Lukas 20:27-38 – 6 November

Koninkrykstyd 22

Tydens hierdie eerste Sondag van die Seisoen van Voleinding kan ‘n moment geskep word om die kinders te vra om te vertel wat hulle die afgelope jaar in die kategese geleer het. Een of twee volwasse lidmate kan ook genooi word om van ‘n bediening te vertel waarby hulle betrokke is en wat dit vir hulle beteken. Of vra die kinders hoe hulle dink dit op die nuwe aarde gaan wees.  Kry verskillende antwoorde.  Na alles weet ons nie regtig hoe dit gaan wees nie.  Wat ons wel weet, is dat ons by Jesus gaan wees en dat dit wonderlik gaan wees. Dit gaan heel anders wees as wat ons nou beleef.  Noem ’n paar slegte dinge op.  Op die nuwe aarde gaan daar net goeie dinge wees en om daaraan deel te hê, vra die Here dat ons in Jesus sal glo. Uit dankbaarheid dien sy kinders Hom in gehoorsaamheid.

Ons teks kom uit ‘n besondere hoofstuk in die Lukasevangelie. Die gebeure speel af in die laaste week van Jesus se lewe voor sy kruisiging. ‘n Bekende teoloog sê dit is soos ‘n saamgestelde skildery waar al die tonele die evangelie in ‘n kompakte vorm saamvat. Die volgende gebeur:

  • Die leierpriester en skrifkenners vra Jesus uit oor die gesag waarmee Hy optree (na aan leiding van sy dramatiese intog in Jerusalem en sy reiniging van die tempel)
  • Jesus vertel die gelykenis van die huurders wat die seun van die wingerd se eienaar dood (as profesie van sy eie dood)
  • . Dan volg die vraag oor die betaal van belasting aan die keiser, wat aanleiding sou gee dat Jesus aan die Romeine oorgegee word
  • Dan volg ons teks, wat vertel van die vraag oor die opstanding uit die dood
  • Daarna vra Jesus ‘n vraag oor die seun van Dawid, en hoe die Christus die seun van Dawid en die Here van Dawid kan wees.

Ons teks speel in gelade tyd af. Die spanning loop hoog. Dit is die laaste week voor Jesus se kruisiging. Daar is ‘n sterk bevraagtekening van die gesag van Jesus, die betekenis van sy bediening, en die hoop wat dit inhou vir mense wat Jesus as Here ken en volg.

Wat is die boodskap van hierdie teks vir ons tyd? Ons dink eerstens aan die einde van die tye wat in God se hand is. Ons dink tweedens hoe Jesus se opstanding uit die dood sy volgelinge se opstandingsgeloof versterk het. Derdens help hierdie gedeelte ons om altyd verder te kyk as die materiële. Die wêreld het ook ‘n geestelike kant, ‘n onsigbare kant. Dit stel ons voor die vraag of ons genoegsaam aandag gee aan die geestelike aspekte van die lewe? Hierdie denke vul ons met ‘n dieper verwondering oor God se heerlike toekoms en God se geregtigheid en lewenskrag wat ook ons lewe, hoop en toekoms is.

Laai af: WordPowerPoint

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui