Jeremia 31:27-34 – 16 Oktober

Koninkrykstyd 19

Daar is drie opsies vir kindertyd. Jy kan aansluit by twee maniere om oor die wet te dink: reëls wat ons moet gehoorsaam versus reëls wat ons wil gehoorsaam. Laasgenoemde is wat die skryf op die hart beteken. Jy kan aansluit by die betekenis van die Bybel: “A Bible that is falling apart, belongs to someone who isn’t.” Jy kan ook die storie van The Invisible String deur Patrice Karst gebruik. In die storie verduidelik ‘n mamma hoe liefde soos ‘n onsigbare tou is wat ons harte aan mekaar verbind. Die preekriglyn begin met ‘n oorsig van die boek Jeremia vanuit die perspektief van die profeet se eie storie. Daarna word inbeweeg in die dubbele opdrag wat hy gehad het, om die Israeliete te waarsku, en om hulle hoop te gee. Jeremia 31 bring die hoop dat God se verbond nie meer op klippe geskryf sal wees nie, maar op mense se harte. Dit verkondig en bevestig die boodskap van herstel en hoop op God se getrouheid en die koms van die Messias. Hierdie teks is ‘n versekering dat God nie die Israeliete verlaat het nie en dat Hy nie sal toelaat dat hulle ongehoorsaamheid hulle einde sal beteken nie.

Laai af: Word – PowerPoint

Jeremia 29:1, 4-7 – 9 Oktober

Koninkrykstyd 18

Die sleutelteks kan deur ʼn ouer laerskoolkind voorgelees word om die ballingskap se invloed op die komende generasies van die verbondsvolk te benadruk. Die fokusteks word voorsien soos vertaal in Die Boodskap. Maak gebruik van ʼn prent van mense wat plant of bou, of skep ʼn prentreeks van ʼn saadjie wat ontkiem en groei. Ons teksgedeelte van hierdie Sondag is ‘n brief vanaf Jeremia aan die ballinge in Babilonië. Ons teksgedeelte is nie die hele brief nie, maar slegs die gedeelte waar die ballinge vermaan word om huise in Babilonië te bou en om vredevol daar te woon. Ons gaan die klem op drie aspekte laat val:

  • God as Skepper en Voorsiener
  • God aktiveer menslike aksie
  • God se begeerte na florerende samelewings

In die lig van hierdie teks, moet ons ons lewe herbedink. Wat is ons, die mense van God, se bydrae tot die opbou van ons samelewing se welsyn? Ongeag waar ‘n persoon hom- of haarself sou bevind, hetsy as leier van ‘n internasionale maatskappy, aan die onderkant van die samelewing of enige posisie tussenin, is die oproep van God ‘n duidelike oproep tot handeling wat die welsyn van die stad soek. Dit is die oproep om binne ons netwerke van invloed op te staan vir die welsyn van die stad; om daartoe te werk, risiko’s te neem en pogings aan te wend om dit daadwerklik te bevorder.

Laai af: Word – PowerPoint

Klaagliedere 1:1-6 – 2 Oktober

Koninkrykstyd 17

Wat doen jy as jy bang is?

Chris van Wyk vertel: “Ek onthou as sesjarige kind dat ons op my oom se plaas in Sutherland in ‘n opstal geslaap het. ‘n Hele entjie weg van die plaashuis. My pa-hulle het ons in die bed gesit en verder gaan kuier. ‘n Rukkie later skrik ek toe wakker en hoor die geluide op die dak met die sinkplaat wat kraak. In die maan was daar skaduwees wat beweeg. Die lantern was af, en ek het in elk nie geweet hoe om dit weer aan te sit nie. So, ek het die pad gevat deur die sloot wat tussen die opstal en die plaashuis was, en so vinnig ek kon deur die donker by die sitkamer in gehardloop. Toe almal verbaas kyk na my wat daar uitasem staan, sê ek: “Ek was niks bang nie!” Ja, nê.”

Laat almal vertel wat hulle doen wanneer hulle bang is. Jy kan ook verwys na die strokiesprent Peanuts (Charles Monroe Shulz), waar Linus van Pelt ‘n kombersie het wat hy oral met hom saamdra. Dit help hom as hy bang raak. [Trouens, die uitdrukking Linus-kombers word deur sielkundiges gebruik as beskrywing van ‘n voorwerp, of soms ‘n persoon, vir gerusstelling en troos.] Gesels oor troos-kombersies of sagte speelgoed soos hasies en beertjies, wat ons veilig laat voel wanneer ons bang is. Daar is niks fout met ons kombersies en hasies nie. Maar ons kan ook, terwyl ons ons kombersies vashou, met God praat. Ons kan vir God eerlik vertel hoe bang ons is en waarvoor ons bang is. Bid ‘n gebed saam waarin julle presies dit doen. Verwoord spesifiek goed waarvoor kinders bang is. As jy dapper is, kan jy vra waarvoor hulle bang is en dit in gebed na God neem.

Die preekriglyn gee eers ‘n breë oorsig oor die boodskap van die boek Klaagliedere, en werk dan met ‘n groter deel van hoofstuk 1 om die gemeente te leer hoe om te lament. Ons het ‘n negatiewe konnotasie met kla. En die Bybel wys tereg ‘n sekere manier van kla af. Dit is daardie tipe klagtes wat jy so onderlangs mompel. Die Bybel noem dit murmureer of selfs rebelleer. Dit is wanneer jy die Here verkwalik dat dinge so verkeerd gaan. Maar, Klaagliedere is ‘n ander manier van kla. Dit is “an honest facing of the darkness.” (Brueggemann). Dit is om eerlik jou vrees en die redes daarvoor in die oë te kyk en dit met die Here deur te bid, met al die donker emosies wat jy ervaar. Jou gevoelens moet gedagtes raak, sodat jy dit kan verstaan en kan deur bid met die Here. En dit is hierdie manier van kla wat ons moet aanleer. Miskien moet ons begin om die woord lamenteer te gebruik hiervoor, want ons assosiasie met kla is nie positief nie. Lamenteer is om te weeklaag, om te huil, om te kerm, om al jou emosies in te sit in jou gebed. Om niks terug te hou nie. Om alles vir die Here te sê.

Laai af: Word – PowerPoint