Efesiërs 1:15-23 – 21 Mei

Hemelvaart

Indien jy ‘n Familietyd gebruik, fokus op Jesus se Hemelvaart. Vertel die verhaal, wys ‘n video soos die een wat ons ingesluit het, of lees dit uit ‘n kindervriendelike Bybel. Daar is ook ‘n puzzle-inkleurprent van die Hemelvaart. Nota vooraf aan die prediker: Hierdie teksgedeelte word in die RCL op Hemelvaart en Verheerlikingsondag gebruik. Dit plaas die fokus op Jesus en sy verheerliking, maar gaan verder na die effek wat dit het op die lewe van gelowiges. Hemelvaart roep ons tot nadenke oor wat ons met ons aardse lewe doen. Die Heidelbergse Kategismus se vraag oor die Hemelvaart is betekenisvol: “Watter nut het die hemelvaart van Christus vir ons?” Dit bewaar ons van vrugtelose spekulasie oor hoe die hemelvaart plaasgevind het en wat die aard van Jesus se liggaam na die hemelvaart is. Dit is sake wat min te doen het met gelowiges se lewe hier en nou. Die antwoord herinner ons daaraan dat wanneer Jesus opvaar na die Vader, dit vir ons ‘n waarborg vir die lewe inhou: Jesus is nie meer op aarde nie, maar sy volgelinge kan leef met die sekerheid van ‘n sinvolle lewe wat gebore is uit God se roeping, ‘n ryk erfenis wat vir ons opsy gesit is en al die krag wat ons nodig het om vir God te lewe. Paulus se gebed dat die gelowiges se geestesoë sal oopgaan, is in hierdie tyd baie belangrik. Ons lewe in ‘n tyd waarin materialisme geweldig toeneem, mense leef al hoe meer net vir dit wat hulle in hierdie lewe kan kry. Die vraag oor ‘n werklik sinvolle lewe vervaag. Paulus se gebed vir verhelderde oë herinner ons dat daar baie meer op die spel is as wat ons kan sien.

Laai af: Word – PowerPoint

1 Petrus 3:13-22 – 17 Mei

Sesde Sondag in Paastyd

Die Lewe is nie Altyd Regverdig nie. Lees die kindervriendelike vertaling van die Nuwe Testament vir Kinders. Daar is ook woorde uit die fokusteks weggesteek in die ingeslote tabel. Kyk hoeveel jy kan herken. Die woorde kan in enige rigting lees, selfs agterstevoor (soos Hebreeus). Ons leef in die tyd van die koronavirus van ‘n ernstige siekte, Covid-19 veroorsaak. Die stryd om die verspreiding van die virus te verstadig plaas geweldig druk op baie mense: emosioneel en finansieel. 1 Petrus is geskryf in ‘n tyd van lyding, lyding ter wille van Christus. Die brief vra hoe geloof in ‘n opgestane Christus – wat aan die regterhand van God in die hemel sit – gelowiges help om te midde van lyding sin te vind en hoop te behou. Die skrywer van 1 Petrus meen dat nadenke oor die hemel die potensiaal het om lewenskwessies aan te roer: hemelse realiteite verander inderdaad ons aardse benoudhede! Die lesers van die Petrusbrief het egter te kampe gehad met groot moeilikhede. Allerhande beproewings kom oor hulle pad: Hulle word sleg behandel, daar word kwaad gepraat van hulle, hulle word beledig, beswadder, gelaster, geskel. Dié soort behandeling word deur hulle beleef as intense swaarkry, oftewel “vurige beproewing”. Die punt is: Dit gaan oor hoe ons lewe in navolging van Christus. Dit lei direk daartoe dat venynig teenoor Christene opgetree word en dat hulle hierdie kwaadwillige optrede as lyding beleef. “If suffering for Christ should be the believer’s experience, Peter reframes it as a reason not for bitterness or despair but for joy.” Petrus help gelowiges om anders oor die werklikheid van lyding in Jesus se Naam te dink, deur dit in ander raamwerke te plaas. Hy vertel die verhaal van God se werk. Die vertel van God se storie kan gelowiges help om sowel die storie van die verlede as die toekoms só te herformuleer dat dit nuwe betekenis aan die hede gee. Vanuit God se verhaal, kan ons ons eie verhale herinterpreteer. Ons kan dit ook só sê: Petrus plaas die gelowiges se ervaring van lyding binne ‘n Christus-raamwerk om hulle sodoende te help sin maak van hulle lyding.

Laai af: Word – PowerPoint

1 Petrus 2:2-10 – 10 Mei

Vyfde Sondag in Paastyd

Gebruik voorbeelde van “voor en na” om die veranderinge wat God vir ons gebring het, uit te lig. Jy kan ook oplees oor die hoeksteen van geboue in antieke tye wat ‘n baie leersame aanknopingspunt vir die erediens sal wees om die teks vir kinders en volwassenes verstaanbaar te maak. Hierdie brief is ‘n bemoediging vir gelowiges wat swaarkry omdat ander mense hulle verontreg. Petrus verwys herhaaldelik in die brief na lyding en beproewing. Dit gaan hier egter nie oor lyding in die algemeen nie, maar oor die swaarkry wat jy ervaar wanneer mense teen jou diskrimineer omdat jy aan God gehoorsaam wil wees. Baie mense wat al verontregting moes ly, weet dat die versoeking baie groot is om eenvoudig boedel oor te gee of die reg met vergelding in eie hande te neem. Aan die een kant wil Petrus die gelowiges moed inpraat en aanspoor om in hulle heidense omgewing die Christelike leefwyse getrou na te volg. In vervolging moet hulle vasstaan, en aan die owerheid moet hulle gehoorsaam wees. Aan die ander kant wil Petrus hulle verseker van die waarheid van die evangelie waarin hulle glo. Etiek en dogmatiek, lewe en leer, word ten nouste met mekaar verbind. Die een aspek kan nie sonder die ander een wees nie.

Laai af: Word – PowerPoint