Romeine 1:1-7 – 22 Desember

Vierde Sondag in Advent

Gesels in Familietyd saam oor waarvoor julle dink God julle geroep het. ‘n Lekker storie om hiermee saam te vertel, is “Carl and the meaning of life” deur Deborah Freedman.  Carl is ‘n erdwurm wat in die grond grawe en harde grond in sagte grond verander.  ‘n Veldmuis wonder eendag hoekom Carl doen wat hy doen en Carl begin vir verskillende diere vra wat sy doel is.  Hulle weet nie, maar hulle vertel vir hom hoekom hulle doen wat hulle doen.  Dan hoor Carl ‘n kewer roep.  Die kewer het niks om te eet nie, want hy kan nie in die harde grond grawe nie.  Carl besef sy doel is om die grond sag te maak en hy begin weer werk. Die preekriglyn begin met die onlangse versoeningsgesprek tussen die joernalis Max du Preez en oud-minister Adriaan Vlok. Max het aan die einde daarvan gesê: “Ek verstaan nie mooi wat dit alles beteken nie. Maar ek het geen twyfel nie dat Adriaan Vlok opreg en outentiek is. Wat hy doen en hoe hy nou lewe, is buitengewoon. Was daar maar meer Christene wat hul geloof met soveel oorgawe uitgelewe het.” Dit verskaf ‘n goeie inleiding om oor ons eie bydrae om draers van die goeie nuus te wees.

Laai af: Word – PowerPoint

Woord en fees – Advent 2019 tot Koninkrykstyd 2020

Woord en fees is ʼn hulpmiddel vir die voorbereiding van eredienste en die ontwikkeling van preke. Dit volg die seisoene van die kerkjaar en maak gebruik van die teksrooster Revised Common Lectionary, Jaar C.

Die liturgiese voorstelle gee riglyne wat die gebruiker sal help om weeklikse eredienste makliker voor te berei. Woord en fees sluit aan by die seisoene van die kerkjaar. Vir elke seisoen is daar ʼn basisliturgie wat as raamwerk vir die hele seisoen dien.

Agter in die boek is daar liturgieë vir spesiale geleenthede, soos die doop, die nagmaal, begrafnisse en dankoffertyd.

Woord en fees kan gebruik word saam met die ander publikasie in die reeks, naamlik Leesrooster vir lidmate.
Bestel by Bybel-Media.

Laai hier die lys met fokustekste af: Fokustekste – 2019-2020 – Jaar A

Jakobus 5:7-10 – 15 Desember

Derde Sondag in Advent

Vir Familietyd kan jy aansluit by die feit dat dit vir die meeste mense sleg is om net te wag. Om in die kerk stil te sit tot die diens begin. Om by ‘n “stop en ry” te wag. Om by die skool in ‘n ry te staan. Eintlik, die meeste mense raak ongeduldig as hulle moet wag. Ons fokusteks vandag gaan oor wag. Kom ons lees dit in Die Nuwe Testament vir Kinders. Brei dan uit oor hoe moeilik dit is vir boere om te wag dat die reën kom. Duisende boere wag dat God dit laat reën. Maar daar is twee maniere van wag. Jy wag sonder dat jy verstaan hoekom. Of jy wag omdat jy weet daar gaan iets goeds gebeur. Wanneer mamma kolwyntjies maak en nog net die versiersuiker kort, dan vra sy jou om te wag totdat dit klaar is. Dán gee jy nie om om te wag nie. Want na die wag kom daar ’n beloning! Dit is wat ons teks ook sê. Jakobus sê dit is hoe ons moet wag op Jesus se wederkoms. Nie soos mense wat nie weet waarvoor ons wag nie, maar soos mense wat weet dat hulle vir iets spesiaals wag. Die Here sal ons kom haal, daarvan kan ons seker wees. Die preekskets begin met ‘n soortgelyke verhaal van die versoek van ‘n graad 1-seuntjie vir Kersvader. Hy skryf dat Kersvader hom moet help met ‘n boelie in die klas. Om dan die teks verder uit te lê vir almal van ons wat met boelies sukkel. Want daar is boelies van alle ouderdomme, aktief besig op alle lewensterreine. Om ons te bemoedig, gee Jakobus vir ons drie voorbeelde, drie soorte geduldige mense: landbouers, die profete van ouds en Job. Waarin lê ons diepste motivering om geduldig te wag en te volhard? Dáárin dat ons die Here se verskyning, teenwoordigheid, wederkoms, binnekort verwag. Ons weet die Here kom dan as Regter. Daarom neem ons die oordeel ook nie in ons eie hande nie.

Laai af: Word – PowerPoint