Genesis 1:1-2:4a – 7 Junie

Eerste Sondag in Koninkrykstyd – Drie-eenheidsondag

Jy kan die baie oulike video oor die skeppingsverhaal is gebruik – skakel ingesluit – of gewoon die skeppingsverhaal in kindervriendelike taal oorvertel. ‘n Taak om ‘n plant op die aarde te plant met ‘n doolhof kan ook gebruik word. Voorbeeld ingesluit. Vandag vier ons Drie-eenheidsondag. Reeds vanaf die eerste eeue het die kerk die Drie-eenheid as die groot werklikheid, die “landskap” waarbinne ons leef, bely. Die werk van God die Vader, Seun en Heilige Gees is die “ruimte” waarbinne alles ontstaan het, leef en waarin die werklikheid na sy eindbestemming gelei word. Die skeppingsverhaal van Genesis 1 speel ‘n belangrike rol in hierdie geloofsoortuiging. Niks het ontstaan buite God om nie, alles wat is, het die oorsprong daarvan in God. Die teks het twee oogmerke 1) Dit bring lof, eer en erkenning aan God as die Oorsprong van alles. Dit is ‘n loflied wat God prys vir die groot en wonderlike wyse waarop God alles geskep het. 2) Dit oriënteer ons. Genesis 1 is soos ‘n kaart wat verduidelik wat die aard van alles is, hoe die wêreld inmekaar steek en met watter doel alles gemaak is. Genesis 1 weet dat daar ook buite God se volk ander skeppingsverhale is wat die werklikheid probeer verklaar. Baie van die mededelings in Genesis 1 is kritiek of getuienis teenoor ander skeppingsmites. Dat God lig onafhanklik van die ligdraers (soos die son en maan) gemaak het, is skerp kritiek op die aanbidding van son en maan as gode of goddelik. Dat man en vrou gelykes is, is kritiek teen ander skeppingsverhale wat manlike dominasie wil bevestig. Dit is ons vertrekpunt om vandag na te dink oor die werklikheid.

Laai af: Word – PowerPoint

Johannes 20:19-23 – 31 Mei

Pinksterfees

Gesels in Familietyd oor dinge wat julle bang maak. Slange, die donker… Maar ook goed soos alleen wees of misluk. Jesus het ons gestuur om vir hom te leef en mense van hom te vertel. Maar ons hoef nie bang te wees nie. Sy Gees is altyd by ons, daarom is ons nooit alleen nie. Die Gees sal ons help. Op Paassondag is die eerste deel van Johannes 20 as fokusteks benut (v 1-18). Op die Pinksterfees word die verhaal uit Johannes 20 voortgesit, met die fokus op vers 19-23. Op Paassondag en met  Pinksterfees kan ons dus die verband lê tussen hierdie twee hoogtepunte van die kerklike jaar. Die Covid-19-pandemie het groot dele van die wêreld is vrees vasgevang. Sommige mense vrees die virus. Ander vrees samesweringsteorieë. Ander ontken die gevaar, en word sodoende gevrees deur mense wat vrees. Politici vrees die ekonomiese impak. Ekonome vrees die politieke impak en laat die markte tuimel en tol. Ons leef in ‘n wêreld gedryf deur vrees. Dit ontlok tipies een van twee reaksies by mense: veg, of vlug. In ons teks is vrees ook ‘n realiteit. Merkwaardig genoeg roep Jesus sy dissipels midde-in hierdie wêreld van vrees om sy gestuurdes te wees. Kom ons stap eers deur ons teks, en vra dan daarna wat dit vir ons wêreld beteken.

Laai af: Word – PowerPoint

1 Petrus 4:12-14; 5:6-11 – 24 Mei

Sewende Sondag in Paastyd

Vir kinders herbesoek ons die hemelvaart van Jesus die afgelope week. Vir agtergrond inligting word die tema aangebied soos opgesom in die Bybelse Ensiklopedie. Ingesluit is ’n inkleurprent. In ons teks praat Petrus reguit en op die ma af met ons oor ons lewe saam met God. Ons reis met God loop dikwels oor ruwe paaie, en dit gaan nie maklik nie. Daar is teenstand, teenspoed en swaarkry. Die Christen-lewe bring sy eie eensaamheid; ongewildheid, vervolging en offers mee. Petrus sê dat die gelowiges nie die vurige beproewing as iets vreemds moet sien nie (4:12). Christene kan sulke dinge verwag. Hulle moet nie verbaas wees as lyding op hulle pad kom nie. Gelowiges kan eintlik geëerd voel as hulle swaar kry ter wille van Christus. Dink aan Jesus se woorde in Matt 5:11-12: “Geseënd is julle as julle beledig en vervolg word.” ‘n Nuwe lewe bring ‘n nuwe leefstyl. Waar baie dinge in die ou lewe op trots, leuens, plesier, geld en mag gebou is, bou die gelowige sy lewe op waarheid, nederigheid, eerlikheid, integriteit en die begeerte om God te verheerlik. Dié konflik is dwarsdeur die Bybel duidelik. Ons nuwe lewe bring ons in botsing met die ou lewe. Jesus waarsku sy dissipels: “Hulle sal julle aan die geregshowe uitlewer, en in hulle sinagoges sal hulle julle gésel” (Matt 10:17). Vir hierdie lewe met sy swaarkry spel Petrus as’t ware vyf nuwe regulasies uit. Kom ons stap saam deur ons teks en kyk hoe Petrus ons toerus vir die lewe saam met God.

Laai af: Word – PowerPoint