Psalm 72:1-7 – 4 Desember
Tweede Sondag in Advent
Vra vir die kinders die volgende vraag: “Wie, dink julle, regeer in ons land?” (Waarskynlik sal die kinders president Ramaphosa antwoord). Vra dan verdere vrae soos: “Wie sorg dat ons nie te vinnig op die paaie ry nie?” “Wie kyk dat jy nie op die skoolgrond geboelie word nie?” Die antwoorde sal dan waarskynlik wyer as net die regering wees. Dan sluit dit jou ouers, die SAPD, die regstelsel, selfs die leerlingraad en die personeel van die skool in. Kinders moet verstaan dat hierdie gebed bedoel was vir koning Salomo, sodat hy regverdig moes regeer. Dit maak vir hulle die deur oop om ook vir vandag se regeerders en leiers te bid, sodat hulle regverdig sal wees en altyd die belange van die mense wie hulle dien op die hart sal dra. Lê klem daarop dat hulle vir hulle leiers (die prefekte, die klas kaptein, die kaptein van die sportspan) moet bid. Daar is ook ‘n opsie om John Stevens se idee van ‘n ster-“puppet” te gebruik.
Wanneer mens Psalm 72 hoor praat oor die regeerder se rol om geregtigheid, vrede en voorspoed vir mense te bring, spits jy jou ore. God se verwagting van die regeerder se rol en nuusberigte oor wat die hedendaagse regering alles aanvang, klop nie so lekker nie. Dink maar wat in ons land gebeur met paaie, water en elektrisiteit. Dan dink jy aan God se verwagting oor die rol van die regeerder, of regering. Daar is ‘n kloof tussen die geregtigheid en beskerming van die belange van die mense wat God vra. Kom ons kyk na die inhoud van die Psalm en vra dan hoe ons as gelowiges in die lig van hierdie psalm behoort te reageer, want Psalm 72 herinner ons daaraan dat ons kán lewe met hoop. Maar hierdie Psalm is ook die basis van gebed tot God om kwaliteit regering moontlik te maak in ons land. Gebed is die protes wat ons na God neem oor die swak, uitbuitende regering – in ons land, maar op elke kontinent van die wêreld.