Handelinge 10:34-43 – 12 Januarie

Eerste Sondag ná Epifanie

Dit is die Sondag voordat die skool begin. Gesels met die kinders oor die jaar wat voorlê. Vertel die verhaal van Petrus en Kornelius. Petrus het nie gereed gevoel om te gaan waarheen God hom gestuur het nie, maar God het hom gehelp. Die Heilige Gees was nie net in Petrus aan die werk nie, maar ook reeds in Kornelius. Die Heilige Gees is ook reeds by die skool. Moedig die kinders aan om in alle mense, juis ook in mense van ander kulture en agtergronde, vir God raak te sien. Carolyn Brown stel voor dat die storie van “The Sneetches” vertel word (video). Ook Max Lucado se boek “As ek maar ‘n groen neus gehad het”, sal goed werk. Die preekriglyn begin met die verhaal van die twee oorlogskepe wat besig was met maneuvers in swaar weer. Die sig was besonder swak weens die mis en die kaptein het by die uitkykpos gebly om ‘n ogie te hou. Kort na skemer laat weet die wag aan die bakboord dat hy ‘n lig waarneem wat blykbaar stilstaan. Die kaptein besef dadelik dat die twee skepe op ‘n botsing afstuur en laat weet vir die seiner om die ander skip in kennis te stel dat hulle ‘n 20-grade aanpassing moet maak. Die boodskap kom terug: “Ek beveel jóú om 20 grade aan te pas.” Die kaptein laat nie op hom wag nie: “Dit is die kaptein wat praat. Verander rigting met 20 grade!” Die antwoord kom terug: “Dit is die tweedeklas-seeman wat hier praat. Dit is beter dat jy jou koers wysig met 20 grade.” Woedend laat die kaptein weet: “Ek is ‘n oorlogskip. Pas jou koers onmiddellik met 20 grade aan!” Die stem aan die ander kant antwoord: “Ek … is ‘n vuurtoring.” Op komiese wyse illustreer hierdie verhaaltjie van Stephen Covey dat omstandighede ons dikwels dwing om ‘n aanpassing in ons denke te maak, anders kan die werklikheid ons dalk duur te staan kom. Sommige noem hierdie tipe van aanpassings in ons lewens ‘n verskuiwing in paradigma. So ‘n paradigma-verskuiwing funksioneer soos ‘n nuwe lens waardeur alles nuut beskou word. Dit impliseer ook nuwe gedrag. Petrus se uitroep “Waarlik, ek begryp nou eers….” (vers 34) dui vir ons daarop dat daar by hom so ‘n paradigma-verskuiwing plaasgevind het. Dit was ‘n kragtige bekering.

Laai af: WordPowerPoint

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui