Psalm 146:5-10 – 11 Desember

Derde Sondag in Advent

John Stevens sluit aan by die gedagte in die Psalm dat God se trou ewigdurend is. Hy gebruik goed soos Superglue, of deodorant wat 24h/48h “protection” bied. Wys op die verpakking hoe dit sê dit hou lank (of vir altyd) – maar dit is nie eers naby so lank soos wat God se liefde vir gaan hou nie! Dit het my laat dink aan die Duracell hasie advertensie. Jy sou seker ‘n (stil) speelding of flits kon aansit, solank jy seker is die battery gaan teen die einde van die diens pap wees! Daar was ook lank gelede ‘n kougom advertensie waar iemand eers kougom wil kou tot die geur verdwyn, maar dit “lasts and lasts”. Ek kon nie die advertensie opspoor nie, maar wel hierdie Infinity advertensie.

Psalms 146 tot 150 sluit die vyfde Psalmboek, trouens die hele boek van die Psalms, af met vyf Halleluja-lofliedere. Telkens verskyn dié opskrif in hierdie vyf Psalms: “Halleluja!” – dit beteken: “Prys die Here!” Psalm 146 raai die geloofsgemeenskap aan om op die Here te vertrou, nie op mense nie. Die redes vir ons lof lê in God se betroubare karakter. Jy kan staatmaak daarop dat Hy is en doen soos Hy Hom in die Skepping en die lewe openbaar.

God is dus betroubaar in sy karakter, vreugdevol in sy versorging, betroubaar in sy bevestiging, goedgesind teenoor sy getroue volgelinge, en onpeilbaar groot in sy omvang. Sela.

Let op die tien beskrywings van God se karakter in vers 6-9, skryf dit op ‘n kaartjie, en herinner jouself deur die dag daaraan, dat dit dié God is wat jou God is: “Hoe gelukkig is jy …!“:

  • Die Here bly trou tot in ewigheid,
  • Die Here handhaaf die reg van verdruktes,
  • Die Here gee aan hongeres brood,
  • Die Here bevry gevangenes,
  • Die Here maak blindes se oë oop,
  • Die Here rig dié op wat terneergedruk is,
  • Die Here het regverdiges lief,
  • Die Here beskerm vreemdelinge,
  • Die Here help vaderloses en weduwees op,
  • Die Here maak die pad van goddeloses krom.

Dit is soos die “Tien Gebooie” van God se karakter waarop jy nie net regtig kan vertrou en in gebed voor die Here kan bring dat Hy dit waarmaak nie, maar wat jy in jou lofprysing aan God kan gebruik.

Laai af: Word – PowerPoint

 

Psalm 72:1-7 – 4 Desember

Tweede Sondag in Advent

Vra vir die kinders die volgende vraag:  “Wie, dink julle, regeer in ons land?”  (Waarskynlik sal die kinders  president Ramaphosa antwoord).  Vra dan verdere vrae soos:  “Wie sorg dat ons nie te vinnig op die paaie ry nie?”  “Wie kyk dat jy nie op die skoolgrond geboelie word nie?”  Die antwoorde sal dan waarskynlik wyer as net die regering wees.  Dan sluit dit jou ouers, die SAPD, die regstelsel, selfs die leerlingraad en die personeel van die skool in. Kinders moet verstaan dat hierdie gebed bedoel was vir koning Salomo, sodat hy regverdig moes regeer.  Dit maak vir hulle die deur oop om ook vir vandag se regeerders en leiers te bid, sodat hulle regverdig sal wees en altyd die belange van die mense wie hulle dien op die hart sal dra.   Lê klem daarop dat hulle vir hulle leiers (die prefekte, die klas kaptein, die kaptein van die sportspan) moet bid.  Daar is ook ‘n opsie om John Stevens se idee van ‘n ster-“puppet” te gebruik.

Wanneer mens Psalm 72 hoor praat oor die regeerder se rol om geregtigheid, vrede en voorspoed vir mense te bring, spits jy jou ore. God se verwagting van die regeerder se rol en nuusberigte oor wat die hedendaagse regering alles aanvang, klop nie so lekker nie. Dink maar wat in ons land gebeur met paaie, water en elektrisiteit. Dan dink jy aan God se verwagting oor die rol van die regeerder, of regering. Daar is ‘n kloof tussen die geregtigheid en beskerming van die belange van die mense wat God vra.  Kom ons kyk na die inhoud van die Psalm en vra dan hoe ons as gelowiges in die lig van hierdie psalm behoort te reageer, want Psalm 72 herinner ons daaraan dat ons kán lewe met hoop. Maar hierdie Psalm is ook die basis van gebed tot God om kwaliteit regering moontlik te maak in ons land. Gebed is die protes wat ons na God neem oor die swak, uitbuitende regering – in ons land, maar op elke kontinent van die wêreld.

Laai af: Word – PowerPoint

Psalm 122 – 27 November

Eerste Sondag in Advent

Sluit aan by die gedagte van Advent. As jy van daardie groot wekkers met die klokke bo-op en die hammertjie wat heen en weer beweeg kan kry, laat dit afgaan. Of laat ‘n baie irriterende wekker van jou selfoon afgaan. Laat almal vertel hoe hulle wakker word – dalk sê een van hulle ouers “Wakker word! Opstaan!” Gesels oor hul Sondag-oggende, van wakker word tot hulle by die kerk kom. Is hulle bly wanneer hulle wakker gemaak word? Hoe maak hulle gereed? En wanneer hulle op ‘n “road trip” gaan? In die teks vandag is die Psalmdigter bly om wakker gemaak te word om op ‘n “road trip” te gaan na die plek waar die tempel destyds was. Ons hoef nie meer op ‘n “road trip” te gaan nie, want God is by elkeen van ons. Maar ons moet gereed wees. Advent is vir ons soos die wekker wat sê “word wakker, staan op, maak gereed”. Ons maak gereed deur reg te leef en te bid dat God se wil geskied. Maak, in aansluiting by verse vv 6-9, ‘n lys van goed waarvoor julle kan bid vir jul dorp. Laat almal in familie-groepe bid. Hier is ‘n inkleurprent van ‘n wekker, waarvan die wysers uitgeknip en opgeplak moet word. Hier is ‘n inkleurprent van ‘n adventkrans.

Dit is Adventstyd. Dié periode in die kerklike jaar dat ons vooruitsien na die verskyn van Jesus Christus, die Lig vir die wêreld. Dié tyd dat ons opnuut weer leer om te leef uit verwagting en afwagting. Psalm 122 is deel van die bundel pelgrimsliedere in die Psalmboek, wat bestaan uit Psalm 120 tot 134. Dit is liedere vol skoonheid, verlange na Sionsberg en dankbare lof in die opgaan na die stad Jerusalem.  Psalm 122 begin as vreugdelied waarin die pelgrim se verlange en warmte van godsdienstige emosie helder weerklink (v 1) en gaan oor in lofbetuiging (v 2-5). Dan eindig die psalm met ‘n passievolle gebed en ‘n oproep tot volgehoue voorbidding vir vrede en ‘n nastrewing van die goeie (v 6-9). Die Psalm beklemtoon die stad se naam Jerusalem (dit word drie keer genoem) met die betekenisvolle laaste deel van die naam salem, wat vrede en rus aandui. Daar sit inderdaad dieper betekenis in die naam van die stad. Vrede is die sentrale tema in die psalm. Jesus se koms gee egter nuwe betekenis aan en is in sekere sin die vervulling van die verwagtinge rondom die stad Jerusalem. Hy is Immanuel, God by ons, soos die tempel was. As Messias-Koning uit die geslag van Dawid bring Hy God se reg en geregtigheid in hierdie wêreld in. Hy is die Vredevors wat die omvattende vrede (sjalom) sou bring. Jesus se verlossing aan die kruis lui ook vir ons die verwagting van die nuwe wêreld in. Die kruis het geweld en magsmisbruik gevange geneem en skep ‘n nuwe werklikheid uit alle vorme van menslike geweld. Soos God Jesus uit die graf lewend gemaak het, sal God ook met die res van die skepping doen, insluitend almal wat glo.  Ons roeping is dus om intussen, totdat die nuwe Jerusalem kom, te bid en te werk vir hierdie nuwe stad, die stad van geregtigheid en vrede, die koms van God se koninkryk. En in ons bid en werk moet ons onthou dat hierdie nuwe stad vir almal bedoel is: die poorte daarvan staan wyd oop (Op 21:25-26). Daarom is ons steeds reisigers, pelgrims, onderweg na die nuwe Jerusalem.

Laai af: Word – PowerPoint