Jesaja 60:1-6 – 5 Januarie

Epifaniefees

Dramatiseer die besoek van die sterrekykers ahv Matteus se weergawe soos in Die Nuwe Testament vir Kinders. Daar is ook ‘n inkleurprent is beskikbaar. Ons teks begin met ‘n kragtige opdrag in vers 1: “Kom, Jerusalem, laat skyn jou lig!” Mens kan maar net raai hoe die Ou Testamentiese gelowiges van Jesaja se tyd hierdie woorde gehoor het. Sien, daar was nie juis lig in Jerusalem nie. Nie letterlik nie, maar veral nie figuurlike lig nie. Hierdie woorde kom in ‘n tyd toe dit maar donker gegaan het met Jerusalem. Die agtergrond is die verwoesting van Jerusalem en Juda tydens die ballingskap, dekades vantevore. Nou was die ballingskap verby, maar die heropbou van die verwoeste land het bitter stadig gevorder. Hoe is dit moontlik dat Jerusalem kan opstaan en haar lig laat skyn? Ons teks gee twee redes: Eerstens laat die Here se heerlike en magtige teenwoordigheid oor Jerusalem skyn. Ten spyte van hulle omstandighede is God by hulle en skyn die Here oor hulle! Tweedens staan hulle, helder verlig deur die Here se lig, helder uit in ‘n donker wêreld. Daar is duisternis oor die nasies, die nasies soek lig. Aangesien God se lig oor Israel skyn, sal die nasies na hulle toe stroom in daar lig te vind. Die boodskap van die hele Jesaja 60:1-6 is: “Die Here is getrou.” Hierdie boodskap is veral van belang vir mense wat ervaar dat hulle deur hulle omstandighede oorweldig word. Natuurlik faal ons baie as ligdraers. Dit is nie die einde nie.

Laai af: Word – PowerPoint

Jesaja 63:7-9 – 29 Desember

Sondag ná Kersfees

Gesels oor lysies.  Kinders is dalk nog te jonk om lysies te maak, maar dalk maak hulle ouers lysies:  inkopielysies, lyste van wat gedoen moet word.  Dalk het hulle vir Kersvader ‘n lys gemaak van geskenke wat hulle wil hê.  Baie mense maak aan die begin van die jaar ook ‘n lys van goed wat hulle in die nuwe jaar wil doen – ons noem dit “nuwejaarsvoornemens”.  Dalk kan julle jul eie lys van nuwejaarsvoornemens maak, met ‘n paar goed wat lidmate (of net die kinders) voorneem vir die jaar. Vandag se teks is ook ‘n lys, maar mooi geskryf soos ‘n gedig.  Jesaja maak ‘n lys van al die wonderlike goed wat God gedoen het:  Hy het gesê Israel is sy kinders;  God het hulle gered; God het hulle verlos, hulle opgetel en hulle gedra.  Hierdie goed, sê Jesaja, is goed waarvan hy vir ander wil vertel (“verkondig”).    Maak saam ‘n lys van die dinge wat God vir ons gedoen het. Dit gee ‘n goeie inleiding vir ‘n gesprek oor die effek van die ballingskap op die volk van God. Verskeie profete het hulle vooraf gewaarsku dat God se geduld opraak oor hulle sonde en onreg teenoor die medemens. Nou het dit ingesink. Die ballingskap was God se oordeel oor hulle sonde. Hulle het ekonomiese onreg gepleeg, hulself verryk en godsdiens gebruik as ‘n manier om God se guns te koop. Daarvoor het hulle aan die pen gery. God se straf het egter ook ‘n positiewe doel gehad. In hierdie ellende was God besig om hulle nuut te vorm en hulle nuut op te voed as sy kinders.

Laai af: Word – PowerPoint

Lukas 2:8-20 – 25 Desember

Kersfees

Dramatiseer die fokusteks ahv Die Nuwe Testament vir Kinders en gebruik die ingeslote woordherkenning wat werk met 13 woorde in die teks wat in ‘n tabel weggesteek is. Die preekriglyn begin met die smagting na ‘n Kersfees sonder vrees. ‘n Kersfees net met genade en hoop. Dit is presies wat ons in die teks in Lukas hoor. Die rede? God se groot ommekeer van alles begin met Kersfees. God betuig aan elkeen wat hoor of lees dat omstandighede nie die deurslag vir die lewe gee nie, dat die lewe anders kan wees. Nee, dat dit inderdaad anders is! Die koms en die lewe en sterwe van die Messias bring nuwe perspektiewe. Dit sluit in die woorde van Lied 478. “vergesigte oop” vir die kerk van Jesus Christus. Die engelekoor sing ‘n loflied by sy geboorte. Saam met die lofsang, hoor ons ook ‘n smeekbede dat dinge nie hoef te bly soos dit tans is nie, dat dit inderdaad kan verander vir die een wat aan Jesus verbind word. Sonder verdienste, net met die goedheid van God … Dit gee hoop in ons “verwarde wêreld”. So, kyk en sien hoe God alles verander. ‘n Baba verander alles.

Laai af: Word – PowerPoint