1 Korintiërs 3:1-9 – 16 Februarie

Sesde Sondag na Epifanie

Daar is twee familie-oomblikke om uit te kies. Die een werk met ‘n string helder wol wat mense in die kerk vir mekaar gooi. Elkeen wat die bol vang, moet spontaan ‘n manier noem waarop hulle by die kerk betrokke is of hoe God deur hulle werk. Die ander op die tuinmaakmetafoor om met die kinders te gesels oor hoe ‘n mens saad plant en wat dit nodig het om te kan groei. Ons kan alles doen om die saad te help groei, maar ons self kan nie die saad laat groei nie. Dit is God wat laat groei. Die tema van ons teks is medewerkers van God wat floreer op vaste kos. Dit sluit aan by die aanmoediging van hoofstuk een dat daar nie verdeeldheid sal heers nie. Maar Paulus besef dat hy die punt van hoofstuk 1 nog deegliker sal moet onderstreep, want hulle verdeeldheid, hulle afguns en onenigheid, illustreer hulle geestelike onvolwassenheid. Daarom skryf hy in hoofstuk 3 as volg teen die groepvorming rondom leiers. In effek sou dit ‘n verwerping van medegelowiges en medewerkers in die geloofsgemeenskap wees, praat nie eers daarvan dat dit die roeping wat die Here gegee het vir dié leiers in twyfel sou trek. En hoekom mag ‘n mens nie só ‘n onderskeid maak nie? Paulus sê, ‘n onderskeid tussen leiers getuig van ‘n wêreldse en vleeslike gesindheid.  Dit getuig nie van ‘n geestelike gesindheid nie.  Dit is die dinge waaroor babatjies in die geloof praat.  Dit is dinge waaroor suigelinge praat.  Nie volwassenes in die geloof nie. En dít bring ons by die eintlike probleem wat daar in Korinte geheers het.  Die gelowiges het self nie die pad met die Here Jesus Christus geloop nie.  Hulle het self nie die volle sekerheid gehad van hulle geloof en van die roeping wat die Here vir hulle gehad het nie.  Daarom het hulle gefokus op die leiers en hulle eie gebreke vir ander en vir hulleself weggesteek. Meer nog.  Hulle het geweet dat die “vaste kos” meer van hulle sal verg.  Hulle sou moes kou en herkou en dit sou van hulle meer toewyding vra. En dan sou hulle hulle lewenstyl moes aanpas om in lyn te kom met wat die Woord vra.  Hulle sou mekaar moes aanspreek – waarvan daar ‘n hele paar voorbeelde in die brief was – en daarvoor het hulle nie kans gesien nie.

Laai af: Word – PowerPoint

1 Korintiërs 2:1-12 [13-16] – 9 Februarie

Vyfde Sondag na Epifanie

Met Familietyd kan jy aansluit by Paulus wat die Korinte herinner aan sy een fokus:  die gekruisigde Christus. Ons versoeking is altyd om deur ons eie bril te kyk. “Douglas, You Need Glasses!” deur Ged Adamson gaan oor Douglas, ‘n hond wat glad nie goed kan sien nie.  Hy dink bv ‘n blaar is ‘n eekhoring!  Dis eers wanneer hy ‘n bril kry, dat thy die wêreld in ‘n heel nuwe lig kan sien. Soos Douglas se bril hom help om te sien, help die Gees ons om vir God te ken. Die preekriglyn begin met die verhaal van die Engelse biskop Tonstall wat vasbeslote was om die verspreiding van William Tyndale se eerste vertaling van die Nuwe Testament in Engels te keer. ‘n Handelaarsvriend van Tyndale het toe al die beskikbare kopieë van die boek aan die biskop verkoop, al het hy geweet dat dit verbrand sou word.  Op dié manier is al Tyndale se skuld betaal, nuwe drukke van die vertaling kon vinnig gemaak word, en die verbranding van die boeke het Tyndale se werk geadverteer. So het die biskop dus ‘n helper geword in die saak wat hy wou vernietig. So wil ons ook graag baie keer slimmer as God probeer wees. Dit dek die tafel om oor die wysheid van God deur sy Gees te gesels.

Word – PowerPoint

1 Korintiërs 1:18-31 – 2 Februarie

Vierde Sondag na Epifanie

Die fokusteks bied ‘n goeie geleentheid om ‘n doopherinnering te doen, wat ook tydens die Familie-oomblik kan plaasvind. Dit kan ingelei word deur ‘n besprekingsvraag waartydens gemeentelede vir mekaar kan vertel wat hulle weet van hulle eie doop ofonthou van hulle kinders se doop. Ons aangrypende teks beklemtoon dat dit nie uit eie verdienste (deur ons eie pogings tot ‘n onberispelike lewe) is dat ons redding ontvang nie, maar slegs deur die genade van God en die kruis van Christus. ‘n Onberispelike en regverdige lewe is dus nie iets om op te roem nie: Ons roem in die Here wat so ‘n lewe moontlik maak. Paulus verduidelik dat die oënskynlike dwaasheid van die kruis en swakheid van God enige wêreldse wysheid en mag troef. Volgens hom kan daar nie op die vermoëns van mense geroem word nie, maar slegs op wat God doen, in besonder deur Jesus Christus, die vernederde en gekruisigde Here. Hierdie boodskap wat spreek van die andersoortige wysheid en mag van God, vorm deel van Paulus se inleidende woorde aan die gemeente in Korinte, ‘n gemeente wat hy self help stig en ‘n noue band mee gehad het.

Laai af: Word – PowerPoint