Johannes 20:1-18 – 12 April

Paassondag

Hoewel kinders nie ‘n goeie idee van die dood het nie, en daarom die opstanding net met moeite as konsep sal verstaan, sal hulle kan identifiseer met die feit dat God nie toegelaat het dat die bose mense wen nie. Jy kan ook met hulle gesels oor geloof.  Kry ’n klein beeldjie van ’n olifant en hou dit in jou hand – so dat die kinders dit nie kan sien nie.  Vra dan of hulle sal glo dat jy ’n papie in jou hand hou.  ’n Skoenlapper? ’n Eier?  ’n Blom?  En wat as jy sê jy hou ’n olifant?  Laat kinders een-een kom loer wat jy in jou hand het en sê wat dit is.  Vra dan of die kinders jou nou glo – en wys vir die grootmense wat jy in jou hand het.  Verduidelik dat ons soms goed glo, al het ons dit nie gesien nie. Ons teks begin waar Maria Magdalena, Petrus en die ander dissipel (Johannes) by die graf aankom. Hulle sien die klip is van die graf weggerol. Vir Maria beteken dit net een ding: Hulle het die Here Jesus uit die graf weggevat, en sy weet nie waar Hy nou begrawe is nie. Petrus en Johannes bekyk die leë graf, maar dit maak nie vir hulle sin nie. Duidelik het die dissipels nie rekening gehou met die moontlikheid dat God Jesus uit die dood sou opwek nie. Vir hulle is die graf, nou die leë graf, nog onverstaanbaar. Daarom huil Maria. Eers was daar darem nog die liggaam van die Here, wat sy volgens Joodse gebruik sou kon versorg. Maar nou is daar niks. Ook die stoflike oorskot van Jesus is weggeneem en iewers anders begrawe. Die dissipels, Petrus en Johannes, sien die leë graf. Dan draai hulle om en gaan huis toe. “Hulle het nog nie die Skrif verstaan dat Jesus uit die dood moet opstaan nie.” Hulle verslaentheid voor die dood is so groot, dat dit nie ruimte laat vir God se ingrepe nie. Stil Saterdag, die dag na Jesus se dood, die dag waarop graf en dood die botoon voer, spoel nog oor na die Sondagmôre vroeg. Johannes die evangelis vertel op meesterlike wyse hoe Maria se nagmerrie in ‘n oogwink verander wanneer Jesus Homself aan haar openbaar. Jesus noem haar op haar naam: “Maria!” Oombliklik herken sy vir Jesus. Sy roep uit: “Rabboeni! Leermeester!” Op hierdie oomblik, in die ontmoeting met die lewende opgestane Jesus, ontdek sy Jesus se ware identiteit. Soos sy dan vir die ander dissipels gaan sê: “Ek het die Here gesien!”

Laai af: Word – PowerPoint

Jesaja 52:13–53:12 – 10 April

Goeie Vrydag

Hier is ‘n oulike storieboek-weergawe vir Familietyd van die pad na die kruis, met aflaaibare boekmerke en inkleurprent. Ons maak baie moeilik vrede met lyding.  Veral ons eie lyding of die lyding van mense na aan ons.  Tog is daar iets fassinerends in die lyding van ‘n besondere mens of ‘n leier.  En ons weet uit die geskiedenis dat daar ongelooflike krag sit in die lyding van iemand wat nie vir die opoffering van die lyding terugdeins nie, en selfs bereid is om sy of haar lewe vir ‘n saak op te offer, ten spyte van die koste daarvan.  Sulke verhale van vasberadenheid onder lyding het die potensiaal om mense tot groter hoogtes te inspireer as wat verhale van voorspoed en suksesse het.  Dink aan verhale uit die vorige eeu: Ghandi, moeder Theresa, Nelson Mandela.  Hulle het met groot persoonlike opoffering hulle aan hulle lewenstaak gewy.  En baie mense is daardeur geïnspireer.  En dit is nie net die groot leiers wat só ‘n inspirasie is nie; ook die gewone mense wat geduldig volhard het onder groot lyding – agter die Ystergordyn tot en met die val van die Berlynse muur en nou onlangs in Egipte, Tunesië en Libië wat ‘n enorme effek op die regerings gehad het, en reeds tot die val van die eerste twee gely het – dié inspireer ons.  En dit is die krag van hierdie verhaal van die lydende dienaar van die Here.

Laai af: Word – PowerPoint

Matteus 20:29-21:11_26:14–27:46 – 5 April

Sesde Sondag in Lydenstyd Palm-/Passiesondag

Soos altyd is dit belangriker dat kinders die Bybelverhale hoor, eerder as ’n lessie daaroor.  Moenie bang wees om gewoon die storie van die intog in Jerusalem of die passie (of dele daarvan) te vertel nie. Of fokus op die oorgang van Palm na Passie: toe Jesus in Jerusalem inry, steek almal hul vingers in die lug (amper soos die spons vingers by sportbyeenkomste):  “Jesus is nommer een! Jesus is nommer een!” Maar kort daarna word dieselfde vingers veroordelend teen Jesus gedraai:  “Kruisig hom!” [Nota: Hierdie preekriglyn werk met ‘n kleiner afbakening van die teks, nl. Matteus 27:27-44] Ons teks vertel die somber verhaal van die bespotting van Jesus. Die aanloop tot kruisiging, en die kruisiging self, was daarop gemik om die veroordeelde na liggaam en gees te breek. Dit is bedoel om die mens in sy diepste wese te verkrag en te verwerp. Ons sien hoe alles in ons teks daarop gemik om Jesus te verneder en Hom met skande uit die weg te ruim.

Laai af: Word – PowerPoint