1 Petrus 1:17-23 – 26 April

Derde Sondag in Paastyd

Daar is twee opsies vir Familietyd. Sluit aan by die preek se gedagte gedagte van ‘n familiefoto – dat ons deel is van God se gesin. Kry vooraf familiefoto’s by verskillende lidmate. Wys die foto’s en gesels oor identiteit. Sê dan dat ons almal deel is van nog ‘n groter familie – God se familie. Of sluit aan by die gedagte van ons vreemdelingskap in die wêreld.  Kinders is deesdae bekend met die idee van iemand wat ‘n vreemdeling is.  In meeste dorpies is daar iemand wie se kultuur verskil van die meeste mense in die dorp s’n. Baie kinders het ook neefs en niggies wat oorsee grootword. Op dieselfde manier is ons “vreemdelinge in die wêreld”. Soos wat vreemdelinge deel is van die dorpie, maar steeds hul eie kultuur behou. So is ons deel van die wêreld, maar ons leef met ‘n ander kultuur as die wêreld.  Ons leef volgens God se reëls. Die preekriglyn sluit aan by die era waarin ons leef en sosiale afstand en grendeltye ter wille van ons gesondheid op ons afgedwing word. Dit maak mens weer bewus hoe belangrik sosiale kontak, saam leef en verhoudinge is. Dit is swaar om afgesonder te wees. Meer as net mense rondom jou is egter nodig. Ons leef danksy die nabyheid van betekenisvolle persone. Daarom is baie mense eensaam in ‘n groot skare. As jy nie behoort nie, ingetrek is by gemeenskap nie, nie nabye geliefdes het nie, is dit swaar en eensaam. So vertel die Nederlandse teoloog Okke Jager van ‘n klein seuntjie in spitstyd. Die straat is oorvol. Mense. Motors. Êrens daar tussenin ‘n seuntjie van ses jaar oud met trane op sy wange. Hy stap na ‘n polisieman toe en trek aan sy arm: “Meneer polisieman, het jy nie ‘n pappa gesien sonder ‘n klein seuntjie nie?” Terwyl hy opnuut in trane uitbars, voeg hy met horte en stote by: “Die klein seuntjie – dit is ek!” Okke Jager gebruik dié verhaaltjie om God en mens se status ná die sondeval te beskryf: God het ‘n Vader sonder kinders geword; die mensdom het kinders sonder ‘n Vader geword. Dit is sulke mense – ons – wat Petrus in hierdie brief bemoedig. Hy beklemtoon ‘n kernwaarheid van die evangelie: Die status van vervreemding tussen die Vader en sy kinders is deur Jesus Christus se opstanding uit die dood (na sy kruisiging) omgekeer, waardeur ons “opnuut verwek [is] sodat ons ‘n lewende hoop mag hê op ‘n erfenis” (1 Pet 1:3-4).

Laai af: WordPowerPoint

Comments (2)

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui