Genesis 12:1-4a – 8 Maart

Tweede Sondag in Lydenstyd

Daar is ‘n video van vandag se skriflesing en ‘n oulike inkleurprent vir Familietyd. Gesels met die kinders oor hoe dit nogal “scary” kan wees om iets vir die eerste keer te doen. Jy kan kinders herinner aan die eerste dag wat hulle skool toe is, of eerste keer wat hulle fiets gery of gaan swem het. In al hierdie gevalle help dit as jy iemand by jou het op wie jy kan vertrou – iemand wat al voorheen die ding gedoen het wat jy vir die eerste keer gaan doen.  Gebruik die blinddoek voorbeeld om dit te illustreer, waarnan jy die lyn kan trek na Abram en Sarai se verhaal. Die preekriglyn focus op die roeping van Abram as ‘n langtermynprojek wat die verlossing van die ganse mensdom op die oog het. Dit lyk egter of hierdie projek al van die begin af tot “mislukking” gedoem was. Abram was baie oud en Sara kon nie kinders kry nie. Die belofte van ‘n talryke nageslag klink dus menslik gesproke nie haalbaar nie. Hierdie uitsiglose situasie beklemtoon egter die feit dat die beloftewoord van God aan Abram ‘n woord van hoop in ‘n chaotiese wêreld is. Die roeping van Abram en die gepaardgaande beloftes aan hom, is God se antwoord op ‘n vervalle en chaotiese wêreld wat Hy nie bereid is om prys te gee nie. God begin met Abram (en sy nageslag) ‘n lang proses van vernuwing en herstel, wat uiteindelik tot die totale verlossing van die mensdom en sy wêreld moet lei.

Laai af: Word – PowerPoint

Genesis 2:15-17; 3:1-7 – 1 Maart

Eerste Sondag in Lydenstyd

Die boodskap van die sondeval kan met die kinders deurgesels word aan die hand van die verhaal in Genesis 3 waarna ‘n paar waar of vals vrae die boodskap kan omklink. Daar is ook ‘n inkleurprent. Die preekriglyn kontrasteer die twee weergawes van die skepping in Genesis 1 en 2  en fokus dan op die sewe episodes waaruit Genesis 2 tot 3 bestaan waarin die sonde van die mens die sentrum vorm. Die preekriglyn staan dan by die eerste vier episodes van die verhaal stil om ons bewus te maak van ons eie Adama-karakter, ons geneigdheid om te sondig, om nie anders te kan as om sonde te doen nie. Daarom het ons ‘n Verlosser nodig. Ons kan onsself nie red nie. Jesus word mens en kom woon onder ons om ons te red. Aangesien geen mens waardig is om God se weg te gehoorsaam en verlossing te bewerk nie, voorsien God self die volmaakte mens, Jesus Christus, die Seun van God wat op aarde vir ons versoening kom bewerk. Christus word die nuwe Adam wat vir ons die pad na God oopbreek. In Christus kan ons nuut word, kinders van God word, ‘n toekoms saam met God hê. Hiervoor moet ons dankbaar wees. Hiervoor moet ons God loof en prys.

Laai af: Word – PowerPoint

Eksodus 24:12-18 – 23 Februarie

Laaste Sondag na Epifanie – Sondag van Verheerliking

Roep die kinders na vore en help hulle om die teks dramaties uit te beeld terwyl dit gelees word. ‘n Berg kan bestaan uit ‘n stoel (dalk selfs ‘n stoel op ‘n tafel) met ‘n laken oor. Gebruik ou klere en lappe vir Moses en Josua. Kliptafels kan uit karton gesny en met spuitverf geverf word. Maak ‘n wolk uit karton en watte of gebruik ‘n wit of blou laken en laat iemand dit om die “berg” vashou. Dit is vandag die Sondag van Verheerliking. Ons word herinner aan God se openbaring aan ons in Jesus Christus. Vanaf die vroegste oomblikke in die geskiedenis van Israel leer ons God ken as die Een wat kies om tussen sy volk te bly. Die groot gebeurtenisse rondom God se verskyning met die gee van die wet en die tabernakel in Eksodus onderstreep dit. God se nabyheid word duidelik in die bou van die tabernakel sowel as in die gawe van die Woord en wet waardeur Hy sy daaglikse teenwoordigheid in die lewe van mense vaslê. Ons teks vertel hoedat God Godself aan sy volk gee. Ons teks is ‘n besondere verslag oor hoe God God se teenwoordigheid aan God se volk bekendmaak. In hierdie ontmoeting gee God Homself aan die volk deur in die vorm van wet en riglyne. God trek mense ook in gemeenskap met God in.

Laai af: Word – PowerPoint