Psalm 146:5-10 – 11 Desember

Derde Sondag in Advent

John Stevens sluit aan by die gedagte in die Psalm dat God se trou ewigdurend is. Hy gebruik goed soos Superglue, of deodorant wat 24h/48h “protection” bied. Wys op die verpakking hoe dit sê dit hou lank (of vir altyd) – maar dit is nie eers naby so lank soos wat God se liefde vir gaan hou nie! Dit het my laat dink aan die Duracell hasie advertensie. Jy sou seker ‘n (stil) speelding of flits kon aansit, solank jy seker is die battery gaan teen die einde van die diens pap wees! Daar was ook lank gelede ‘n kougom advertensie waar iemand eers kougom wil kou tot die geur verdwyn, maar dit “lasts and lasts”. Ek kon nie die advertensie opspoor nie, maar wel hierdie Infinity advertensie.

Psalms 146 tot 150 sluit die vyfde Psalmboek, trouens die hele boek van die Psalms, af met vyf Halleluja-lofliedere. Telkens verskyn dié opskrif in hierdie vyf Psalms: “Halleluja!” – dit beteken: “Prys die Here!Psalm 146 raai die geloofsgemeenskap aan om op die Here te vertrou, nie op mense nie. Die redes vir ons lof lê in God se betroubare karakter. Jy kan staatmaak daarop dat Hy is en doen soos Hy Hom in die Skepping en die lewe openbaar.

God is dus betroubaar in sy karakter, vreugdevol in sy versorging, betroubaar in sy bevestiging, goedgesind teenoor sy getroue volgelinge, en onpeilbaar groot in sy omvang. Sela.

Let op die tien beskrywings van God se karakter in vers 6-9, skryf dit op ‘n kaartjie, en herinner jouself deur die dag daaraan, dat dit dié God is wat jou God is: “Hoe gelukkig is jy …!“:

  • Die Here bly trou tot in ewigheid,
  • Die Here handhaaf die reg van verdruktes,
  • Die Here gee aan hongeres brood,
  • Die Here bevry gevangenes,
  • Die Here maak blindes se oë oop,
  • Die Here rig dié op wat terneergedruk is,
  • Die Here het regverdiges lief,
  • Die Here beskerm vreemdelinge,
  • Die Here help vaderloses en weduwees op,
  • Die Here maak die pad van goddeloses krom.

Dit is soos die “Tien Gebooie” van God se karakter waarop jy nie net regtig kan vertrou en in gebed voor die Here kan bring dat Hy dit waarmaak nie, maar wat jy in jou lofprysing aan God kan gebruik.

Laai af: WordPowerPoint

 

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui