1 Petrus 2:19-25 – 3 Mei

Vierde Sondag in Paastyd – Goeie Herdersondag

Vir die familie-oomblik sluit ons aan by die tema van “Goeie Herdersondag”. Carolyn Brown het goeie idees tov werk met kinders en ons beveel dit graag aan. Uitgebreide aanhaling ingesluit. Daar is ook ’n inkleurprent. Ons teksgedeelte handel oor die regte wyse waarop ons Christus moet navolg, veral wanneer dit swaar gaan. Dis nie sommer algemene teenspoed wat Petrus in gedagte het nie, maar lyding wanneer mens goed doen, wanneer jy onverdiende lyding ervaar. Dit is uiteraard relevant in die tyd van Covid-19 hoewel die teks nie direk oor algemene lyding handel nie. Dit help ons eerlik kyk na ons kultuur wat nie tyd het vir lyding nie. Wanneer daar lyding is, dink ons daar is iets verkeerd. Ons wil lyding wegneem, verdoof, beveg, uit die pad vee. Natuurlik is dit goed om die lyding van siekte, armoede, onreg en misbruik te beveg. Daar het baie seën en beter lewenskwaliteit uit die soeke om onkunde, siekte en onreg te bekamp, voortgespruit. Maar ons wil dikwels met ‘n paar oppervlakkige uitsprake die eis vir lyding terwille van Christus en die evangelie ontsnap. Dié evangeliewoord klink dikwels nie alleen hard en onwelkom in ons ore nie, maar word ook deur baie as (polities) naïef en onuitvoerbaar beskou. En tog bly dit waar. Terug by die virus. Die virus het ons getref nie deur ons eie toedoen nie. Dit vul ons egter met vrees en een medemens word ‘n bedreiging vir ‘n ander. Ons het kontak nodig, maar ons is bang vir mekaar. Dit is veral vrees vir die ander, die een wat ek nie ken nie, die een wat die draer van die siekte kan wees. In hierdie tyd sonder ons ons af, beperk ons ons beweging as selfopoffering ter wille van ander. Ek het jou lief, ek is besorg oor jou, daarom betaal ek die prys wat nodig is om besmetting te verhoed. Maar veral maak ons sin van die virus en die uitkoms deur aan Christus vas te hou. Christus se lyding en sterwe was juis sodat sonder en vernietiging nie meer die laaste woord oor ons lewens spreek nie. Daar is lewe na die dood. Die dood , siekte en pes is nie die einde nie. Dit is die deurgang na die ewige lewe. Daar ly ons, en treur ons, soos mense wat hoop het. Almal wat ly vir Christus word vertroos met die herinnering dat so ‘n lewe van lyding tog nie tevergeefs is nie. Die laaste woord lê by God. Christene behoort hierdie pad vrolik te kan loop omdat hulle weet dat hulle in Christus se veilige sorg is as hulle waarlik op God vertrou.

