Matteus 4:12-23 – 22 Januarie

Derde Sondag na Epifanie

Die inleiding tot die preek kan goed aangepas word om ook by die familie-oomblik te gebruik. Speel ‘n uittreksel uit die liedjie en laat almal lekker saam gesels – via die liturg of in groepe soos families waarby mense wat die diens alleen bywoon, inskakel. Vra lekker vrae soos: wie is jou gunsteling superhero? As jy deur een van die superheros opgepas kan word, wie gaan jy kies en hoekom? Dan kan jy baie lekker (en eenvoudig) hierby aansluit soos wat die preekriglyn ook voorstel: Jesus is die enigste Here – die werklike hero. Daar is nog drie ander opsies!

Die preekriglyn val weg met die vraag: “Kan ek jou Superman, Batman, Ironman, Spiderman wees?” Ek sal jou oppas in die donker, vir jou ‘n hero wees. Ek sal die wêreld vir jou aanvat, vir jou ‘n hero wees. Kan ek jou hero wees in al die stories wat jy lees? So klink dié lied van die sanggroep Adam oraloor, ‘n lied waarin ‘n fiktiewe, gemaskerde held vra of hy mý held kan wees. Maar dit kan hy net doen as ek hom my held maak. Doen ek dit nie, dan is hy maar net ‘n strokiesprentheld met voete van klei. Sy vermoë om my te help verdwyn en is hy niks meer nie as enkele lyntjies op papier, ‘n verbeeldingsvlug in my gedagtes. En tog sing kinders die lied, en hulle trek so aan. Dit is die tema van kinderpartytjies en maskeraande. Video’s word op YouTube versprei, Afrikaanse sangers sing daarvan, stickers word gedruk en skole samel geld daarmee in. In my binneste is ek rustig daarmee dat ekself en my kinders in ‘n hero glo wat mensgemaak is. Word ek daarmee gekonfronteer, lag ek dit af as onskuldige pret en word ek geëtiketteer as ‘n spoilsport en langgesig-Christen.

Hierteenoor stel die Here duidelik Hy is die enigste Here (Hero) wat gister en vandag en ook môre dieselfde is. Hy is nie mensgemaak of fiktief nie, maar in Jesus is Hy die enigste Verlosser wat vir mense ‘n nuwe toekoms oopsluit. Met hierdie boodskap klim Jesus ná sy doop uit die Jordaanrivier en begin Hy ‘n lewensveranderende bediening wat Hom uiteindelik sy lewe aan die kruis op Golgota kos. Maar dan die hoogtepunt! Hy staan na drie dae op uit die graf waarna Hy terugkeer hemel toe en lewe tot in ewigheid. En hierdie Here (Hero) is nie afhanklik of ek Hom kies as my Here (Hero) nie. Hy sorg vir my deur dik en dun, Hy troos my en gee my krag, Hy verlos my van die sonde omdat Hy my eerste liefgehad het (Joh. 3:16). So breek Hy vir my ‘n nuwe toekoms oop, want Hy is Jesus Christus wat as Messias na hierdie wêreld gekom het.

Laai af: Word – PowerPoint

Johannes 1:29-42 – 15 Januarie

Tweede Sondag na Epifanie

Laas week het ons geluister na stemme met Familietyd; hierdie week word ons genooi om te sien. Nooi die kinders om aan die begin van die diens te luister na verwysings na sien en op te let na wat ons alles in die kerkgebou en tydens die erediens sien. Nooi hulle aan die einde van die diens om te deel wat hulle gesien het. In ons teks vertel almal wat vir Jesus sien vir ander daarvan. Gesels met die kinders oor waar hulle die afgelope week vir Jesus gesien het en vir wie hulle dit kan gaan vertel.

Johannes se hele bediening het daarin bestaan om na Jesus te wys, die Verlosser wat die sonde van die wêreld wegneem. Só word Johannes ook uitgebeeld op Matthias Grünewald se bekende skildery in Isenheim waar Johannes na Jesus as die Lam van God wys. In ons teks doop Johannes in Betanië oorkant die Jordaan. Die toneel is priesters, Leviete en Fariseërs wat Johannes uit Jerusalem kom besoek om hom uit te vra oor sy identiteit en bediening. Johannes lê dan getuienis af oor Jesus, die Een wat groter as Johannes is. Direk op hierdie gebeure volg ons teks. In ‘n wêreld waarin ons elke dag gekonfronteer word met die grootheid van ons en ons planeet se ellende en ontsettende skuld, is dit ongelooflik vertroostend om te onthou dat God self versoening vir ons sonde en gebrokenheid voorsien het. Ons kan onsself en ons wêreld probeer red, maar selfs die mees optimistiese scenario’s struikel oor die werklikheid van sukkel en swaarkry. Ons het verlossing van buite nodig. Hier in Epifanie word ons herinner aan die verskyning van die Seun van God, die Lam van God, wat kom om ons sonde en gebrokenheid weg te neem.

Laai af: Word – PowerPoint

Matteus 3:13-17 – 8 Januarie

Eerste Sondag na Epifanie

Vertel met Familietyd gewoon die verhaal van Jesus se doop of lees dit uit ‘n kinder-vriendelike Bybel. Hier is ‘n pragtige Kinderbybel vertelling van die teks – wys dit vanaf 3:00. Hier is ‘n inkleurprent. Oor bietjie meer as ‘n week begin die nuwe skooljaar. The Kissing Hand is ‘n pragtige storie wat mooi kan aansluit by die doop, maar ook help vir angs oor die nuwe skooljaar. Dalk het jy dit al vantevore vertel.

Wanneer mens Matteus se evangelie lees, is jy reeds by hoofstuk 3 omtrent uitasem, so baie dinge het gebeur. Dit lui die doop van Jesus in. Jesus se doop kondig die begin van sy aardse bediening aan; bediening van verlossing in die Naam van God Drie-enig. Met hierdie bediening vertrek Jesus op ‘n pad van versoeking en lyding (Matt 4:1). Uiteindelik bereik dit ‘n dieptepunt wanneer Hy aan die kruis hang en Hy uitroep: “My God, my God, waarom het U My verlaat?” Daarna blaas Jesus sy laaste asem uit sodat elkeen wat in Hom glo die versekering het dat hulle nie verlore sal gaan nie, maar die ewige lewe sal hê (Joh. 3:16). ‘n Onbekende persoon skryf hieroor: “Met sy doop druk Jesus sy skouer onder ons in en neem ons sonde op Hom. Dit is die vreugde wat volg op die doop van Jesus, vreugde wat Hom die dood gekos het. So begin daar nuwe lewe vir my en jou.”

Laai af: Word – PowerPoint