Romeine 15:4-13 – 8 Desember

Tweede Sondag in Advent

In die Jesajateks word vrede uitgebeeld deur diere wat mekaar gewoonlik jag wat saam wei. Maak weer versierings om hierdie week by julle boom te voeg. Gebruik prente van die verskillende diere wat in die teks uitgebeeld word. As jy hierdie opsie kies, kan jy gerus die lied “Kersfees van die diere” van Coenie de Villiers en Lucas Maree gebruik. Die preekriglyn begin met die verhaal van Tom wie se splinternuwe Fordbakkie twee scrape opgedoen het. ‘n Paal uit sy buurman se erf het teen sy bakkie geval. Die ergste is egter dat die buurman nie verantwoordelik voel vir die skade nie. Hy het toe besluit om liewer in ‘n konstruktiewe verhouding met sy buurman te leef. Aangesien sy buurman waarskynlik langer met hom gaan wees as hierdie bakkie, het hy besluit om wil liewer in ‘n positiewe verhouding met hom te leef as om op sy regte te staan. “Buitendien, bakkies is bedoel om hard te werk en nie gespaar te word nie. Myne het net so bietjie vroeër as wat ek gehoop het die harde bakkiewêreld betree.” Wil jy die argument ten alle koste wen, of in ‘n positiewe verhouding met mense rondom jou staan? Dis nogal goeie raad wanneer die Kerstyd nader kom en baie families weer gaan saamtrek. So in die opbou tot Kerstyd moet mens jouself orienteer om te fokus op verhoudinge eerder as argumente oor wat reg en wat waar is. As ons hierdie tyd van die jaar veral ons families ontvang en aanvaar, hoeveel te meer vra dit nie vir aanvaarding van God se groter familie nie, vir “almal”, alle broers en susters? Mense soos ek, maar ook ander mense wat nie lyk, praat of leef soos ek nie.

Laai af: WordPowerPoint

Romeine 13:11-14 – 1 Desember

Eerste Sondag in Advent

By sermons for kids word die storie van die wekker vertel, spesifiek die wekker met ‘n “snooze” knoppie (“sluimerknoppie”). Dit verskaf ‘n goeie metafoor vir Familietyd om oor ons reaksie op God se Woord te gesels. Dit is ook die inleiding vir die preekriglyn wat die twee probleme van ‘n sluimerknoppie uitspel. Die eerste is dat jy kan bly sluimer en op die ou end verslaap en iets belangriks mis. Die tweede probleem is dat jy so gewoond aan die klank van die alarm kan raak dat jy later nie eers meer die alarm hoor nie. God laat soms in ons lewens ‘n wekker afgaan. Die Here sê dis nou tyd om wakker te word: “Staan op en volg My.” Baie mens druk dan op die sluimerknoppie en sê dis nie nou geleë nie, die Here moet so bietjie later weer roep. Baie mense gebruik die sluimerknoppie soveel keer hulle hoor nie eers meer die Here se stem nie. Een oggend skrik hulle uiteindelik wakker en besef dis te laat. Hulle het God se roeping heeltemal verpas. In ons teks gaan so ‘n Goddelike wekker af: “Die uur is reeds daar dat julle uit die slaap moet wakker word, want die tyd van ons finale verlossing is nou nader as toe ons tot geloof gekom het.” Daar is meer: “Die nag is byna verby; dit is amper dag. Laat ons dan ophou met die werke van die duisternis; laat ons die wapens van die lig opneem. Ons moet welvoeglik lewe soos dit in die daglig hoort.” Dis tyd vir wakker word en opstaan! Kom ons stap deur ons teks en volg Paulus se oproep in hierdie gedeelte.

Laai af: WordPowerPoint

Kolossense 1:11-20 – 24 November

Vier en Twintigste Sondag in Koninkrykstyd – Sondag van Christus die Koning

Vir die familie-oomblik kan jy óf fokus op Jesus se koninskap, óf op die fokusteks. Bring ‘n paar gewigte (die soort waarmee ‘n mens oefeninge doen) van verskillende groottes.  Terwyl jy demonstreer hoe jy die gewigte optel – of ‘n paar kinders verskillende gewigte (prober) optel (pasop dat niemand seerkry nie) – kan jy verduidelik hoe belangrik gewigoptel is om spierkrag te ontwikkel.  Lees dan Kol. 1:11 uit die Bybel vir Almal:  Mag God deur sy wonderbare krag julle alle sterkte gee om in alle omstandighede geduldig te volhard. Verduidelik dat ons krag as gelowiges nie kom van oefeninge met gewigte nie.  Ons krag kom van Jesus.  Jesus maak ons elke dag sterk in ons geloof.  Wanneer ons bid, wanneer ons Bybel lees, wanneer ons kerk toe kom, liedjies vir  God sing, leef soos wat Jesus vra, is Jesus die hele tyd besig om ons geloof sterk te maak.  In die kerkjaar staan vandag bekend as “Sondag van Christus die Koning”. Op hierdie Sondag word beklemtoon dat Christus die Middelaar is, die Koning van die heelal. Ons teks help ons om hierdie waarheid oop te breek. Dit lei ons daartoe om te besef dat Christus die antwoord is op die onwaarhede of dwaalleringe wat ons ook in ons hedendaagse lewe weglei van Christus as die Middelpunt in ons lewe.

Laai af: WordPowerPoint