Laai af: Word – PowerPoint

1 Petrus 1:17-23 – 26 April

Derde Sondag in Paastyd

Daar is twee opsies vir Familietyd. Sluit aan by die preek se gedagte gedagte van ‘n familiefoto – dat ons deel is van God se gesin. Kry vooraf familiefoto’s by verskillende lidmate. Wys die foto’s en gesels oor identiteit. Sê dan dat ons almal deel is van nog ‘n groter familie – God se familie. Of sluit aan by die gedagte van ons vreemdelingskap in die wêreld.  Kinders is deesdae bekend met die idee van iemand wat ‘n vreemdeling is.  In meeste dorpies is daar iemand wie se kultuur verskil van die meeste mense in die dorp s’n. Baie kinders het ook neefs en niggies wat oorsee grootword. Op dieselfde manier is ons “vreemdelinge in die wêreld”. Soos wat vreemdelinge deel is van die dorpie, maar steeds hul eie kultuur behou. So is ons deel van die wêreld, maar ons leef met ‘n ander kultuur as die wêreld.  Ons leef volgens God se reëls. Die preekriglyn sluit aan by die era waarin ons leef en sosiale afstand en grendeltye ter wille van ons gesondheid op ons afgedwing word. Dit maak mens weer bewus hoe belangrik sosiale kontak, saam leef en verhoudinge is. Dit is swaar om afgesonder te wees. Meer as net mense rondom jou is egter nodig. Ons leef danksy die nabyheid van betekenisvolle persone. Daarom is baie mense eensaam in ‘n groot skare. As jy nie behoort nie, ingetrek is by gemeenskap nie, nie nabye geliefdes het nie, is dit swaar en eensaam. So vertel die Nederlandse teoloog Okke Jager van ‘n klein seuntjie in spitstyd. Die straat is oorvol. Mense. Motors. Êrens daar tussenin ‘n seuntjie van ses jaar oud met trane op sy wange. Hy stap na ‘n polisieman toe en trek aan sy arm: “Meneer polisieman, het jy nie ‘n pappa gesien sonder ‘n klein seuntjie nie?” Terwyl hy opnuut in trane uitbars, voeg hy met horte en stote by: “Die klein seuntjie – dit is ek!” Okke Jager gebruik dié verhaaltjie om God en mens se status ná die sondeval te beskryf: God het ‘n Vader sonder kinders geword; die mensdom het kinders sonder ‘n Vader geword. Dit is sulke mense – ons – wat Petrus in hierdie brief bemoedig. Hy beklemtoon ‘n kernwaarheid van die evangelie: Die status van vervreemding tussen die Vader en sy kinders is deur Jesus Christus se opstanding uit die dood (na sy kruisiging) omgekeer, waardeur ons “opnuut verwek [is] sodat ons ‘n lewende hoop mag hê op ‘n erfenis” (1 Pet 1:3-4).

Laai af: Word – PowerPoint

1 Petrus 1:3-9 – 19 April

Tweede Sondag in Paastyd

Gesels met die kinders oor wat vleis die beste sal bewaar? Teen kamertemperatuur in ’n plastieksakkie? Lekker koud in ’n yskas? Kliphard gevries in ’n vrieskas? In ’n botteltjie met formalien? (Verduidelik dalk net die aard van formalien…) Wat dink julle sal die toestand van die vleis oor ’n week wees? Dié teen kamertemperatuur in die plastiese sakkie sal sleg raak en jy sal dit moet weggooi. Die een wat lekker koud is in die yskas sal dalk ’n week hou, maar dit sal na ’n maand sleg wees en sal ook weggegooi moet word. Die gevriesde vleis in die vrieskas sal eers na ’n paar maande, dalk selfs jare sleg wees, sodat jy dit moet weggooi. Dié in die formalien sal vir ewig bewaar bly. Gesels dan oor die beperktheid van ons lewens. En die formalien-opsie wat met Jesus se opstanding uit die dood te doene het. Die enigste ding wat iets vir altyd laat hou, wat ons help om vir ewig te lewe is, is die opstanding van Jesus wat vir ons die ewige lewe verseker. As ons glo, het ons die krag van God wat ons hoop gee en ons voluit laat lewe. Ons teks is ‘n wonderlike lofbetuiging aan God en God se groot genade. Petrus fokus in ons teks op die ewige erfenis wat in die hemel vir ons in bewaring gehou word. Die opstanding van Jesus Christus uit die dood is die basis van ons hoop – ‘n lewende hoop – dat ons dié erfenis aan die einde in besit sal neem. Petrus herinner die gelowiges daaraan dat hierdie verlossing iets is waaroor baie lankal nagedink en navraag gedoen is, sedert die tyd van die profete.  Selfs die engele, sê hy, wonder oor presies hoe dit werk. Ons het egter nou die voorreg om nie net van ons deelname aan die verlossing oortuig te word nie, maar inderdaad mee te werk daaraan deur ons verbintenis aan God.

Laai af: Word – PowerPoint