1 Korintiërs 1:10-18 – 26 Januarie

Derde Sondag ná Epifanie

Gesels oor die konsep van “verdeeldheid” deur te praat oor dinge wat saam hoort.  Deesdae kan TV’s nie werk sonder ‘n afstandbeheer nie.  Tandeborsel en tandepasta.  Ketel en deksel.  Kragdraad en kragprop. Of wat van ‘n kul-toertjie? Voorbeeld ingesluit. As jy ‘n storie wil vertel, kan jy gerus kyk na “When Pencil Met Eraser” op Kindle. Potlood teken prente, maar Uitveër vee oral uit en maak in die proses ‘n heel ander prent.  Wanneer Potlood blomme teken, maak Uitveër ‘n paadjie in die blomme.  Hulle hou aan stry, totdat Uitveër Potlood help verstaan dat hulle saam beter is.  Die preekriglyn begin met die verhaal van die gemeente van Korinte. Hulle was ‘n kopseer vir Paulus. Hulle is deur struweling en verdeeldheid gekenmerk. Oor die presiese aard van die Korintiese partyskappe is al baie geskryf. Ons weet egter steeds nie alles oor die destydse situasie nie. Miskien is dit ‘n bedekte seën. Op ‘n manier word ons deel van die destydse storie wanneer ons in ons tyd ook spanning in die kerk en gemeente beleef. Daar is immers altyd ‘n voorlopigheid in ons kerkwees. Ons is kerk in die tyd tussen die eerste en tweede koms van Koning Jesus. Die fokus van Paulus se beredenering moet egter in die oog bly, naamlik dat daar net een Christus is wat gekruisig is. Geen ander geestelike leiers in die verlede, hede of toekoms kan by Jesus Christus kersvashou nie. Ons eenheid lê in Hom.

Laai af: Word – PowerPoint

1 Korintiërs 1:1-9 – 19 Januarie

Tweede Sondag ná Epifanie

Met Familietyd kan jy die beeld van ’n spieël gebruik waarin ’n mens na jouself kyk en ’n glas waardeur jy na ander mense kyk om iets uit te beeld van hoe God ons in konfliksituasies gebruik. Onthou ook dat Carolyn C Brown die opmerking maak dat dit waarskynlik die eerste generasie kinders is wat nie briewe ken nie. Doen dus moeite om vir kinders te verduidelik wat ’n brief is. Die preekriglyn begin met die vraag na wat ‘n arme predikant, apostel of gemeenteleier moet doen as hy of sy in ‘n gemeente die een ná die ander geraamte in die kas kry? Veg jy of vlug jy, of sit jy versteen sonder om te weet watter kant toe? Dit is wat met Paulus gebeur het. Hy het ongeveer 18 maande in Korinte gewerk. Hy het werklik moeite gedoen. Toe kom daar ontstellende nuus. Paulus ontvang berig van Chloë se mense dat daar groot probleme in die gemeente is. Wat doen Paulus om die verdeelheid aan te spreek? Sonder om uit selfverdediging beskuldigings uit te deel en mense links en regs te vervreem, begin hy deur die konflik en verdeeldheid terug te bring na identiteit – die gemeente se identiteit in Christus Jesus. Sonder om in ‘n verbale geveg die probleme een vir een aan die kaak te stel, begin Paulus deur die oplossing eers te verwoord. ‘n Gemeente moet oor haarself dink in die lig van hul verhouding met God die Vader deur Jesus Christus. Die identiteit in Christus vra van gelowiges om saam te werk.

Laai af: Word – PowerPoint

Handelinge 10:34-43 – 12 Januarie

Eerste Sondag ná Epifanie

Dit is die Sondag voordat die skool begin. Gesels met die kinders oor die jaar wat voorlê. Vertel die verhaal van Petrus en Kornelius. Petrus het nie gereed gevoel om te gaan waarheen God hom gestuur het nie, maar God het hom gehelp. Die Heilige Gees was nie net in Petrus aan die werk nie, maar ook reeds in Kornelius. Die Heilige Gees is ook reeds by die skool. Moedig die kinders aan om in alle mense, juis ook in mense van ander kulture en agtergronde, vir God raak te sien. Carolyn Brown stel voor dat die storie van “The Sneetches” vertel word (video). Ook Max Lucado se boek “As ek maar ‘n groen neus gehad het”, sal goed werk. Die preekriglyn begin met die verhaal van die twee oorlogskepe wat besig was met maneuvers in swaar weer. Die sig was besonder swak weens die mis en die kaptein het by die uitkykpos gebly om ‘n ogie te hou. Kort na skemer laat weet die wag aan die bakboord dat hy ‘n lig waarneem wat blykbaar stilstaan. Die kaptein besef dadelik dat die twee skepe op ‘n botsing afstuur en laat weet vir die seiner om die ander skip in kennis te stel dat hulle ‘n 20-grade aanpassing moet maak. Die boodskap kom terug: “Ek beveel jóú om 20 grade aan te pas.” Die kaptein laat nie op hom wag nie: “Dit is die kaptein wat praat. Verander rigting met 20 grade!” Die antwoord kom terug: “Dit is die tweedeklas-seeman wat hier praat. Dit is beter dat jy jou koers wysig met 20 grade.” Woedend laat die kaptein weet: “Ek is ‘n oorlogskip. Pas jou koers onmiddellik met 20 grade aan!” Die stem aan die ander kant antwoord: “Ek … is ‘n vuurtoring.” Op komiese wyse illustreer hierdie verhaaltjie van Stephen Covey dat omstandighede ons dikwels dwing om ‘n aanpassing in ons denke te maak, anders kan die werklikheid ons dalk duur te staan kom. Sommige noem hierdie tipe van aanpassings in ons lewens ‘n verskuiwing in paradigma. So ‘n paradigma-verskuiwing funksioneer soos ‘n nuwe lens waardeur alles nuut beskou word. Dit impliseer ook nuwe gedrag. Petrus se uitroep “Waarlik, ek begryp nou eers….” (vers 34) dui vir ons daarop dat daar by hom so ‘n paradigma-verskuiwing plaasgevind het. Dit was ‘n kragtige bekering.

Laai af: Word – PowerPoint