Matteus 10:40-42 – 28 Junie

Vierde Sondag in Koninkrykstyd

John Stevens van Dollar Store Children’s Sermons gee ‘n wonderlike idee met ‘n vel rubberige “papier”.  Jy sny ‘n deur in die papier in, skryf “binne” aan die een kant en “buite” aan die anderkant.  Terwyl kinders die deur vashou, draai jy die raam om, sodat binne buite is of buite binne.  Terwyl julle dit doen, kan jy gesels hoe God ons verwelkom het, hoe ons almal verwelkom.  Jy kan ook praat oor hoe ons bang is om uit te gaan, maar hoe God ons bemagtig om uit te gaan.  Gaan kyk die instruksies op John se video – dis regtig ‘n baie oulike idee!  Jy sal dit vooraf moet oefen. Ons teks is die slotgedeelte van Jesus se groot sendingpreek in die Evangelie volgens Matteus. Jesus gee in sy sendingpreek instruksies oor hoe ons gestuur word om nuwe gemeenskap tot stand te bring deur die vrede van Jesus na ander uit te dra. Jesus doen dit self en nooi sy kerk om deel te word van hierdie werk wat Hy doen. Ons het ook gehoor dat deelname aan Jesus se beweging na die wêreld ons in konflik bring met die wolwe en die vervolgers wat geen ooghare vir God se vrede het nie. Daarom gaan ‘n groot deel van Jesus se preek oor vrees en die oorwinning daarvan. Die mense wat ons nie moet vrees nie, raak die hele spektrum. Daar is die verskriklike despote wat jou doodmaak as jy van Jesus getuig. Dan is daar ook, sê Jesus, die gelowiges se familie wat Jesus se volgelinge verwerp – omdat hulle nie glo nie. Verskriklik genoeg kan mens ook jou familie vrees. Verder is daar openbare verwerping wat nie gevrees moet word nie. Jesus vra dat ons vrymoediglik getuig. Die verwerping, uitsluiting en vervolging wat ons van alle kante in die sending te wagte kan wees, kan in die openbaar voor die massas plaasvind, asook in private en uiters-persoonlike ruimtes. Nóg die magte se haat en wrewel, nóg ons naasbestaandes se liefde of afkeur van ons dissipelskap, behoort die rigting, inhoud en vorm van ons lewe te bepaal. Ons is verbind aan Jesus. Hy bepaal ons lewe.

Laai af: Word – PowerPoint

Matteus 10:24-39 – 21 Junie

Derde Sondag in Koninkrykstyd

Lees die teks in die taal van kinders. Gesels met die kinders oor wat hulle bang maak. Praat spesifiek ook oor dié kere wat jy bang is omdat jy die Here volg, bv. as jou maats jou spot omdat jy reg optree, kerk toe gaan, ens., of wanneer jou maats iets verkeerd wil doen en jy weier en weet dat hulle vir jou gaan kwaad wees.  Verduidelik dan dat Jesus sê ons hoef nie bang te wees om gehoorsaam te wees nie, omdat hy vir ons sorg.  Gebruik die storie “Bosbok en Olifant Raak Bang” uit Ewald van Rensburg se “Die Avonture van Bomani Meerkat en ander stories”.  Dit vertel van Bosbok se pragtige huis by die rivier.  Wanneer Bosbok eendag by die huis kom, ontdek hy daar is iemand met ’n diep stem in sy huisie wat dreig om hom op te eet!  Selfs Olifant kan nie help nie.  Dit is uiteindelik Leeu wat dapper genoeg is en ontdek dat dit die hele tyd Brulpadda was wat maak of hy gevaarlik is! Die preekriglyn vra die vraag wat dit prakties beteken om Jesus Christus van Nasaret as Here en Verlosser te volg? Verlede week het ons by die “groot sendingpreek” van Jesus stilgestaan. Mens kan sê verlede week se teks is reis-instruksies: Jesus stuur sy dissipels. Vandeesweek se teks is vertroue-instruksies. Jesus leer ons om op Hom te vertrou, want daar gaan ook moeilikheid wees. Sy “moeilikheid-instruksies” pas goed by die “reis- en vertroue” instruksies.

Laai af: Word – PowerPoint

Matteus 9:35-10:8, (9-23) – 14 Junie

Tweede Sondag in Koninkrykstyd                         

Oorweeg om ‘n kindervriendelike vertaling van die Skriflesing te gebruik. Jy kan aansluit by die feit dat Judas deel van hierdie groep was. ‘n Ander opsie is om te praat oor die stof afskud. Ons Skriflesing is die begin van Jesus se tweede lang toespraak in die Evangelie volgens Matteus. Hierdie is ‘n belangrike draaipunt in die Matteus-evangelie. Jesus se werk verbreed nou. Jesus sluit al sy dissipels wat Hy geroep het in by sy bediening. Hy rus hulle toe en gee vir sy dissipels in ons teks volledige instruksies oor hoe hulle bediening moet lyk. Hier het ons met die diepste beweegredes agter Jesus se bediening te doen. Hy kry die skare innig jammer, sy hart en ingewande kom in beroering oor hulle. Jesus sien nie neer op die skare se ellende nie, hy het nie ‘n neerbuigende bejammerende houding nie, hy beleef empatie met die mense. Trouens, Jesus sien geweldige potensiaal in die skare, want hy draai na sy dissipels en sê: Die oes is groot, maar die arbeiders min. Bid dan die Here aan wie die oes behoort, om arbeiders uit te stuur vir sy oes (37-38). Die bekende prediker uit die VSA, Thomas Long, skryf: Where others might gaze on such a group and see only desperate, even overwhelming, neediness, Jesus sees in them great potential. Jesus, the embodiment of God’s will, is the compassionate shepherd … [who] sees [the crowds] as a bumper crop ready for harvesting. Wat nodig is, is arbeiders wat saam met Jesus kan werk om hierdie oes in volheid van lewe by God en by nuwe lewensmoontlikhede te bring. Daarvoor moet die dissipels bid, net om te ontdek hulle is die arbeiders wat Jesus ook roep om by die oes uit te kom.

Laai af: Word – PowerPoint