Psalm 122 – 27 November

Eerste Sondag in Advent

Sluit aan by die gedagte van Advent. As jy van daardie groot wekkers met die klokke bo-op en die hammertjie wat heen en weer beweeg kan kry, laat dit afgaan. Of laat ‘n baie irriterende wekker van jou selfoon afgaan. Laat almal vertel hoe hulle wakker word – dalk sê een van hulle ouers “Wakker word! Opstaan!” Gesels oor hul Sondag-oggende, van wakker word tot hulle by die kerk kom. Is hulle bly wanneer hulle wakker gemaak word? Hoe maak hulle gereed? En wanneer hulle op ‘n “road trip” gaan? In die teks vandag is die Psalmdigter bly om wakker gemaak te word om op ‘n “road trip” te gaan na die plek waar die tempel destyds was. Ons hoef nie meer op ‘n “road trip” te gaan nie, want God is by elkeen van ons. Maar ons moet gereed wees. Advent is vir ons soos die wekker wat sê “word wakker, staan op, maak gereed”. Ons maak gereed deur reg te leef en te bid dat God se wil geskied. Maak, in aansluiting by verse vv 6-9, ‘n lys van goed waarvoor julle kan bid vir jul dorp. Laat almal in familie-groepe bid. Hier is ‘n inkleurprent van ‘n wekker, waarvan die wysers uitgeknip en opgeplak moet word. Hier is ‘n inkleurprent van ‘n adventkrans.

Dit is Adventstyd. Dié periode in die kerklike jaar dat ons vooruitsien na die verskyn van Jesus Christus, die Lig vir die wêreld. Dié tyd dat ons opnuut weer leer om te leef uit verwagting en afwagting. Psalm 122 is deel van die bundel pelgrimsliedere in die Psalmboek, wat bestaan uit Psalm 120 tot 134. Dit is liedere vol skoonheid, verlange na Sionsberg en dankbare lof in die opgaan na die stad Jerusalem.  Psalm 122 begin as vreugdelied waarin die pelgrim se verlange en warmte van godsdienstige emosie helder weerklink (v 1) en gaan oor in lofbetuiging (v 2-5). Dan eindig die psalm met ‘n passievolle gebed en ‘n oproep tot volgehoue voorbidding vir vrede en ‘n nastrewing van die goeie (v 6-9). Die Psalm beklemtoon die stad se naam Jerusalem (dit word drie keer genoem) met die betekenisvolle laaste deel van die naam salem, wat vrede en rus aandui. Daar sit inderdaad dieper betekenis in die naam van die stad. Vrede is die sentrale tema in die psalm. Jesus se koms gee egter nuwe betekenis aan en is in sekere sin die vervulling van die verwagtinge rondom die stad Jerusalem. Hy is Immanuel, God by ons, soos die tempel was. As Messias-Koning uit die geslag van Dawid bring Hy God se reg en geregtigheid in hierdie wêreld in. Hy is die Vredevors wat die omvattende vrede (sjalom) sou bring. Jesus se verlossing aan die kruis lui ook vir ons die verwagting van die nuwe wêreld in. Die kruis het geweld en magsmisbruik gevange geneem en skep ‘n nuwe werklikheid uit alle vorme van menslike geweld. Soos God Jesus uit die graf lewend gemaak het, sal God ook met die res van die skepping doen, insluitend almal wat glo.  Ons roeping is dus om intussen, totdat die nuwe Jerusalem kom, te bid en te werk vir hierdie nuwe stad, die stad van geregtigheid en vrede, die koms van God se koninkryk. En in ons bid en werk moet ons onthou dat hierdie nuwe stad vir almal bedoel is: die poorte daarvan staan wyd oop (Op 21:25-26). Daarom is ons steeds reisigers, pelgrims, onderweg na die nuwe Jerusalem.

Laai af: WordPowerPoint

 

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui