1 Petrus 2:19-25 – 3 Mei
Vierde Sondag in Paastyd – Goeie Herdersondag
Vir die familie-oomblik sluit ons aan by die tema van “Goeie Herdersondag”. Carolyn Brown het goeie idees tov werk met kinders en ons beveel dit graag aan. Uitgebreide aanhaling ingesluit. Daar is ook ’n inkleurprent. Ons teksgedeelte handel oor die regte wyse waarop ons Christus moet navolg, veral wanneer dit swaar gaan. Dis nie sommer algemene teenspoed wat Petrus in gedagte het nie, maar lyding wanneer mens goed doen, wanneer jy onverdiende lyding ervaar. Dit is uiteraard relevant in die tyd van Covid-19 hoewel die teks nie direk oor algemene lyding handel nie. Dit help ons eerlik kyk na ons kultuur wat nie tyd het vir lyding nie. Wanneer daar lyding is, dink ons daar is iets verkeerd. Ons wil lyding wegneem, verdoof, beveg, uit die pad vee. Natuurlik is dit goed om die lyding van siekte, armoede, onreg en misbruik te beveg. Daar het baie seën en beter lewenskwaliteit uit die soeke om onkunde, siekte en onreg te bekamp, voortgespruit. Maar ons wil dikwels met ‘n paar oppervlakkige uitsprake die eis vir lyding terwille van Christus en die evangelie ontsnap. Dié evangeliewoord klink dikwels nie alleen hard en onwelkom in ons ore nie, maar word ook deur baie as (polities) naïef en onuitvoerbaar beskou. En tog bly dit waar. Terug by die virus. Die virus het ons getref nie deur ons eie toedoen nie. Dit vul ons egter met vrees en een medemens word ‘n bedreiging vir ‘n ander. Ons het kontak nodig, maar ons is bang vir mekaar. Dit is veral vrees vir die ander, die een wat ek nie ken nie, die een wat die draer van die siekte kan wees. In hierdie tyd sonder ons ons af, beperk ons ons beweging as selfopoffering ter wille van ander. Ek het jou lief, ek is besorg oor jou, daarom betaal ek die prys wat nodig is om besmetting te verhoed. Maar veral maak ons sin van die virus en die uitkoms deur aan Christus vas te hou. Christus se lyding en sterwe was juis sodat sonder en vernietiging nie meer die laaste woord oor ons lewens spreek nie. Daar is lewe na die dood. Die dood , siekte en pes is nie die einde nie. Dit is die deurgang na die ewige lewe. Daar ly ons, en treur ons, soos mense wat hoop het. Almal wat ly vir Christus word vertroos met die herinnering dat so ‘n lewe van lyding tog nie tevergeefs is nie. Die laaste woord lê by God. Christene behoort hierdie pad vrolik te kan loop omdat hulle weet dat hulle in Christus se veilige sorg is as hulle waarlik op God vertrou.