken dat God ons intrek in lewensgemeenskap met Vader, Seun en Heilige Gees. Dit is bedoel om ons te bemoedig.  Dit is die Een wie se koms na die wêreld ons vandag vier. Hierdie teks is daarop ten diepste ‘n pleidooi aan Christene om aan hul geloof vas te klou en nie op te gee nie ten spyte van die uitdagings. Die innerlike krag ons nodig het, kry ons van Jesus Christus af. Ons moet dus ons vertroue in Jesus Christus plaas. Kom ons doen dit op hierdie heerlike feesdag.

Laai af: Word – PowerPoint

Psalm 80:1-7, 17-19 – 18 Desember

Vierde Sondag in Advent

Ons kies vir ’n tema onverwant aan die fokusteks – ’n Kersstorie. Gebruik die storie van Vonkel (deur Linda Fourie) vir die kindertyd. Verkort gerus na goeddunke.

Simon and Garfunkel het ‘n treffende weergawe van die bekende lied “Stille Nag” gesing met die titel “7 O’clock News/Silent Night“. Die eerste woorde van die lied is stil en rustig, maar dan word daar in die agtergrond nuusberigte voorgelees oor die misdaad, moorde en ontvoerings van die jaar. Namate die lied aangaan, word die nuusberigte al hoe harder totdat jy die lied amper nie meer kan hoor nie en dit eintlik net soos geraas klink. Dan, skielik, stop die berigte en die lied. Hierdie Kerslied  laat mens wonder: Bestaan die Stille Nag waarvan ons so graag sing? Hoe is die geboorte van die Kersbaba daardie geseënde nag in Bethlehem steeds goeie nuus? Kan die genade en stilte voor God die rumoer van die wêreld stil maak en ons fokus op God se genadige teenwoordigheid?

Psalm 80 is ‘n klaaglied wat ons daarmee kan help, omdat dit die nood van God se mense ook vandag nog in die teenwoordigheid van God uitspreek. In die Psalm roep die digter herinneringe op van hoe God eens vir hulle gesorg het en by hulle was, maar dat hulle nou verlate voel. Daar is onsekerheid of God hulle dalk nie self in hul omstandighede laat verval het nie. Daarmee kan ons ook identifiseer. En in die uitstort van ons klagtes voor God kan ons ons herinner dat met Kersfees lank gelede die Here Jesus Christus ons kom verseker het dat daar geen skeiding is tussen die mens en God nie. God sorg steeds. Christus se koms is die versekering dat God nie sy rug gedraai het vir ons as gelowiges nie.

Laai af: Word – PowerPoint