Hierdie laaste Sondag van die kerkjaar is ‘n goeie geleentheid om die kinders van die kerkjaar en die verskillende seisoene te vertel. Maak ‘n kleurvolle sirkeldiagram met ‘n wyser, soos ‘n horlosie. Die sirkeldiagram kan die seisoene kloksgewys aandui, met die gepaste liturgiese kleure en simbole. Vra die kinders uit oor die hoogtepunt van die afgelope jaar en wys hulle op ‘n nuwe seisoen wat volgende week met Advent begin. Die afwagting van die nuwe seisoen kan geskep word deur die kinders te nooi om volgende week nie-bederfbare kos saam te bring wat aan mense in nood geskenk kan word.
Wanneer die jaar einde se kant toe staan, is mens geneig om terug te kyk oor die jaar wat verby is. Vanjaar roep die terugkyk vir baie mense moeilike herinneringe op. Ons kyk egter ook vooruit, na die vakansieseisoen en die nuwe jaar wat voorlê. So ‘n dubbele proses: terugkyk en vorentoe kyk. Dit is ook wat die loflied van Sagaria doen. Dit kyk terug en vorentoe. Dis baie soos ‘n rit met jou motor. Ons het ‘n groot voorruit om vorentoe te kyk en ‘n klein truspieël waarmee ons kan terugkyk. Die truspieël laat ons sien waar ons vandaan kom, en die voorruit waarheen ons op pad is. Die loflied van Sagaria werk op soortgelyke wyse deur terug, maar ook vorentoe te kyk. Ons het albei nodig, maar in die regte balans: te veel terugkyk, kan tot ‘n ongeluk lei; te min terugkyk, kan veroorsaak dat jy vergeet waar jy vandaan kom. Die loflied van Sagaria help ons om op ‘n gebalanseerde en self hoopvolle manier terug te kyk én vorentoe te kyk.
Selfs terwyl vreeslike dinge gebeur, sê Jesus sy volgelinge “moenie vreesbevange” word nie en dat dit vir hulle ‘n geleentheid sal wees om te getuig. Kinders is goed bekend met bekommernis en angs. Hulle dra dikwels swaar, nie alleen aan hul eie vrese nie, maar ook aan die vrese wat hulle by volwassenes optel. Silly Billy deur Anthony Browne is ‘n pragtige storie van ‘n kind wat so bekommerd was oor alles. Toe iemand vir hom “bang-poppies” gee, het hy ‘n plek om sy vrees te neem. Later kan hy selfs ander help… God se teenwoordigheid, soos Billy se “bang-poppies”, help ons met ons angs, bekommernisse en vrees. Ons kan vir God vertel daarvan – en dit by hom los. Jy kan geleentheid gee dat mense stories vertel van maniere waarop hulle God se teenwoordigheid beleef het in bangmaak-omstandighede. Jy sou ook vir kinders kon vra waarvoor mense bang is. Laat die gemeente dan bid oor al die dinge, en telkens saam bid “Laat U koninkryk kom”, om op dié manier julle bekommernisse vir God te gee.
As 2020 en 2021 ons een ding geleer het, is dit hoe vinnig en ingrypend selfs ‘n onsigbare vyand kan toeslaan. Meer nog: hoe ‘n mens se wêreld letterlik oornag ingrypend kan verander. Die sekerhede van gister staan soos strooihalms in die stormwind nadat die pandemie en onsekerheid van oorlewing hulle in ons midde kom tuismaak het. Ons is nie die enigste generasie wat ontwrigting en disoriëntasie ervaar het nie. In ons gelese gedeelte vind ons Jesus in die tempelkompleks besig om sy volgelinge te onderrig oor dinge wat hulle te wagte kan wees. Getrou aan ons aard luister ons eintlik eers wanneer iets van direkte toepassing op ons of mense naby ons is. Dalk was dit met die dissipels ook so. Miskien het Jesus se woorde oor die verwoesting van die tempel, die val van Jerusalem en die koms van die eindtyd ook eers begin betekenis kry lank nadat Hy sy dissipels onderrig het. Die dissipels sou vir ‘n paar jaar ná Jesus se dood en opstanding sien hoe die tempel in sy glans en glorie gegroei het. Trouens, die pragstuk is voltooi nie lank voordat dit in 70 nC verwoes is nie. In ons teks gebruik Jesus die profesie van die val van die tempel om sy dissipels te leer hoe hulle oor die geskiedenis moet dink. En wat die verdere verloop van die geskiedenis – na kruis, leë graf en hemelvaart – van hulle sou verwag.