Genesis 37:1-4, 12-28 – 9 Augustus

Tiende Sondag in Koninkrykstyd

Soos met alle verhalende tekste in die Bybel, kan jy gewoon die verhaal van Josef vertel. Carolyn Brown gee uitstekende voorstelle vir hierdie teks. So noem sy dat kinders baie van hierdie verhaal hou, omdat hulle goed kan identifiseer met moeilike broers en susters. Sy gee ook voorstelle vir hoe om die verhaal te vertel, plus ‘n skakel na ‘n “draaiboek” om dit verhaal lekker te lees. Daar is voorstelle vir ‘n video, liedjies, mense kan fancy jasse dra, asook ‘n manier om mense te begelei om oor woede te bid. Daar is ook ‘n skakel na ‘n oulike video en inkleurprent te gebruik. Onthou ook die Bible App For Kids.  Dit vertel die storie op ‘n interaktiewe manier. Ons teks handel oor Josef, die dromer en witbroodjie van sy pa, wat ‘n slaaf in Egipte word. Die feit dat hy slegte stories oor sy broers by sy pa aandra, is die enigste negatiewe ding wat in die hele verhaal oor hom persoonlik vertel word. Dit is soos die verhaal begin, maar deur sy swaarkry verander Josef. In elke ander situasie tree hy met groot oorleg en wysheid op, selfs in die toetsing waaraan hy sy broers in Egipte later in die verhaal onderwerp. God is aanwesig in sy swaarkry en God vorm hom deur die swaarkry. Josef groei na wysheid. Die man met die gawe van drome word ‘n droomuitlegger waardeur hy die guns van die Farao wen en betyds beplan kan word om ‘n groot ellende af te weer. Ook deur ‘n ydel sewentienjarige is God besig om vir God se mense te sorg.

Laai af: Word – PowerPoint

Genesis 32:22-31 – 2 Augustus

Negende Sondag in Koninkrykstyd

Gebruik die verhaal uit Philip de Vos se boek “Wolfgang Amadeus Muis” om te illustreer hoe God in die doop vir ons ’n nuwe naam gee. Kortweg gaan dit oor die Mamma Muis wat nie kon besluit wat sy haar jongste muisbaba moes noem nie, sy het ’n spesiale naam vir hom gesoek, want sy het geweet hy is bestem vir groot dinge en toe hoor sy oor die radio die naam Wolfgang Amadeus en besluit daar en dan om hom so te noem. En dit is wat God met ons doen – Hy gee ons ’n spesiale naam, want vir Hom is ons spesiaal. As oupa se tande dan eendag daar tussen die muise beland en Wolfgang Amadeus met ’n spyker daarteen slaan en dit maak musiek raak hy bekend as die musikaalste muis ooit en doen sy naam gestand. In vandag se fokusteks het God Jakob se naam verander omdat Hy nuwe planne met Jakob gehad het. Die boodskap van dié verhaal op verskeie vlakke: In die eerste plek bemoedig die verhaal ons met die perspektief dat ons nie hoef staat te maak op ons eie vermoëns nie. God se teenwoordigheid met alles wat Hy tot sy beskikking het, is ook aan ons belowe. In die tweede plek bemoedig die verhaal ons met die perspektief dat in ons worstelstryd met God se wil vir ons lewe, ons op sy uiteindelike seën kan staatmaak. Dit is so dat die verhaal ‘n mens diep laat nadink oor jou persoonlike ambisie en die drang tot selfverwesenliking en waar die grense lê tussen mens en mens en tussen mens en God. Maar die evangelie van Jakob se transformasie van bedrieër na begenadigde is dat God ons nie kies vir wie en wat ons is nie, maar vir wie en wat Hý van ons kan maak. Op ‘n derde vlak kan ons kennis neem van die parallelle wat daar tussen ons ervaring en Jakob s’n is. Calvyn het in sy kommentaar op Genesis ons versoekings met die worsteling van Jakob verbind. Versoekings, sê Calvyn, is nie net ‘n worsteling met jou eie begeertes en behoeftes en die verleiding van die wêreld nie, maar baie keer ‘n worsteling met God self en sy wil vir jou lewe. In ‘n sekere sin, sê Calvyn, veg God téén ons en vír ons. Hy maak ons sterker in dié ervarings wat voel asof God téén ons is, deurdat dit juis Hy is wat ons die krag gee om te kan oorwin: “For we do not fight against him, except by his own power, and with his own weapons; for he, having challenged us to this contest, at the same time furnishes us with means of resistance, so that he both fights against us and for us … in as much as he supplies us with more strength to resist than he employs in opposing us, we may truly and properly say, that he fights against us with his left hand, and for us with his right hand. For while he lightly opposes us, he supplies invincible strength whereby we overcome.” (John Calvin’s Commentaries on Genesis 24-50).

Laai af: Word – PowerPoint

Romeine 8:26-39 – 26 Julie

Agste Sondag in Koninkrykstyd

Bybel-Media se Woord en Fees stel voor dat jy ‘n duif vou om die kinders te herinner aan die Heilige Gees. Voorbeeld ingesluit. Of gesels oor die gedagte dat niks ons van die liefde van God kan skei nie.  Kinders kan voorbeelde noem van dinge wat hulle bang maak, en die liturg kan almal aanmekaar herinner dat niks ons van God kan skei nie.  Maak julle eie lys:  “Geen virus, of lockdown, of hartseer, of….. kan ons skei….” Kyk hoe lank julle die lys kan maak – en of almal elke keer al die dinge kan sê! Of vertel die storie of wys die video van die pragtige “Kissing hand” – ‘n klein wasbeer is bang, maar mamma wasbeer verduidelik hoe ‘n soen op ‘n hand is soos haar teenwoordigheid wat altyd by hom is.  Dit is ook ‘n oulike storie vir ‘n doopherinnering. Of die heerlike “Mama, do you love me?”, waarin ‘n kind vertel van allerhande dinge wat sy kan verkeerd doen (“What if I put salmon in your pockets?”) en vra of haar ma steeds vir haar sal lief wees.  ‘n Pragtige kort storie wat illustreer hoe niks ons van liefde kan skei nie. Die preekriglyn begin met die verhaal van die Noordwes Lugdiens se Vlug 225 wat neergestort het kort na dit op 16 Augustus 1987 in Detroit opgestyg het. Die dodetal was 155. Net een persoon, Cecilia, ouderdom 4, van Arizona het die ramp oorleef. Cecilia het oorleef omdat haar ma, Paula Chican, haar eie gordel losgemaak het toe die vliegtuig begin val, voor Cecilia gekniel en Cecilia omhels het. Niks kon Cecilia van haar ma se liefde skei nie, ook nie die oomblik van impak toe die straler in vlamme uitgebars het nie. Dit is hierdie soort liefde waarvan ons teks in die oortreffende trap vra: “Wie kan ons van die liefde van Christus skei?” Ons teks wil troos en ons gerusstel. Dit is nie ‘n wet of ‘n opdrag nie. Ons teks wil nie sê: “As julle …, dan sal God nie ….” Ons teks wil nie sê:  “Julle moet …, dan sal God …” nie. Nee, hierdie is nie ‘n oproep vir Christene tot getrouheid nie. Dit is wel ‘n troosvolle bevestiging van God se getrouheid, ongeag omstandighede of tekens van die teenoorgestelde. Ons lees hierdie teks in die baie moeilike tyd van Covid-19. Die eerste provinsies van ons land nader die pieke van infektering, en die lang skadu van Covid-19 val oor die ander. Ons word gekonfronteer met swak bestuur van die ekonomie en grootskaalse korrupsie in die privaat en publieke sektore. Dit is in hierdie omstandighede dat ons die woorde oor die triomfantelike liefde van Christus hoor. Paulus rig hierdie woorde aan ‘n gemeente wat dit nie altyd maklik gehad het nie. Hy verduidelik dat die klanke van God se verlossing en liefde vir sy gemeente ver buite die grense van die gemeente uitkring. Ja, God se werke is trouens vir die hele kosmos betekenisvol. God se troos aan gelowiges is: As God vir ons is, wie kan teen ons wees?

Laai af: Word – PowerPoint